Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Adcock kan genoeg Panado maak vir nog ses maande

Die farmaseutiese groep Adcock sê hy het genoeg parasetamol om tot einde September nog Panado te vervaardig.

Wesenlike risiko tot Adcock se voorsieningsketting word eers einde Mei verwag.

Parasetamol is die aktiewe bestanddeel van Panado.

Adcock is vir kommentaar genader omdat Indië begin Maart die uitvoer van talle aktiewe bestanddele wat in pille en medisyne gebruik word, beperk het omdat hy dit self wou hou weens die Covid-19-pandemie.

Die beperking geld vir 26 aktiewe bestanddele en vir die pille wat daarvan gemaak word.

Adcock het by navraag gesê hy verkry ’n beduidende hoeveelheid van sy aktiewe farmaseutiese bestanddele vanaf Indië en vervaardig ook medisyne by sy fabriek in Bangalore daar.

Panado word in Bangalore en in Suid-Afrika vervaardig.

“In ons geval is parasetamol die enigste beduidende aktiewe bestanddeel en voltooide formulering wat onlangs deur die Indiese departement van handel en nywerheid beperk is.

“Hierdie produk is noodsaaklik vir die pynstillende en koorswerende eienskappe daarvan wanneer virusinfeksies behandel word.”

“Ons werk met die betrokke regeringsdepartemente in Suid-Afrika saam en ontvang hulp van die departement van handel en nywerheid en gesondheid om die situasie op te los,” het Adcock reeds meer as ’n week gelede gesê.

Daar is geen wesenlike risiko tot einde Mei vanjaar nie, maar dit bly onderhewig aan die omvang van die uitbreking in Suid-Afrika en Indië.

“Verder het ons ook die hulp van die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris in Indië versoek om te help met ons aansoek om die beperking op parasetamol en sekere antimikrobiese middels te verwyder.”

Adcock het ’n week gelede gesê die potensiële impak van die koronavirus op sy verskaffingsketting word daagliks nagegaan.

“Daar is geen wesenlike risiko tot einde Mei vanjaar nie, maar dit bly onderhewig aan die omvang van die uitbreking in Suid-Afrika en Indië.”

Dorette Neethling, finansiële direkteur van Adcock, het Dinsdag gesê die verwysing na einde Mei verwys na sy voorraad in sy verskaffingsketting.

“Ons het genoeg aktiewe bestanddele in Suid-Afrika om aan te hou om Panado te vervaardig tot minstens einde September.”

Volgens haar sal hulle ook van ander verskaffers bestel as die situasie met Indië dan nog nie opgelos is nie. Aktiewe bestanddele kan ook van China en Amerika aangekoop word.

Neethling ontken dat daar ’n tekort van Panado is in buurlande soos Namibië.

“Ek het met ons groothandelaars in Namibië geskakel en hulle het genoeg voorraad.”

Clicks en Dis-Chem wou Dinsdag nie vrae beantwoord oor die voorraad Panado waaroor hulle beskik nie.

’n Ander kwessie waaroor Adcock met Indië skakel is die beskikbaarheid van die middels asiklovir, metronidasool en asitromisien. Of dié situasie met Indië al opgelos is, sê sy Indië is nog in ’n staat van inperking en geen produkte word van daar uitgevoer nie.

Voor die inperking kon Adcock permitte bekom ondanks die beperking op die uitvoer van goedere.

Adcock het verlede Donderdag gesê hy is as ’n noodsaaklike diensverskaffer vir die staat van inperking hier geklassifiseer.

“Ons is onder druk om te verseker dat die nodige maatreëls en stelsels in plek is om seker te maak dat ons voortgaan om medisyne te vervaardig en te lewer, veral lewensreddende produkte soos binneaarse vloeistowwe en antiretrovirale middels (ARM’s). Ons verskaffingsketting is onder druk, maar ons spanne doen hul bes om die krisis te bestuur.”

Die hospitaalafdeling van Adcock verskaf binneaarse vloeistowwe aan nagenoeg 80% van die staatshospitale in die land, en aan die helfte van die private hospitale van Netcare en Mediclinic.

Ander produkte waarop Indië ’n uitvoerbeperking geplaas het, sluit in klindamisien (clindamycin), ’n antibiotika, en tinidasool (tinidazole), ’n infeksiewerende middel, het in-Pharma berig.

Daar is ook ’n aantal vitamiene op die lys, waaronder verskillende Vitamien B’s.

LEES OOK: Immuniteit: Fabrieke werk oortyd om pille te maak

Die jongste aankondiging van Indië is dat hy die uitvoer van die malariamiddel hidroksichlorokien staak.

Dit is nadat dit as ’n potensiële middel teen Covid-19 beskou is, maar dit is nog nie bewys nie, berig Financial Times.

Die dag daarvoor het Indië die uitvoer van ventilators stopgesit, insluitende enige apparaat vir kunsmatige asemhaling of die gee van suurstof.

Dis nie seker of Suid-Afrika van dié produkte van Indië af invoer nie.

Die farmaseutiese maatskappy Aspen het die lys van produkte waarop Indië ’n beperking geplaas het, bekend gemaak, maar nie op navraag reageer oor watter van sy voorraad hierdeur geraak word nie.

Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen, het in ’n verklaring gesê Covid-19 stel ongekende uitdagings. “Dit vereis ’n buitengewone reaksie van elke sektor van die samelewing, asook die plaaslike farmaseutiese bedryf. Dit is vererger deur Indië se verbod op die uitvoer van ’n reeks farmaseutiese produkte en hul aktiewe bestanddele.”

Die verklaring is uitgereik ná die eerste informele tydperk van inperking wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, en wat tot ’n skerp toename die verkope van medisyne plaaslik gelei het.

Aspen het begin Maart aan beleggers gesê die uitbreking van die koronavirus in China het ook ’n impak gehad op sy voorraad van aktiewe bestanddele wat vandaar ingevoer word.

Meer oor:  Handel  |  Medisyne  |  Invoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.