Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Alex Forbes verloor 30 000 aftreefonds-lede

Die aftreefondsadministrateur en -konsultant Alexander Forbes het in die afgelope jaar 30 000 lede onder sy administrasie weens afleggings verloor.

Alexander Forbes
Dawie de Villiers, uitvoerende hoof van Alexander Forbes.

Dawie de Villiers, uitvoerende hoof, sê dit het die grootste impak op hulle in die afgelope boekjaar tot einde Maart gehad, en beleggers is bekommerd daaroor.

Die onderneming het met 914 000 lede onder administrasie begin en die jaar op 864 000 geëindig nadat daar ook agt likwidasies van ondernemings was aan wie hy dié dienste gelewer het.

alexander forbes

Hy sê die aantal afleggings per maand het egter begin verlangsaam, maar is steeds hoër as in die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar.

Volgens hom het Alexander Forbes baie navorsing onder die maatskappye gedoen wat kliënte is, en nog net een het steeds bydraevakansies wat aandui die onderneming is nog onder druk. “Nie een van die maatskappye waarmee ons gesels, kyk na grootskaalse afleggings nie. Ons glo dit is die einde van die afleggingsiklus.”

alexander forbes

Die bedryfsinkomste van die aftreefondsadministrateur het met 5% tot R848 miljoen gedaal.

Volgens hom is dit ietwat kommerwekkend, maar verstaanbaar ná die afgelope jaar.

’n Gedeelte van die impak is weens ’n verandering aan die administrasie van sy sambreelfonds en hoe die inkomste daarvan aangedui word.

Die grootste impak is egter weens afleggings in die land en die impak daarvan op administrasie- en adviesgeld wat ontvang word.

Dit was ’n moeilike jaar omdat beplanners vir lank nie kliënte kon sien nie weens die inperkings.
Dawie de Villiers, uitvoerende hoof van Alexander Forbes

De Villiers sê dít is egter ook die gebied waar baie groei voorsien word in ’n normale omgewing, waar mense salarisverhogings kry en meer mense in diens geneem word.

Die mediesefondskonsultante se bedryfsinkomste het met 1% tot R293 miljoen gestyg. Hy sê dié deel van die onderneming is minder geraak deur afleggings. “Dit was ’n stabiele besigheid vir ons en het goeie groei beleef die afgelope twee jaar.”

Die bedryfsinkomste van Alexander Forbes se beleggingsbedrywighede het met 1% tot R1,2 miljard gestyg. Dit sluit in die inkomste wat uit beleggingskonsultasie en batebestuur verdien is.

Sowat 56% van die maatskappy se inkomste kom van bates onder bestuur. Dít het vir die eerste keer tot meer as R400 miljard gestyg – ’n 29%-styging op ’n jaargrondslag.

Volgens De Villiers is dit hoofsaaklik danksy die stewige styging in die mark, maar ook danksy nuwe kontrakte wat verkry is. Die styging in die mark het R88 miljard bygedra.

’n Rekordbedrag van nuwe kontrakte van amper R30 miljard is ook verkry. Die grootste deel daarvan (R20 miljard) is kliënte wat hul platform vir administrasiedoeleindes gebruik en wat nie deur die batebestuurder kom nie.

Die onderneming is ook geraak deur geld wat uitgevloei het waaroor geen beheer uitgeoefen kan word nie, weens onttrekkings uit aftreefondse.

De Villiers sê daar is ’n strategie om groter bewaring te bewerkstellig.

Meer is onttrek as wat bygedra is en dit hou ook met die afleggings verband.

Die welvaartbestuurders en finansiële beplanners se bedryfsinkomste het met 3% tot R455 miljoen gestyg.

Alexander Forbes
Die kenteken van die aftreefonds-administrateur Alexander Forbes.

“Dit was ’n moeilike jaar omdat beplanners vir lank nie kliënte kon sien nie weens die inperkings. Ten spyte daarvan het nuwe sake en bates gegroei.”

Die bates onder advies het met 19% jaar-tot-jaar tot R79,6 miljard gestyg.

In geheel het die bedryfsinkomste van die maatskappy onveranderd gebly van die vorige jaar, op R3,1 miljard.

De Villiers verwag konsolidasie in die bedryf ná Covid-19, wat hy sê administrateurs en konsultante gedwing het om te herbesin oor hul bedrywighede.

Hy sê die pandemie gaan ook die aanvaarding van digitale oplossings vir die bedryf versnel.

“Ons voorsien dat die konsolidasie ons kan baat in terme van waarna ons op die uitkyk is vir verkrygings.”

Bruce Bydawell, finansiële hoof, sê hulle werk baie hard om verkrygings te doen en ’n paar goeie geleenthede word tans met meer as een party bespreek.

Hy sê die doel is om die kernbedrywighede van konsultasie en administrasie te vergroot, asook die bates wat daarmee saam kom.

Hy sê Alexander Forbes het ’n groot balansstaat en sal skuld kan aangaan en ’n redelik groot verkryging kan integreer.

De Villiers sê hulle sê nie nee vir kleiner verkrygings nie. Een verkryging wat voltooi is, is van die finansiële beplanners GF Wealth.

“Maar ons het nie ’n probleem om ’n groter administrateur te koop nie; ons het toegang tot kontant. Dit hang egter af van die Mededingingskommissie en of dit sin maak en skaal en wins sal byvoeg.”

Alexander Forbes se kernwins per aandeel uit voortgesette bedrywighede het met 4% gestyg. ’n Finale dividend van 9c per aandeel is verklaar (2020:12c).

Meer oor:  Alexander Forbes  |  Batebestuur  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.