Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
AEEI se resultate sloer steeds ná ‘fout met Ayo’

African Equity Empowerment Investment (AEEI), ’n filiaal van Sekunjalo Investment Holdings, se resultate vir die halfjaar tot einde Februarie is reeds ’n week later as wat hy gesê het dit word uitgereik.

Khalid Abdulla, uitvoerende hoof van AEEI. Foto: Deon Raath

AEEI het op 15 April gesê dit sal teen 26 April uitgereik word. Die afgelope week het hy egter gesê dit sal nou op Maandag 6 Mei uitgereik word.

Hy sê in dié verklaring, wat kort voor 17:00 ’n dag voor die vakansiedag op 1 Mei uitgereik is, dat hy sy syfers vir die halfjaar tot einde Februarie 2018 heraangee het omdat besef is ’n “oordeelsfout” is begaan.  “Die oordeelsfout is geklassifiseer as ’n fout in die vorige tydperk, wat terugwerkend herstel moet word.”

Dit handel oor die effektiewe datum waarop AEEI “beheer verloor het oor Ayo Technology Solutions”.

AEEI, Sekunjalo en Ayo is almal firmas waarin dr. Iqbal Survé en sy familie groot belange besit.

Dit word nou as 24 Augustus 2018 aangedui. “Ayo was dus in die halfjaar tot einde Februarie 2018 nog ’n filiaal van die groep en nie ’n assosiaat soos wat voorheen aangedui is nie.”

Die impak op wins en kontantvloei sal in besonderhede in die ongeouditeerde halfjaarresultate getoon word.

  • Die wesensverdienste per aandeel vir die 2018-halfjaar is 28,32c (heraangegee) teenoor 40,06c in die syfers wat ’n jaar gelede gegee is.
  • Die verdienste per aandeel is nou 28,32c (teenoor 1 708,13c in die oorspronklike syfers).

So is in 2018 gerapporteer:

  • Verlede jaar het die “verdienste per aandeel met 1 744%” gespring van die 2017-syfer van 92,65c (wat self heraangegee is).
  • Dié 2017-syfer is kort voor die 2018-halfjaarsyfers uitgereik en is ook heraangegee in ’n handelsoorsig omdat die billike waarde van sy belegging in Ayo herwaardeer is. Dit het sy verdienste vir die 2017-halfjaar met R310 miljoen van R138 miljoen tot R449 miljoen verhoog.

Wat nou verwag word:

  • AEEI verwag nou in die halfjaar tot einde Februarie 2019 gaan sy verdienste per aandeel tussen 92,94c en 98,60c beloop. Dit is ’n styging van tussen 229% en 248% teenoor die syfer wat heraangegee is. As die 2018-syfer nie heraangegee is nie, sou dit dus ’n groot daling weerspieël het.
  • Sy wesensverdienste gaan nou tussen 35,84c en 41,50c wees. Dit is ’n styging van tussen 27% en 47%. As die 2018-syfer nie heraangegee is nie, sou dit ’n baie klein styging verteenwoordig het.

Wat het gebeur?

Toe AEEI aanvanklik gewaarsku het dat sy resultate later as verwag uitgereik gaan word, het hy verwys na “onverwagte verwikkelings in die groep” en daar is na ’n Ayo-aankondiging verwys.

Hierin sê Ayo hy sal die JSE se versoek nakom wat verband hou met getuienis voor die kommissie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Dit hou verband met die OBK se belegging van R4,3 miljard in Ayo voor sy notering in Desember 2017.

Die JSE het gevra dat hy ’n ouditmening kry oor sy 2018- en 2019- tussentydse resultate.

AEEI se aandeelprys het Vrydag met 5% gedaal tot R2,05.

Ayo se aandeelprys is opnuut op ’n laagtepunt nadat dit Dinsdag tot R12 geval het.

Meer oor:  Aeei  |  Sekunjalo  |  Ayo Technology Solutions  |  Ayo  |  Iqbal Survé  |  Beleggingsbeheerfirma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.