Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa wil fout bepaal voordat hy nuwe hoof kry

Absa se direksie sal eers die aanstelling van ’n nuwe uitvoerende hoof oorweeg nadat hy vasgestel het wat verkeerd gegaan het wat tot die skielike bedanking van die huidige hoof, Daniel Mminele, gelei het.

Wendy Lucas-Bull, voorsitter van Absa se direksie.

Mminele se bedanking ná net meer as ’n jaar in die pos word toegeskryf aan meningsverskille oor strategie en die transformasie van die kultuur van die onderneming.

Absa probeer al van om en by 2017 om sy vertoning te verbeter sedert hy van sy voormalige Britse moedermaatskappy, Barclays, geskei is.

’n Groeistrategie wat ontwikkel is, is in 2018 aanvaar toe Maria Ramos, vorige uitvoerende hoof, nog aan die stuur van die groep was. Sy het egter skaars ’n jaar later “afgetree”.

Ontleders en beleggers het gehoop die opvolger gaan nuwe lewe in die bank blaas.

LEES OOK: Absa-hoof waai: Nee, dis nié oor geldmarkfonds

Toe Mminele aangestel is, was die groeistrategie dus reeds in plek.

Pas van verandering

Wendy Lucas-Bull, voorsitter van Absa se direksie, het aan Reuters gesê meningsverskille oor strategie en kultuurverandering het die pas van verandering vertraag.

“As jy aan die bokant onsekerheid het, kan jy nie dinge teen die regte pas laat gebeur nie, en hoe langer dit voortduur, hoe meer het ons die onderneming in gevaar gestel.”

Fin24 berig Lucas-Bull ontken dit hou verband met Absa wat konserwatief is of nie wil transformeer nie.

Die Barclays-sage was pynlik en het Absa vir jare gekniehalter. Dit lyk of die letsels steeds sukkel om te genees.
Casparus Treurnicht van Gryphon

Sy moes vure doodslaan oor wat Absa se verklaring beteken ten opsigte van transformasie. Volgens haar gaan dit oor die kultuurverandering wat nodig was sedert daar van Barclays wegbeweeg is.

“Die organisatoriese kultuurverandering het behels dat Absa se individuele eenhede bemagtig is om hul eie bestemming te bepaal deur die burokratiese groepstruktuur te verwyder wat bedrywighede vertraag het.”

Volgens haar duur die verskille tussen Mminele en die direksie al geruime tyd.

Hy het ook glo nie die ondersteuning van die individuele eenhede se hoofde gehad nie.

Die konflik het tot ’n risiko vir die onderneming gelei en die direksie het eenparig besluit dis beter om weë met hom te skei om dit wat reeds bereik is sedert die strategie aanvaar is, te beskerm.

Sy sê die direksie gaan eers ’n nuwe aanstelling oorweeg nadat bepaal is wat verkeerd gegaan het.

Volgens haar is dit nog nie duidelik of die bank ’n interne of eksterne kandidaat gaan oorweeg nie.

Daniel Mminele, uitvoerende hoof van Absa tot 30 April.

Bloomberg berig die skeuring skep ’n leierskap-hoofpyn, want dit is minder as twee maande nadat die adjunk- uitvoerende hoof, Peter Matlare, aan Covid-19 dood is.

“Ons het gedink ons het die regte kandidaat gehad, want ons het ’n streng proses gevolg. Ons direksie het ’n paar lesse geleer.”

Wat met sy aanstelling gesê is

Toe Absa Mminele se aanstelling in Januarie 2020 aangekondig het, is daar in die verklaring na die groeistrategie verwys waaroor daar nou koppe gestamp is.

Absa het in Maart 2018 die strategie bekend gestel wat daarop fokus om die markaandeel van kernbedrywighede te herwin. “Daarna is die bedryfsmodel hersaamgestel en ons uitvoerende komitee verander om die onderneming gereed te kry vir die implementering van die strategie.”

Lucas-Bull het in die verklaring gesê die beginpunt vir Mminele gaan wees om te bepaal waar die groep staan met die inwerkingstelling van die strategie en “te beoordeel hoe hy ’n rol kan speel om die span se vermoë te versterk om op daardie reis voort te gaan”.

“As leier sal hy sy eie beoordeling doen van wat nodig is, maar hy het ’n heeltemal oop mandaat as die groep se uitvoerende hoof om die organisasie te lei,” is toe gesê.

Wat het verander

Dit is onduidelik hoe dinge so vinnig kon verander, skaars ’n maand nadat Absa sy resultate vir die boekjaar uitgereik het.

In die resultate en op ’n aanbieding aan beleggers het Mminele uitgebrei oor ’n hersiening van die strategie die afgelope jaar en wat dit behels.

“Toe ek my in Januarie 2020 by Absa aangesluit het, het ek saamgestem met die direksie dat ek die inwerkingstelling van die 2018-strategie sal hersien.”

Die hersiening van die strategie het ook met Covid-19 te doen gehad wat ’n wesenlike verandering in die bedryfsomgewing meegebring het vergeleke met die een waarin die oorspronklike groeistrategie gestel is.

Hy het verwys na hoe die pandemie gedragspatrone verander het en hoe die bedryf se evolusie versnel is.

Volgens hom het die proses om die strategie te hersien behels dat daar gekyk word na veranderinge in die mark, prestasiegapings en wat nodig is om ná die krisis te floreer.

“Die hersieningsproses het tot die gevolgtrekking gekom dat hoewel ons strategiese keuses van die 2018-strategie relevant bly, die wêreld waarin ons dit wil bereik, verander het.

“As gevolg daarvan is sekere verskuiwings en versnellings nodig om die onderneming te moderniseer, nie net om relevansie te behou in die ‘nuwe en volgende normaal’ nie, maar om te floreer en vooruit te gaan as onderneming.”

Volgens hom behels die verfriste strategie onder meer “ ’n verfyning van Absa se kliëntgerigte sakemodel”.

“Die opgeknapte strategie verseker dat ons ’n relevante en mededingende sakemodel het wat sal verseker dat ons as ’n sterk en veerkragtige onderneming uit die krisis kom.”

Strategie onduidelik

Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, sê hy vermoed daar is weinig konsensus binne Absa oor sy pad vorentoe.

“Die strategie is onduidelik. Dit beteken nie dat dit die einde van die wêreld is vir hulle nie. Dis ’n vuurtjie wat stadig brand en geblus moet word deur foute te erken.”

Treurnicht sê die tradisionele vyf groot banke het groot besluite om te neem te midde van die veranderings in die bankwese, mededinging wat verskerp en die owerhede wat verandering afdwing.

“Maar Absa het heel moontlik groter probleme. Die Barclays-sage was pynlik en het Absa vir jare gekniehalter. Dit lyk of die letsels steeds sukkel om te genees.”

Nie op selfde bladsy

Lucas-Bull sê aan Fin24 die verskille met eenhede se hoofde het gegaan oor hoe die breër groeistrategie op bedryfsvlak bereik moes word.

“Dit is skakeling op bedryfsvlak oor hoe dit bereik moet word waaroor Mminele nie met sommige lede van sy uitvoerende span saamgestem het nie. Dit het gegaan oor duidelikheid oor die sakemodel, oor die uitvoerende struktuur, prioriteite...”

Sy het aan Bloomberg gesê hulle was “nie op dieselfde bladsy nie”.

Meer oor:  Absa  |  Wendy Lucas-Bull  |  Daniel Mminele  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.