Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Afslag’ nie altyd ’n towerwoord, sê kosgroep
Van Rhodes Food Group se produkte. Foto: Verskaf

In die huidige swak ekonomie koop verbruikers nie altyd soveel meer van ’n produk wanneer afslag daarop aangebied word nie.

’n Mens kan dus oorboord gaan met promosies, wat gewoonlik beskou word as die maklikste manier om die volume verkope te probeer verhoog, sê Bruce Henderson, uitvoerende hoof van die Rhodes Food Group.

Hy gee toe dis wat die kosgroep in 2018 gedoen het.

Te veel promosies sónder ’n stewige styging in die volume verkope wat daarmee gepaard gaan, beteken bloot ’n laer inkomste uit die goedkoper produkte.

Vir die boekjaar tot einde September het Rhodes ’n bietjie briek aangedraai met promosies, sê Henderson, en dit het die groep se syfers heelwat blinker gevryf, veral in die tweede helfte van sy boekjaar.

Vir die voljaar het die groep se omset met 8,5% tot R5,4 miljard gestyg en sy bedryfswins met 24,9% tot R392,2 miljoen.

Die syfers is ook aangehelp deur ’n swakker rand – 7,7% swakker as in die vorige boekjaar – wat gelei het tot die eerste tekens van ’n ommekeer in Rhodes se internasionale sake, wat 20% van sy inkomste verteenwoordig. Dié afdeling se omset het met 8,8% gestyg.

Rhodes vervaardig onder meer konfyt en blikkiesgroente onder die gelyknamige handelsnaam, en besit ook onder meer Bull Brand, Bisto, Hinds en Pakco. Daarby verpak hy eienaamprodukte vir die meeste kleinhandelaars.

Onder die nuwe produkte waarmee Rhodes vanjaar spog, is klaar voorbereide Bisto-souse, laktose-vrye jogurt en klaarbereide maaltye met plantproteïene eerder as vleis. Die groep het sy sentrum vir die ontwikkeling van nuwe produkte in Groot Drakenstein in die afgelope jaar voltooi.

Die resultate is uitgereik net ’n dag ná dié van die veel groter Pioneer Foods. Dié maatskappy se inkomste vir sy boekjaar, ook tot einde September, het met 11% tot R22,3 miljard gestyg, maar sy bedryfswins het met 13% tot R1,4 miljard gedaal en sy wesensverdienste per aandeel met 6% tot R5,11.

In syfers:
  • Rhodes Food Group se syfers vir die boekjaar tot einde September lyk as volg:
  • Omset styg met 8,5% tot R5,4 miljard;
  • Bedryfswins styg met 24,9% tot R392,2 miljoen;
  • Bedryfswinsgrens styg van 6,3% tot 7,2%;
  • Nabelaste wins styg met 39,6% tot R215,5 miljoen;
  • Wesensverdienste styg met 38,1% tot R219,8 miljoen;
  • Verwaterde wesensverdienste per aandeel styg met 37,8% tot 83,8c; en
  • Dividend styg met 37,4% tot 83,8c.


    Meer oor:  Rhodes  |  Rhodes Food Group  |  Kosgroep  |  Resultate
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.