Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
AECI beloon met dividend

Die chemiese groep AECI kon sy aandeelhouers beloon met ’n halfjaardividend van R1,80.

AECI, wat onder meer plofstof aan die mynbedryf lewer, het in die halfjaar tot einde Junie sy bedryfswins met 70% verbeter. Foto: Bloomberg

Dit is 80% meer as die R1 wat ’n jaar gelede verklaar is.

AECI se bedryfswins het in die halfjaar tot einde Junie met 70% tot R948 miljoen verbeter.

Die maatskappy het baie goed herstel van die impak van die Covid-19-pandemie, het WJ Strydom, waarnemende maatskappysekretaris, Dinsdag oor AECI se halfjaarresultate gesê.

Hoewel AECI se omset met 5% tot R11,8 miljard gestyg het, is die groei belemmer deurdat sommige mynbou-klante in Afrika nog nie hul bedrywighede hervat het nie.

Vier groot klante in die olieraffinerings- en nywerheidsektor het ook nog nie hul bedrywighede hervat nie.

Nog ’n faktor wat AECI se verdienste teruggehou het, is dat sy Europese afdeling, AECI Schirm, nie soos verlede jaar ’n groot bestelling vir handreiniger ontvang het nie. Dié bestelling het R93 miljoen tot die vorige jaar se wins bygedra.

Die sterker gemiddelde wisselkoers van die rand teenoor die dollar en euro het ook verdienste teruggehou.

AECI se ebidta (verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing) het wel met 23% tot R1,18 miljard geklim.

Sy halfjaardividend sal op 6 September aan aandeelhouers betaal word.

AECI het sy bedrywighede verlede jaar in vier strategiese eenhede herskik. Dit is mynbou, water, landbougesondheid, en suiwer chemikalieë.

Die mynbouafdeling, wat die meeste tot omset en wins bydra, lewer plofstowwe en soortgelyke dienste en stelsels aan myne vir die verwerking van erts.

Die waterafdeling lewer chemikalieë vir watersuiweringsaanlegte in Afrika.

Die landbougesondheidsafdeling lewer plantvoeding, oesbeskermingsprodukte, asook dieremedisyne vir die landboubedrywe in Afrika, Europa en Amerika.

Die chemikalieë-afdeling lewer produkte aan die kos- en drankbedryf, vervaardiging, padinfrastruktuur en algemene nywerhede. Hy lewer meestal aan Suider-Afrika, behalwe AECI Sans Fibres, wat in Amerika is.

AECI het gewaarsku dat van sy werknemers regstreeks deur die onlangse onrus geraak is. Klein ontwrigtings is in sy bedrywighede aangemeld weens die produksie van sommige aanlegte in KwaZulu-Natal wat geraak is, asook die vervoer van produkte.

Meer oor:  Aeci  |  Kunsmis  |  Chemikalieë  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.