Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Afgetredenes bekommerd oor belegging in VBS
Dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Foto: Nellie Brand-Jonker

Afgetredenes van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) is bekommerd oor hul belegging in die VBS Mutual Bank, wat Sondag in kuratele geplaas is.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Regeringspensioene, sê die bank het onder hul aandag gekom toe dit R7,8 miljoen aan oudpres. Jacob Zuma geleen het om die geld terug te betaal wat vir sy woning Nkandla geskuld het.

“Ons is toe ingelig die GEPF hou omtrent 25% van die bank. Ons wil nou weet wanneer die belegging gedoen is en hoe groot die belegging is,” het hy in ’n e-pos geskryf.

Die GEPF se batebestuurder is die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Stemmet sê van die vrae wat hulle het, sluit in of daar vooraf ’n lewensvatbaarheidstudie gedoen is en of die belegging ná die tyd gemonitor is.

Die minister van finansies, toe nog Pravin Gordhan, het in September 2016 op ’n vraag van die DA daarop gereageer.

Die DA wou weet wanneer die OBK sy eerste aandele in VBS gekoop het en wat die waarde van sy 25,26%-belang in die bank is.

Dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, het geantwoord die bank is in 1982 gestig en die pensioenfonds van die regering van Venda was ’n aandeelhouer in die bank. Die OBK het ’n aandeelhouer in VBS geword toe die Wet op die Pensioenfonds van Staatsamptenare in Mei 1996 van krag geword het.

Die wet het daarvoor voorsiening gemaak dat dié fondse met die GEPF saamsmelt.

Die jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart 2015 toon die OBK het ’n belang van 25,3% gehad.

’n Jaar later het die OBK ’n belang van 8,5% in die VBS gehad. Eksterne waardeerders het die belang op R4,1 miljoen beraam, volgens Matjila.

Die belang het afgeneem omdat die OBK nie teen jaareinde aan ’n regte-uitgif van die bank deelgeneem het nie.

Die OBK het ná sy jaareinde besluit om in die regte-uitgif deel te neem en dit het sy belang weer tot sowat 25,2% opgeskuif. Die waarde van die belang is sowat R12,3 miljoen, volgens Matjila.

Die ander groot aandeelhouers van die VBS is Vele Investments en Dyambeu Investments, wat onderskeidelik 53% en 25,2% hou.

Twee verteenwoordigers van die OBK, Paul Magula en Ernest Nesane, het sedert onderskeidelik 2015 en Julie 2013 in die direksie gedien, toon die jongste jaarverslag.

Magula is die hoof van risikobestuur en Nesane is die hoof van regsadvies, korporatiewe bestuur en nakoming van die OBK.

Die direksie en bestuur van die bank is almal van hul amp onthef toe die Reserwebank VBS Sondag in kuratele geplaas het.

Andile Ramavhunga, uitvoerende hoof, het in die 2016-jaarverslag gesê die VBS het in die jaar net minder as R300 miljoen van die leningsgerief wat die OBK aan hom verskaf het, gebruik en dit het die bank in staat gestel om sy winsgewendheid te verbeter en sy bates te verhoog.

Die gerief is daarop gerig om brandstof en energieverwante transaksies te finansier, volgens hom.

Dié leningsooreenkoms is in die vorige boekjaar verkry.

In die 2015-jaarverslag is gesê die totale lening was R350 miljoen vir vyf jaar.

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Pic  |  Jacob Zuma  |  Dan Matjila  |  Staatsamptenare  |  Pensioenfonds  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.