Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Advtech fokus op kapasiteit by bestaande skole

Advtech gaan op kort termyn briek aandraai met nuwe skole en eers sy kapitaal aanwend om die kapasiteit van bestaande skole te verhoog. Dit sal die genoteerde maatskappy se interne opbrengskoers by skole verbeter.

Roy Douglas, uitvoerende hoof van Advtech. Foto: Verskaf

Die private-onderrigmaatskappy, wat skole en tersiêre instellings soos Crawford Schools, Trinityhouse, Abbotts College, Rosebank College en Varsity College in sy stal het, het ’n styging van 13% tot R2,265 miljard in sy inkomste vir die ses maande tot einde Junie bekend gemaak.

Die maatskappy se wesensverdienste per aandeel het egter met 9% tot 35c gedaal.

Die maatskappy se aandeelprys was teen 12:00 bykans onveranderd op R15,34.

Advtech se inkomste is byna dubbel die inkomste van sy mededinger Curro, wat onlangs bekend gemaak het sy inkomste vir die halfjaar is R1,242 miljard.

Advtech het op nagenoeg 98 000 ook byna dubbel soveel leerlinge en studente as Curro, wat pas die 50 000-kerf verbygesteek het.

Curro is egter die snel groeiendste van die twee private-onderriggroepe. Sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings het in die ses maande met 31% tot R335 miljoen gestyg terwyl Advtech s’n met 14% tot R477 miljoen gestyg het.

Roy Douglas, uitvoerende hoof van Advtech, sê hulle vorder met die herstrukturering van die skole-afdeling. Dit sluit in die verandering van bestuurstrukture en steundienste, wat nou vir die hele groep gekonsolideer is om die groep meer doeltreffend te maak.

’n Nuwe inligtingstelsel word by alle skole in werking gestel “wat ons vermoë om die akademiese vordering van elke student te volg, aansienlik sal verbeter, terwyl dit ook waardevolle data sal verskaf wat sowel akademiese as bedryfsinsigte sal verskaf”.

Gemengde leer

Die maatskappy sê die bedryfswins van sy tersiêre afdeling het met 24% gestyg en hy het drie nuwe kampusse in die halfjaar geopen. Die bedryfswins van sy skole-afdeling het met 18% gestyg en nege nuwe skole is geopen.

Die tersiêre afdeling dra 39% tot die groep se inkomste by en die skole-afdeling 47%. Die res van die groep se inkomste kom uit sy personeelwerwingsafdeling, wat insluit Africa HR Solutions, Tech-Pro Personnel, CA Financial Appointments en Cassel & Company.

Advtech sê die sukses van ’n gemengde leermodel – aanlyn selfleer gekombineer met lesings – is by Rosebank College bewys en twee van sy nuwe kampusse, in Pietermaritzburg en Bloemfontein, pas dit nou ook toe.

Nie te duur...

In die skole-afdeling ervaar die groep dat die vraag toeneem na skole wat skoolgeld in die middel van die skoolgeldspektrum vra.

“Die uitdagende ekonomiese klimaat het steeds ’n impak op organiese groei in sekere skole, wat onttrekkings beleef het weens emigrasie en finansiële druk.”

Advtech het twee skole in Kenia bekom en een in Uganda. Hy het ook skole in Botswana.

Sy eerste nuwe skool wat hy self in die res van Afrika gebou het, ’n Crawford International School in Nairobi, Kenia, maak in September sy deure oop.

Die werwingsafdeling se inkomste het met 4% gegroei.

Dividend

Die maatskappy het sy dividend onveranderd op 15c per aandeel gehou omdat sy uitbreidingsplanne oor die volgende paar jaar aansienlike finansiering sal benodig.

Douglas sê hulle sien steeds geleenthede vir groei, sowel in Suid-Afrika as op die res van die vasteland, “en die groep bly in ’n sterk posisie om sy groeistrategie na te volg”.

Meer oor:  Curro  |  Advtech  |  Onderrig  |  Private Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.