Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Acsa verwag taai toekoms met trae herstel in lugvaart

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) gaan nie personeel aflê nie, maar voorsien nog ’n paar moeilike jare wat voorlê voordat die passasiersverkeer weer na 2019-vlakke terugkeer.

lughawe
Die leë vertreksaal by die O.R. Tambo-lughawe vroeër. Foto: Reuters

Met talle plaaslike lugdienste óf in sakeredding óf op die punt om gelikwideer te word, verwag Acsa nie ’n herstel in verkeer deur sy lughawens voor oor vier tot vyf jaar nie, het Mpumi Mpofu, uitvoerende hoof, Dinsdag met die bekendmaking van Acsa se resultate vir die boekjaar tot einde Maart gesê.

Acsa was op koers vir groei van 3,3% in passasiersgetalle teen Februarie, maar met die Covid-19-pandemie wat die lugverkeer tot stilstand geruk het, het dit op ’n inkrimping van 0,9% in verkeer vir die boekjaar uitgeloop.

Mpofu waarsku dat die druk op mense se besteebare inkomste ook sal bepaal hoe lank dit gaan neem voordat die lugverkeer herstel.

Teen Oktober was die passasiersverkeer internasionaal 62% minder as ’n jaar gelede. “Dit gee ons nie vertroue vir ’n sterk en vinnige herstel nie.”

Sy verwag Acsa sal eers teen 2030 weer sterk na internasionale beleggings kan kyk. Die onderneming verkoop tans sy beleggings in Indië en Brasilië.

Siphamandla Mthethwa, finansiële hoof van Acsa, verduidelik die ekonomie was reeds onder druk voordat Covid-19 toegeslaan het.

Die wins vir die tydperk was skerp hoër op R1,2 miljard, vergeleke met R200 miljoen in die vorige jaar, maar dit was grootliks as gevolg van die herwaardering van sy kapitaalbates soos beleggingseiendom vanweë nuwe kontrakte wat gesluit is en bestaande kontrakte wat hernu is.

Mthethwa waarsku dat Acsa in die komende jare erge likiditeitsprobleme kan ondervind weens die lugvaartbedryf wat so traag weer op die been kom. Acsa het reeds met die Franse ontwikkelingsbank AFD ’n kwytskelding tot Junie 2022 vir leningsterugbetalings beklink.

Acsa oorweeg dit om minstens die helfte van sy portefeulje van beleggingseiendom, wat tans op sowat R7,7 miljard beraam word, te verkoop. Dit sal minstens R3 miljard oplewer wat gebruik sal word om bedryfsuitgawes oor die volgende paar jaar te finansier.

Volgens Mthethwa het Acsa oor die afgelope paar jaar goed daarin geslaag om sy skuldvlakke te verlaag, wat hom gehelp het om die ergste van die Covid-19-inperking te oorleef. Van ’n skuldverhouding van 65% in 2010 toe Acsa baie geld moes bestee om sy lughawens vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi op te knap, het dit tot 17% vir die afgelope boekjaar gedaal.

Hy waarsku dat die skuldverhouding oor die volgende vyf jaar weer tot 53% kan klim.

Acsa oorweeg dit om minstens die helfte van sy portefeulje van beleggingseiendom, wat tans op sowat R7,7 miljard beraam word, te verkoop.

Acsa verwag bedryfsverliese en ’n likiditeitsrisiko oor die volgende paar jaar, waarsku Mthethwa. Acsa gaan sy kapitaalbesteding oor die volgende drie jaar tot R2,8 miljard beperk, en wil sy leningsbronne diversifiseer.

Acsa het by die nasionale tesourie om ’n staatswaarborg aansoek gedoen, en wil oor die volgende drie jaar minstens R3,5 miljard se nuwe lenings vind. Daar word met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika asook met ander banke onderhandel.

Mthethwa verwag Acsa se skuld kan oor die volgende vyf tot ses jaar tot R11 miljard styg.

Acsa is tans in die proses om sy beleggings in die Mumbai-lughawe in Indië asook in die GRU-lughawemaatskappy in Brasilië te verkoop om sy geldsake te verbeter. Mthethwa meen Acsa sal wel meer kry uit die verkoop as wat hy daarin belê het, hoewel hy nie syfers wou noem nie.

Die Indiese transaksie kan teen die einde van vanjaar afgehandel word. Die Brasiliaanse belegging is reeds ten volle van sy balansstaat afgeskryf, sê Mthethwa.

Die Indiese belegging was in Maart verlede jaar nog op R8 miljard gewaardeer, maar die Brasiliaanse een op -R5 miljard, want die Guarulhos-lughawe in São Paulo ly al sedert 2014 verliese.

Mpofu belowe Acsa het nie enige planne om mense af te lê nie, hoewel daar vroeër planne was om personeeluitgawes deur onder meer vroeë aftreepakkette skerp te sny.

Volgens Mthethwa kon Acsa sy bedryfskoste in die boekjaar met 25% sny en daar is nog om te sny. In die nuwe boekjaar kan nog R300 miljoen gesny word.

Meer oor:  Acsa  |  Vervoer  |  Resultate  |  Lugdienste  |  Lugvervoer  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.