Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
African Bank soek nog kliënte met verkryging

Die nuwe African Bank het vir die eerste keer in ’n baie lang tyd weer kliënte gewen en kyk na ’n verkryging om verder uit te brei.

African Bank het kontant in die bank waarmee hy verkrygings wil doen.

Volgens Gustav Raubenheimer, finansiële hoof, is die groei in kliënte gekry danksy die transaksie-bankrekeninge wat die bank onder die handelsnaam MyWorld in Mei 2019 bekendgestel het.

Terselfdertyd het die bankgroep ook bekendgemaak sy direksie het ’n besluit goedgekeur om na verkrygings te kyk.

Twee verkrygings is op ’n kortlys geplaas en een van die verkrygings het reeds gevorder tot die punt dat ’n noulettendheidstudie uitgevoer kan word.

Hy wou nie kommentaar lewer oor die transaksie nie omdat dit nou in ’n baie sensitiewe stadium is.

Volgens Raubenheimer het die groep einde Maart baie kontant op sy balansstaat van R8 miljard gehad, wat hom gereed maak vir die groei wat beoog word.

African Bank het ontstaan uit die stof van die gelyknamige bank wat in 2014 ineengestort het.

Hy sê die bank moes aanvanklik eers fokus daarop om sy kredietverleningspraktyke onder beheer te kry voordat nuwe produkte bekendgestel kon word, soos die transaksie-bankrekening.

Die MyWorld-bankrekeninge word as ’n baie belangrike deel van African Bank se toekoms gesien.

Aanvanklik is 558 000 geopen en van hulle bly 393 000 oop.

Volgens hom het die inkomste wat verdien word op die rekeninge, die balans op die rekeninge en die transaksies wat gedoen word, goed gegroei in die halfjaar tot einde Maart.

Die balans in die rekeninge beloop R662 miljoen – wat ’n groei van 299% van einde Maart verlede jaar is.

In die afgelope ses maande is 8,5 miljoen transaksies van R11 miljard verwerk.

Raubenheimer sê die impak van Covid-19 op die ekonomie het ’n uitwerking op hul sake gehad en hoe kredietrisiko beskou word, asook die vermoë om nuwe lenings te verkoop en sy verbruikerskredietboek te groei.

Die verbruikerskredietboek het met 8% van R29,5 miljard tot R27,1 miljard gekrimp weens die strenger vereistes om krediet toe te staan.

Hoewel die lenings wat toegestaan is, opgetel het van die ses maande tot einde September se R2,5 miljard tot R3,4 miljard in die afgelope halfjaar, is dit nog laer as die R4,3 miljard in die ooreenstemmende halfjaar tot einde Maart 2020, voor die pandemie.

Dit is veral banktakke wat minder lenings verkoop het.

Volgens hom is die beste verkope nog aanlyn beleef sedert begin is om lenings deur dié verkoopskanaal toe te staan.

Sowat 74% van die kredietooreenkomste met kliënte word in banktakke geteken terwyl dit ’n paar jaar gelede 80% was.

Die plan is om met die transaksie-bankrekeninge minder riskante kliënte te kry aan wie lenings toegestaan kan word sodat die boek weer kan groei.

Hy sê strenger kredietverleningvereistes het die gehalte van die onlangse lenings verbeter.

Die totale netto inkomste (wat versekeringsinkomste insluit) het met 11% tot R2,7 miljard gedaal weens minder lenings wat toegestaan is en die krimpende kredietboek.

Die groep het egter teruggekeer na winsgewendheid vergeleke met die verlies in die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede omdat die kredietafskrywingskoste skerp gedaal het.

Die kredietafskrywingskoste het gedaal weens die konserwatiewe kredietverlening, die invordering van agterstallige skuld wat goed gevorder het en omdat nie addisionele voorsiening vir Covid-19 gemaak moes word soos ’n jaar gelede nie.

Die versekeringsonderneming van die groep se wins het ook verhoog.

Meer oor:  African Bank  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.