Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Adcock styg skerp ná hy deel van groot tender kry
Adcock Ingram, wat onder meer Panado vervaardig, bly maar in die nuus.

Die farmaseutiese maatskappy Adcock se aandeelprys het Maandagoggend skerp gestyg ná die aankondiging dat hy ’n deel van die tender gewen het om oor die volgende drie jaar antiretrovirale middels (ARM’s) aan die staat te verskaf.

Adcock se aandeelprys het in ’n stadium met 6% gestyg. Teen 11:00 was dit 3% hoër vir die dag op R67.

Die maatskappy het verlede week gesê hy hou asem op oor die aankondiging van die tender vir die verskaffing van ARM’s vir die staat van April 2019 tot einde Maart 2022. ’n Aankondiging is reeds van Desember af verwag.

Adcock het Maandagoggend in ’n verklaring gesê sy deel van die tender beloop sowat R1,8 miljard (BTW ingesluit). Dit behels sowat 12% van die totale ARM-tender.

Volgens Adcock is die waarde van die hele tender oor drie jaar R18,3 miljard, BTW ingesluit.

Die maatskappy het ook ’n aanbod ingedien vir die vervaardiging van die kombinasie-middel wat tenofovir, lamivudien en dolutegravir (TLD) bevat.

Dit is ’n nuwe produk wat as goedkoper en meer doeltreffend beskryf word.

Adcock het die kontrak gekry om 16,8 miljoen pakke van die tender se 147 miljoen pakke TLD te verskaf.

Die departement van gesondheid het reeds in 2017 aangekondig dié kombinasie-middel gaan van April 2018 beskikbaar wees, maar daar word nou na Julie vanjaar gemik, sê Adcock. Dit is ’n vertraging van langer as ’n jaar.

Die hele tender is nou toegeken.

Volgens Adcock word drie maande gewoonlik toegelaat as inwerkingstellingstydperk sodat maatskappye hul sake reg kan kry om aan die kontrak te voldoen. “Omdat die tenderaankondiging vertraag is, is die inwerkingstelling van die kontrak aangeskuif.”

Luidens Adcock se verklaring is ooreengekom op ’n prys vir die nuwe middel wat die land sowat R11 miljard oor ses jaar sal bespaar.

Dit sal die staat help om ARM’s aan meer mense te kan verskaf.

Netwerk24 het in 2015 so geskryf oor die vorige tender.

Die nasionale departement van gesondheid se woordvoerder het by navraag oor wie die res van die tender gekry het, foutiewelik 2014 inligting aangestuur. 

Die nasionale tesourie het gesê die verskaffers is almal reeds amptelik in kennis gestel. Die inligting sal Dinsdag op sy webtuiste gepubliseer word. 



Meer oor:  Adcock Ingram  |  Arm  |  Tender  |  Resultate  |  Medisyne  |  Maatskappy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.