Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
African Bank se fokus op lae-risiko-kliënte dra vrugte
Basani Maluleke, uitvoerende hoof van African Bank.Foto: Verskaf

African Bank het skouer aan wiel gesit en het ondanks treurige ekonomiese groei ’n bedryfswins van R485 miljoen voor belasting behaal in die jaar tot einde September.

Hy het Dinsdag sy jongste syfers op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer. Sy bedryfswins was 102% hoër as die R240 miljoen in die vorige boekjaar.

Basani Maluleke, African Bank se uitvoerende hoof, sê die goeie prestasie is te danke aan sy volgehoue hervorming gegrond op konserwatiewe en doeltreffende bedryfsbeginsels.

Die bank se nuwe MyWorld-diens, wat nou aan al sy werknemers beskikbaar is en deur 3 000 bankiers in Afrika gebruik word, vorm deel van sy uitbreiding in transaksionele bankdienste wat ook daarop gemik is om risiko te verminder.

MyWorld stel gebruikers in staat om toegang tot alle African Bank-produkte te kry deur sy app of webwerf. Dit sluit in spaarrekeninge en beleggings, persoonlike lenings, kredietkaarte en transaksionele bankdienste.

MyWorld is spesifiek ontwerp om groepe mense (soos families, vriende of gemeenskappe) in staat te stel om saam te spaar en te bank terwyl hulle sowel die beste spaarkoerse as die laagste bankkoste kan benut.

Maluleke het op die bekendstelling van die bank se resultate in Rosebank, Johannesburg, gesê Suid-Afrikaners vind nog aanklank by die idee van ’n stokvel. “Mense verkies dit en baat daarby om saam te spaar.”

MyWorld word in die eerste helfte van 2019 aan die publiek bekend gestel.

African Bank se nuwe strategie om winsgewend te wees berus op laerisiko-kliënte wat oor lang termyn by hom leen én bestee.

Die bank se totale deposito’s in die vorm van spaargeld en beleggings was op R1,1 miljard vergeleke met R341 miljoen aan die einde van September 2017. Dié 200%-groei was hoofsaaklik in langertermyndeposito’s. Maluleke verwys na dié verbetering as die bank se “trots en vreugde”.

Sy sê dit wys verbruikers vertrou die bank. “Ons word nie meer as bloot ’n geldskieter beskou nie. Die 15 404 kliënte wat nou ons spaar- en beleggingsprodukte benut, vertrou ons.”

Omdat ons nou so ’n konserwatiewe benadering tot die toestaan van lenings volg om meer laerrisiko-kliënte te lok, sal ons minder kliënte hê
Basani Maluleke

African Bank se spaar- en beleggingskliënte het met 66% toegeneem namate die bank meer op transaksionele bankdienste fokus. Die bank se totale getal kliënte het wel met sowat 110 000 gedaal tot 1,05 miljoen in die afgelope boekjaar.

Maluleke sê die afname was nie ’n verrassing nie. “Omdat ons nou so ’n konserwatiewe benadering tot die toestaan van lenings volg om meer laerrisiko-kliënte te lok, sal ons minder kliënte hê.”

Die bank sê hy bly baie versigtig met sy leningspraktyke. Sy bruto voorskotte het met 4,07% tot R27,638 miljard gegroei. Die gemiddelde voorskot staan nou op R39 024 teenoor R37 286 verlede jaar omdat laerrisiko-kliënte vir groter lenings kwalifiseer.

Sy netto voorskotte het in die afgelope boekjaar vir die eerste keer sedert hy in 2014 onder kuratele geplaas is, toegeneem. Dit is deels te danke aan verbeterde regstreekse produkverkope, onder meer nuwe aanlyn verkope, as deel van die bank se digitalisering. Dit help om bedryfskoste te verlaag en doeltreffendheid te verhoog.

Bedryfskoste het konstant gebly teenoor 2017 ten spyte van die bank se R140 miljoen-besteding aan digitale hervorming en transaksionele dienste, teenoor slegs R79 miljoen in die vorige boekjaar.

Gustav Raubenheimer, die finansiële hoof, is optimisties oor African Bank se vooruitsigte vir 2019 ondanks die swak ekonomie.

“Ons gaan steeds fokus op bedryfskoste en doeltreffendheid om mededingend te bly, omdat dit werk,” sê hy.

Maluleke sê African Bank is bewus is van die nuwe bank-mededingers in die Suid-Afrikaanse mark, maar dit bekommer hom nie. “Ons verwag nie dat nuwe banke soos Discovery Bank in ons teikenmark sal meeding nie, veral nie op kort termyn nie.”

Meer oor:  African Bank  |  Finansiële Dienste  |  Banksektor  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.