Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Adcorp se baas bedank skielik ná swak halfjaar

Die personeelwerwingsgroep Adcorp het aangekondig Innocent Dutiro het met onmiddellike ingang Dinsdag as sy uitvoerende hoof bedank.

Innocent Dutiro wat in 2017 as Adcorp se uitvoerende hoof aangestel is.

Hy het in Oktober 2017 by die groep aangesluit.

Hy word in ’n verklaring geprys en bedank, maar terselfdertyd sê die direksie ’n “substantiewe” uitvoerende hoof word dadelik gesoek.

Volgens die direksie hou die tydsberekening van sy vertrek verband met “sy begeerte om sy loopbaan te hersien”.

Die direksie verwys egter ook in dieselfde asem na die swak handelsoorsig wat Adcorp Vrydag laatmiddag uitgereik het.

Adcorp se aandeelprys het Vrydag 22% geval.

In die aankondiging Woensdagoggend word gesê die direksie “reageer aktief op die swak handelsoorsig en werk met die bestuur om regstellende maatstawwe in te stel”.

Dit sluit in “die onmiddellike soektog na ’n uitvoerende hoof met substansie wat die groep in die volgende hoofstuk kan bystaan. Belangrike oorwegings sal ’n leier wees met sterk bedryfservaring en ’n sterk fokus op mense en kliënte.”

Die groep se strategie sal ook hersien word sodat daar op die kernbevoegdheid van die groep gefokus word naamlik die verskaffing van tydelike personeel; IT-personeel en die uitkontraktering van sakeprosesse.

Die direksie gaan ook die groep se inisiatiewe hersien om seker te maak hulle word geprioritiseer “sodat nie te veel dinge op een slag gedoen word nie”.

Sy resultate vir die halfjaar tot einde Augustus gaan nou vroeër uitgereik word.

Daarna sal inligtingsessies landwyd met beleggers gehou word om hulle oor die planne vir die onderneming in te lig.

Adcorp het Vrydag aangekondig ’n verlies per aandeel gaan gely word. Die verlies gaan tussen 375,5c en 450,6c beloop. Dit is vergeleke met ’n wins van 90,2c per aandeel verlede jaar in die ooreenstemmende tyd.

Sy wesensverdienste per aandeel gaan sowat 94,5% val.

Adcorp se aandeelprys het Dinsdag op R16,20 gesluit. Dit is ver van sy hoogste vlak tot nog toe van rondom R36 in 2013 en ver van sy hoogtepunt die afgelope jaar van R25 ’n paar maande gelede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.