Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
AEEI se resultate blink ondanks Ayo-probleme

African Equity Empowerment Investments Limited (AEEI) se langverwagte halfjaarresultate het Donderdagmiddag die oë van enkele aandele-ontleders laat rek.

Anthony Clark, ’n welbekende ontleder en skrywer van die blog Small Talk Daily, beskryf die resultate op Twitter as “oëverblindery”.

Khalid Abdulla, uitvoerende hoof van AEEI. Foto: Deon Raath

Hy is veral skepties oor die 8%-styging in AEEI se netto batewaarde – en dít selfs al het een van AEEI se grootste filiale, Ayo Technology Solutions, se aandeelprys in die halfjaar gehalveer.

AEEI is ’n maatskappy in die stal van dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media. Benewens sy meerderheidsbelang in die omstrede Ayo besit AEEI onder meer belange in Premier Fishing and Brands, Saab en Pioneer Foods.

AEEI is op sy beurt ’n filiaal van Sekunjalo Investment Holdings, moedermaatskappy van Independent.

Die groep se inkomste vir die ses maande tot einde Februarie het met 31% tot R792 miljoen en sy nabelaste wins met 246% tot R546 miljoen gestyg. Die groep se wesensverdienste per aandeel is 37% hoër op 38,67c en sy totale bates het met 32% tot R9,7 miljard gestyg.

Onder die bates word ’n enorme styging – 2 185% – in klandisiewaarde aangedui, ’n styging van R82,9 miljoen ’n jaar gelede tot R1,9 miljard vanjaar. Klandisiewaarde en ander ontasbare bates is ’n omstrede onderwerp in boekhouding omdat dit op ramings oor toekomstige inkomste gegrond is.

Dis des te meer vir AEEI problematies omdat die JSE ’n oudit-mening oor Ayo se markwaarde aangevra het ná getuienis voor die Mpati-kommissie van ondersoek dat AEEI-bestuurslui Ayo se waarde voor sy notering in 2017 oordryf het. Die Openbare Beleggingskorporasie, wat die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) se geld belê, het op grond van die waardasie R43 per aandeel vir sy belang in Ayo betaal. Dis nou R11,99 werd.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FCSA) ondersoek ook markmanipulasie - ’n misdaad - by AEEI, Ayo en Premier Fishing.

AEEI se resultate is herhaaldelik uitgestel omdat die groep ’n “oordeelsfout” gemaak het toe hy Ayo as ’n assosiaat-maatskappy eerder as ’n filiaal behartig het in sy 2017-resultate, wat nou heraangegee is.

AEEI skryf sy goeie bedryfsprestasie toe aan die goeie prestasie van Premier Fishing en Ayo. Die vissery se inkomste het met 56% tot R185 miljoen gestyg en sy bedryfswins met 92%, veral danksy goeie inkvisverkope.

Die groep se tegnologie-afdeling, waaronder Ayo val, het ’n inkomste van R349 miljoen opgelewer en is verreweg die grootste bydraer tot die groep se inkomste.

Khalid Abdulla, uitvoerende hoof van AEEI, beskryf dit as “gerusstellend” dat die groep aan goeie prestasie toegewyd is.

Die groep het ’n tussentydse dividend van 11c per aandeel verklaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.