Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Acsa behou sy gradering, al herstel reis baie traag

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het ’n afgradering deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s vrygespring.

Dis die enigste Suid-Afrikaanse staatsinstelling sover wat in die jongste reeks afgraderings nie ook afgegradeer is nie.

Die Kaapstadse Internasionale Lughawe in Februarie vanjaar, voor die aanvang van die Covid-19-krisis.

Moody’s het wel sy vooruitsig op Acsa op negatief behou.

Moody’s het sy internasionale korporatiewe gradering vir Acsa op Ba2 behou, en sy nasionale gradering inderwaarheid van Aa3.za tot Aa2.za verbeter, hoewel dit bloot ’n tegniese hersiening is van sy skaal vir plaaslike graderings.

Dit kan wel impliseer dat Acsa as ’n beter belegging beskou word as ander staatsondernemings.

Moody’s meen die handhawing van sy gradering van Acsa op dieselfde vlak ondanks die afgradering van staatskuld regverdig ’n verbetering van een kerf in sy “fundamentele kredietgehalte”.

Moody’s glo Acsa besit ’n netwerk van belangrike infrastruktuurbates. Hy het ’n monopolistiese posisie wat internasionale lugverkeer na Suid-Afrika betref, en ’n oorheersende markposisie vir binnelandse verkeer.

Meer as 90% van alle kommersiële lugverkeer in Suid-Afrika beweeg deur Acsa se lughawens, want daar is net enkele ander kleiner private lughawens soos Lanseria wat met hom kan meeding.

Voorkeuraandele

Moody’s wys op die staat se meerderheidsbelang van 74,6% in Acsa en op sy strategiese rol in die land.

Acsa beplan boonop om volgende jaar voorkeuraandele van sowat R2,3 miljard uit te reik, en daar is potensiaal dat die staat hom steeds sal steun. Die uitreik van die voorkeuraandele sal Acsa se likiditeit verbeter, glo Moody’s.

Acsa het teen einde September kontant van R480 miljoen gehad, met ’n kredietgerief van R3 miljard wat teen Julie volgende jaar terugbetaalbaar is.

Maar Moody’s waarsku Acsa is blootgestel aan ’n baie swak lugdiensmark, insluitend die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat reeds voor die Covid-19-pandemie geknak was. Dit het Acsa se likiditeit geknou en maak hom van banklenings afhanklik.

Acsa sal oor die volgende 12 maande van dié lenings moet hernu.

Acsa het wel kwytskelding gekry tot einde Junie 2022 vir lenings wat hy by die Franse ontwikkelingsbank AFD gekry het.

Trae herstel in lugverkeer verwag

Die ekonomiese regulasie van Acsa via gereguleerde tariewe skep ook onsekerheid in die toekoms.

Moody’s waarsku ook dat Acsa se kredietgehalte blootgestel bly aan risiko’s wat verband hou met die Covid-19-pandemie, wat lugverkeer skerp laat krimp het. In die halfjaar tot September het Acsa 93% minder passasiers deur sy lughawens sien beweeg vergeleke met ’n jaar gelede.

Hoewel internasionale reisperke sedert 1 Oktober opgehef is en daar ’n stelselmatige herstel in binnelandse vlugte sedert Junie was, verwag Moody’s steeds dat Acsa se totale verkeer in die lopende boekjaar 75% minder sal wees as die vorige jaar.

Hy verwag dus Acsa se vrye kontantvloei sal negatief wees, al het hy ook beleggings- en bedryfskoste gesny weens die maande lange onaktiwiteit tydens die inperking.

Enige verbetering in Acsa se verdienste in die boekjaar tot einde Maart 2022 sal grootliks afhang van ’n herstel in lugverkeer, wat nog baie onseker lyk gegewe die volgehoue reisperke in ander lande. Al kan dit lyk of die verspreiding van die virus in bedwang gehou word, is daar nog onsekerheid oor die beskikbaarheid en voordele van enige mediese oplossing soos entstowwe.

Tariewe

Die swakker ekonomie en die agteruitgang van lugdienste se eie kredietprofiele is ook remskoene vir herstel.

Moody’s verwag daar kan volgende jaar meer duidelikheid kom oor Acsa se toekomstige tariewe.

Acsa sal na verwagting in Junie volgende jaar vir tariefverhogings aansoek doen, en die finale uitslag daaroor kan teen einde 2021 verwag word. In die verlede was daar baie ondeursigtigheid en onvoorspelbaarheid oor tariewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.