Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
African Bank se uitvoerende hoof bedank

African Bank se uitvoerende hoof, die eerste swart vrou wat ’n Suid-Afrikaanse bank gelei het, verlaat dié bank ná minder as drie jaar.

Basani Maluleke, uitvoerende hoof van African Bank tot einde April.

Basani Maluleke gaan volgens ’n verklaring deur die bank “ander loopbaangeleenthede nastreef”.

Haar kennistydperk verstryk einde April. Sy is sedert 1 April 2018 African Bank se hoof, wat volgens die bank ’n gladde oorgang sal verseker.

Vir eers gee sy die leisels oor aan Gustav Raubenheimer, finansiële hoof, wat sal waarneem totdat die bank ’n vaste uitvoerende hoof aangestel het.

Die bank se direksie bedank Maluleke vir haar “beduidende bydrae om African Bank te omskep in ’n gediversifiseerde, belêbare kleinhandelbank” en wens haar sterkte toe met haar toekomsplanne.

“Basani se bydraes sluit in die ontwikkeling en inwerkingstelling van die omnikanaal, wat die bank in staat stel om ’n digitale ervaring aan kliënte en werknemers te bied; die uitbreiding van die bank se kleinhandelbeleggings; en dat sy gehelp het om African Bank te rehabiliteer.”

Laasgenoemde is ’n verwysing na African Bank se finansiële herstel nadat die bank in 2014 deur die Reserwebank in kuratele geplaas is weens tot R17 miljard se slegte skuld, veral dít wat toegestaan is aan die moedermaatskappy, African Bank Investments Limited, se meubelfiliaal, Ellerines.

Die “nuwe” African Bank, sonder die bagasie van slegte skuld, is in 2016 geopen met Brian Riley as eerste uitvoerende hoof. Maluleke het hom twee jaar later opgevolg.

Thabo Dloti, voorsitter van African Bank se direksie, sê sy is vol vertroue dat Raubenheimer ’n “veilige en vaardige paar hande verskaf om saam met die res van die bestuurspan die groep te stuur totdat ’n permanente plaasvervanger gevind is”.

Maluleke sê sy is baie trots op wat die afgelope drie jaar bereik is en dankbaar vir die toewyding van African Bank se werknemers. “Dit was ’n eer om as uitvoerende hoof van African Bank te dien tydens ’n belangrike fase van die organisasie se transformasie. Dankie aan die direksie vir die goeie wense. My beste wense aan al ons werknemers, kliënte, vennote en ander belanghebbendes van African Bank.”

African Bank reik Dinsdag sy resultate vir die boekjaar tot einde September 2020 uit.

Maluleke was sedert Julie 2015 in die direksie van die African Bank-groep en het meer as tien jaar ervaring in die finansiëledienstesektor, onder meer by FirstRand (moedermaatskappy van FNB) en Transcend Capital.

Maluleke het ’n BCom LLB van die Universiteit van Kaapstad verwerf asook ’n MBA van Kellogg, ’n bestuurskool in Chicago in die VSA.

Meer oor:  African Bank  |  Basani Maluleke  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.