Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Adjunkminister oor OBK-herrie: ‘My gewete is skoon’

“My gewete is skoon. Die ondersoek sal my naam van alle blaam suiwer.”

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Foto: Deon Raath

Só sê Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, nadat ’n e-pos van ’n onbekende versender hom dié week betrek het by korrupsie by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Die OBK het Woensdagoggend aangekondig hy gaan ’n forensiese ondersoek na dié bewerings gelas.

Gungubele is uit hoofde van sy amp as adjunkminister van finansies die voorsitter van die OBK-direksie. Die OBK is die staatsbeheerde batebestuursfirma wat meer as R2 000 miljard se geld, grootliks namens die staatspensioenfonds (GEPF), belê.

Die kommissie van ondersoek wat pres. Cyril Ramaphosa na die OBK se omstrede beleggings gelas het, het Woensdag sy tweede week van openbare sittings afgesluit ná twee weke se getuienis wat die hare laat rys het. Dit hervat einde Februarie.

Die forensiese ondersoek is gelas ná ’n dringende direksievergadering Dinsdag oor e-posse wat benewens Gungubele ook vir Matshepo More, finansiële hoof en waarnemende uitvoerende hoof, en die nie-uitvoerende direkteur Sibusisiwe Zulu betrek.

Zulu was glo romanties betrokke by ’n man wat voordeel getrek het uit bemagtigingstransaksies wat die OBK moontlik gemaak het.

Gungubele het in ’n telefoniese onderhoud met Netwerk24 gesê hy het nie die e-pos onder oë gehad waarin hy by korrupsie betrek word nie. Dis aan Tito Mboweni, minister van finansies, gestuur deur ene James Noko, wat as ’n skuilnaam beskou word.

Hy sê hy verwerp enige implikasie dat hy betrokke is “by ’n bedrogspul om die OBK te plunder”.

Gungubele sê hy is “nie bekommerd nie” en “het geen respek” vir die anonieme aard van die bewerings nie.

As ek geadviseer word om dit te doen, sal ek.
Mondli Gungubele

Op die vraag of hy hom as voorsitter van die OBK gaan verskoon tot nadat die forensiese ondersoek na die nuwe bewerings afgehandel is, het Gungubele gesê dis “die OBK-direksie en die minister (Mboweni) se besluit”.

“As ek geadviseer word om dit te doen, sal ek.”

Hy sê egter die OBK sal geen werk gedaan kry as almal weghardloop elke keer as bewerings gemaak word nie.

Gungubele sê omdat hy weet hy het niks verkeerd gedoen nie, oorweeg hy dit ook nie om as adjunkminister te bedank nie.

Hy het “glad nie” geantwoord op die vraag of Ramaphosa hom oor die aangeleentheid gekontak het nie.

Die tesourie het later ’n verklaring uitgestuur waarin Gungubele sê: “Ek verwelkom die geleentheid om dié saak eens en vir altyd op te klaar. Ek is egter vol vertroue dat ek niks verkeerd gedoen het nie.”

Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, het aan Netwerk24 gesê geen besluit is al oor Gungubele se amp as adjunkminister geneem nie. “Waarom sal die president iets doen as die ondersoek pas begin het?”

Die OBK het ook in September 2017 onder soortgelyke omstandighede deurgeloop toe ene James Nogu in dié geval dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, van korrupsie beskuldig het.

Nogu het Matjila daarvan beskuldig dat hy Pretty Louw, met wie hy glo ’n romantiese verhouding gehad het, met behulp van OBK-transaksies finansieel gehelp het.

Die OBK het Matjila ná 'n interne ondersoek onskuldig bevind.

Matjila het nietemin in November 2018 bedank.

In die geval van die twee e-posse – nou en in September 2017 – is daar net ’n enkele letter wat verskil in die spelling van die  fluitjieblaser se van.

Daar was vroeër die week bespiegelinge dat Simphiwe Mayisela, voormalige hoof van veiligheidvan die OBK, moontlik dié persoon kon wees.

Mayisela is op 1 Junie 2018 reeds geskors en is nie meer werksaam by die OBK nie.

Die forensiese ondersoek gaan deur ’n senior advokaat gelei word, wat nog nie aangestel is nie.

Die tesourie was die afgelope jare in die spervuur en is tot op hede beskou as ’n bastion teen staatskaping. Suid-Afrika het sedert 2015 ses keer van minister van finansies verwissel: Nhlanhla Nene, Des van Rooyen, Pravin Gordhan, Malusi Gigaba, weer Nene en nou Tito Mboweni. In dié tydperk het die land minstens drie adjunkministers van finansies gehad: Mcebisi Jonas, Sfiso Buthelezi en toe Gungubele.

Alf Lees, DA-LP en woordvoerder oor finansies, het in reaksie gesê hy is “baie bekommerd” oor die bewerings, veral in die mate wat dit Gungubele en More betrek.

“Die amp wat Gungubele as adjunkminister van finansies beklee is een wat nie eens ’n sweem van ampsmisdrywe moet hê nie. As OBK-voorsitter het hy die bykomende verantwoordelikheid om heeltemal eerlik te wees oor die vraagstuk wat hom en More geïmpliseer het.

“Ten einde sy integriteit en die reputasie van die OBK te beskerm, is dit sy plig om hom minstens as voorsitter van die OBK-direksie te onttrek en te verseker hy bewys die bewerings vals, indien hulle vals is.

“More moet ook minstens onttrek uit haar pos as waarnemende hoof totdat die bewerings behartig is.”

Meer oor:  Obk  |  Motshepo More  |  Daniel Matjila  |  Mondli Gungubele  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.