Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Adidas se 3 strepe nie uniek genoeg, beslis hof
’n Foto van ’n ou sokkerstewel met Adidas se drie kenmerkende strepe daarop. Foto: GAMEPLAN-A.COM/ADIDAS

Nee, Adidas, jou drie strepe aan die kant van jou tekkies is nie uniek genoeg nie.

Die Europese Unie se algemene hof het Woensdag beslis die wêreldbekende sportkleregroep Adidas se drie-streep-merk is nie as ’n handelsmerk geldig nie want dit is nie uniek genoeg nie.

Die hof het ’n beslissing van die Europese kantoor vir intellektuele eiendom gehandhaaf wat in 2016 bepaal het ’n vorige hofbesluit om die kenmerkende drie strepe van Adidas as ’n handelsmerk te aanvaar is ongeldig.

Die Duitse sportkleregroep het in 2014 die drie strepe as ’n handelsmerk geregistreer vir gebruik op sy klere, tekkies en ander bykomstighede, hoewel dit al jare deel is van sy beeld. Adidas het aangevoer die drie strepe is “drie parallelle strepe van dieselfde wydte en van dieselfde afstand van mekaar, wat in enige rigting op die produk aangewend word”.

Die Belgiese maatskappy Shoe Branding Europe het egter Adidas se aanspraak op die drie strepe as ’n handelsmerk uitgedaag. Shoe Branding Europe is al vir sowat 10 jaar in ’n stryd met Adidas gewikkel. ’n Europese hof het in 2018 Shoe Branding se eie twee-streep-handelsmerk ongeldig verklaar want die strepe is glo te soortgelyk aan Adidas se handelsmerk.

Maar Adidas moes wys die merk het regdeur die Europese Unie ’n “kenmerkende karakter” gegrond op die gebruik daarvan sodat verbruikers dadelik weet ’n produk is van Adidas en sodat hulle dit kon onderskei van produkte van ’n ander maatskappy.

Die hof het Woensdag beslis die drie strepe is nie ’n patroon nie maar ’n “gewone figuratiewe merk” en dis nie relevant om spesifieke gebruike daarvan saam met kleure in ag te neem nie.

Die hof het beslis Adidas het bewys gelewer van die merk se gebruik in vyf EU-lande, maar nie in die hele EU-blok van 28 lande nie.

Adidas kan nog by die Europese hof van justisie, die hoogste hof in Europa wat bó die algemene hof is, gaan appelleer. Hy het net twee maande tyd om dit te doen.

Adidas en die 3 strepe

Adi Dassler (vandaar die naam Adidas) het in 1924 ’n onderneming vir sportskoene begin, maar die Tweede Wêreldoorlog het sy sakeplanne ’n bietjie omgekrap. Die omstrede deel van Adidas se geskiedenis is dat Dassler lid was van die Nazi-party tydens die oorlog. In 1949 het hy van voor af begin en die Adi Dassler adidas Sportschuhfabrik geregistreer. Hy het toe al ’n patentreg geregistreer op ’n sokkerstewel met die drie wit strepe langs die kant af om dit te onderskei van enige ander sportskoen.

Teen 1972 het Adidas sy eie embleem gekry wat elemente van die drie strepe ingesluit het.

Die groep is al sedert 1983 gewikkel in verskeie handelsmerk-dispute. In 2000 het hy Marca hof toe gesleep weens dié se gebruik van twee strepe op sy produkte, en in 2003 het hy Fitness World Trading gedagvaar vir die gebruik van twee strepe wat volgens Adidas te soortgelyk is aan sy eie drie strepe. Hy was ook al met Target, Walmart, Nordstrom, Aldo, H&M en Kmart in hofsake oor sy drie strepe gewikkel.

Meer oor:  Adidas  |  Hofbeslissing  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.