Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Acsa kry dalk minder vir sy 10% in Indiese lughawe

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het ’n hersiende, laer aanbod gekry van die Indiese beleggingsgroep Adani vir sy 10%-belang in die Mumbai-lughawe in Indië.

Die aflaaidek vir passasiers by die Mumbai-lughawe in Indië. Acsa het ’n aanbod gekry om sy 10%-belang in die lughawe te verkoop, weliswaar teen ’n laer prys as voorheen.

Acsa het ook ’n aanbod van die Suid-Amerikaanse infrastruktuurgroep Invepar gekry vir sy 20%-belang in die Guarulhos-lughawe in Sao Paulo in Brasilië, wat hy oorweeg.

Acsa het Vrydagmiddag dié inligting op die JSE se Sens-nuusdiens bekend gemaak.

Acsa maak as staatsonderneming en bestuurder van Suid-Afrika se groot kommersiële lughawens nie normaalweg sulke aankondigings oor sy transaksies aan die publiek bekend nie, maar omdat hy effekte het wat op die JSE se effektemark verhandel word, word hy verplig om sulke inligting aan sy effektehouers bekend te maak.

Adani is die beleggingsgroep van die Indiese miljardêr Gautam Adani, en het einde Augustus al aangekondig hy het ’n ooreenkoms gesluit om ’n meerderheidsbelang van 74% in dié besige lughawe te koop. Acsa se 10%-belang, asook die Suid-Afrikaanse nywerheidsgroep Bidvest se 13,5%-belang in die Mumbai-lughawe, vorm deel van die transaksie.

Die vernietigende impak van die Covid-19-pandemie op lughawens wêreldwyd het meegebring dat eens uiters winsgewende lughawe-ondernemings met kontantvloei begin sukkel het en later nie eens meer personeel se salarisse kon betaal nie. Met die druk wat toeneem, het beleggingsgroepe soos Adani die geleentheid benut om sulke bates teen laer pryse as gewoonlik op te raap.

Acsa is self finansieel onder druk weens die staking van vlugte na sy plaaslike lughawens tydens die inperking in Suid-Afrika.

Die Guarulhos-lughawe is die besigste lughawe in Suid-Amerika, en word sedert 2012 deur ’n konsortium bestuur wat uit Acsa, Invepar en die Brasiliaanse staatsbeheerde lughawensmaatskappy bestaan.

As Acsa die belange in die twee buitelandse lughawens verkoop, is hy ontslae van al sy konsessies vir die bestuur van buitelandse lughawens. Hy lewer wel steeds tegniese en adviesdienste aan lughawens in die res van Afrika – naamlik in Ghana, Liberië, Zambië en Rwanda.

Die regering is met 74,6% die grootste aandeelhouer in Acsa, gevolg deur die Openbare Beleggingskorporasie wat staatsamptenare se aftreegeld namens die staatspensioenfonds bestuur, asook kleiner bemagtigingsaandeelhouers.

Teen einde Maart verlede jaar was Acsa se belang in die Mumbai-lughawe R8 miljard werd, maar sy belang in Guarulhos het ’n negatiewe waarde van R5 miljard gehad, want dié lughawe ly sedert 2014 al verliese.

Meer oor:  Acsa  |  Obk  |  Mumbai  |  Lughawens  |  Lugvaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.