Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aflewerings is reddingsboei vir Steers, Wimpy

Famous Brands, wat onder meer Wimpy, Steers en Debonairs besit, sê die afgelope boekjaar was sy moeilikste nóg sedert die groep in 1960 as ’n familie-onderneming die lig gesien het.

Die Famous Brand-groep se heel eerste handelsmerk was Steers. Famous Brands het as ’n familie-onderneming in 1960 begin. Dit het in 1994 op die JSE noteer.

’n Wins van R5 miljard is vir die boekjaar tot einde Februarie aangeteken – 35% minder as die groep se wins van R7,8 miljard einde Februarie 2020.

Famous Brands is tans die grootste restaurantgroep in die land. Geen dividend is vanjaar verklaar nie.

“Ons is gewoond daaraan om onder moeilike omstandighede sake te doen, maar niks in ons lang geskiedenis kan vergelyk word met die swaarkry wat ons weens die pandemie deurmaak nie,” sê Darren Hele, uitvoerende hoof.

Hele sê baie kitskosrestaurante het gelukkig vinnig aangepas by die pandemie en die gepaardgaande inperkingsregulasies, en afleweringsdienste het veral gehelp om die kontant te laat invloei.

“Al was die handelsomgewing deurlopend moeilik, het ons franchise-vennote aflewering met die hulp van derde partye en hul eie afleweringsdienste aangegryp,” sê Hele.

Famous Brands se portefeulje bestaan uit 19 restaurantgroepe met ’n netwerk van 2 773 restaurante wêreldwyd.

Die groep moes hom by hierdie ongekende tye aanpas en sekere besluite was nie maklik om uit te voer nie, volgens Hele. Tashas is die afgelope boekjaar verkoop en ’n streep is nou finaal getrek deur Gourmet Burger Kitchen (GBK) in Brittanje, wat verlede jaar onder administrasie geplaas is.

Hele het ook Dinsdag aangekondig die Great Bakery Company in Mei (dus ná die einde van die boekjaar) aan sy stigters terugverkoop is.

Impak van Covid-19

Famous Brands doen sake in Suid-Afrika, die Midde-Ooste, asook die res van Afrika en Brittanje.

In al sy markte is die negatiewe finansiële impak van die pandemie gevoel soos inperkings en beperkings op bedrywighede ingestel is.

Famous Brands sê hoewel baie bedrywe in die land swaargekry het as gevolg van Covid-19, is die kosdienstebedryf een van dié wat die swaarste getref is.

“Die aanvang van die Covid-19-pandemie in Maart 2020 het met die eerste maand van ons finansiële jaar saamgeval. Die pandemie het dus vir die hele 12 maande van ons boekjaar ’n impak op sake gehad, hoewel in verskillende grade.”

In syfers

’n Wesensverlies per aandeel van 86c (121%) is aangeteken en die bedryfswins het tot R193 miljoen vanaf R912 miljoen die vorige ooreenstemmende tydperk, ’n 79%-afname, gedaal.

Sy bedryfswinsmarge het met 7,9 persentasiepunte tot 3,8% gedaal.

Kontant uit bedrywighede het vanaf R1,3 miljard tot R574 miljoen gedaal.

“Ons was vinnig uit die blokke om verskeie maatreëls in te stel om ons kontant te beskerm,” sê Hele. “Ons moes egter planne om uit te brei baie gou in die kiem smoor en het eerder gefokus op planne wat ons sou help om die ergste krisis wat ons nóg beleef het te oorleef.”

Famous Brands
Famous Brands

Só vaar plaaslike belange

Die gekombineerde plaaslike handelsmerke het ’n afname in wins van 42% aangeteken, R567 miljoen teenoor 2020 se R974 miljoen.

“Soos in vorige jare reeds gesien, vaar ons kitskos-handelsmerke, soos Steers, Debonairs Pizza, Fishaways en Milky Lane baie beter as Wimpy en Mugg & Bean, wat geriefsrestaurante is,” sê Hele.

Dit was egter veral die groep se nisrestaurante wat die swaarste getref is. Altesame 14 restaurante in dié segment het verlede jaar, teenoor net sewe die vorige boekjaar, gesluit.

Nog 26 Tashas-restaurante is verkoop. Die verkope van alle nisrestaurante het met 53,7% gekrimp.

Die kleinhandelafdeling, wat onder meer souse, marinades en koffie verkoop, vaar steeds goed. Nuwe koffieprodukte en souse, soos die nuwe Wimpy Burger Relish, is ook bekend gestel.

Verkope van R151 miljoen is aangeteken. Dit is amper 22% meer as 2020 se verkoopsyfer van R124 miljoen.

Verbruikers het veral aan die begin van die pandemie kossouse, marinades en gevriesde aartappelskyfies en hamburgerfrikkadelle gekoop wat onder meer onder Steers en Wimpy se handelsnaam verkoop word.

Afrika en die Midde-Ooste

Die resultate in dié streke moet in die konteks van minder streng Covid-19-maatreëls beskou word.

Verkope het met 22,9% gedaal en saamgevoegde wins vir die twee streke was R316 miljoen, wat net effens minder as 2020 se R314 miljoen was.

“Te danke aan ’n vinnige reaksie op verbruikers se aanvraag het ons ’n aansienlike styging in verkope vir aflewering by die huise van verbruikers in Botswana, Ethiopië, Kenia, Nigerië en die Soedan gehad.

“Steers het met die opening van ’n deurrywinkel sy buiging in Oman gemaak,” sê Hele.

Famous Brands
Famous Brands
Meer oor:  Debonairs  |  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Resultate  |  Aflewering  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.