Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ai, AEEI se resultate gaan laat wees
AEEI,
African Equity Empowerment Investments (AEEI) is op die JSE genoteer.

Die JSE-genoteerde maatskappy African Equity Empowerment Investments (AEEI) het aangekondig sy resultate gaan laat wees.

AEEI het beoog om sy resultate vir die halfjaar tot einde Februarie teen 24 April uit te reik.

Die maatskappy het beleggers verwys na sy aankondiging op 13 Maart oor sy resultate waarin hy gesê het hy beoog om sy resultate binne vier tot ses weke uit te reik.

Die maatskappy sê nou dit gaan nie meer moontlik wees nie “weens onverwagte verwikkelings in die AEEI-groep”.

Aandeelhouers sal binnekort ingelig word oor die verwagte datum waarop die tussentydse resultate uitgereik sal word.

“Die maatskappy glo die verwikkelinge gaan binnekort opgelos word en dat sy resultate voor 31 Mei uitgereik sal word ter nakoming van paragraaf 3.15 van die JSE se noteringsvereistes.”

Dié paragraaf van die noteringsvereistes vereis dat die tussentydse resultate van ’n maatskappy binne drie maande nadat die eerste halfjaar geëindig het, gepubliseer moet word.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursgroep Sygnia en stryder teen korrupsie, het op Twitter só na AEEI se aankondiging verwys.

AEEI se aankondiging volg nadat die JSE Woensdag opdrag gegee het dat Ayo Technology Solutions ’n ouditmening oor twee van sy halfjaarresultate moet kry ná aantygings verlede week voor die kommissie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se bedrywighede.

AEEI is die grootste aandeelhouer in Ayo en het in 2017 besluit om dié filiaal van hom te noteer.

Survé se belang

Iqbal Survé, uitvoerende voorsitter van Independent Media, het onlangs voor die kommissie van ondersoek oor die OBK na homself as die uiteindelike beherende aandeelhouer van die Sekunjalo-groep verwys.

Hy het gesê AEEI is ’n filiaal van Sekunjalo Investment Holdings, wat deel is van die Sekunjalo-groep.

Sekunjalo Investment Holdings hou meer as 60% in AEEI.

Die Haraas-trust, waarvan die begunstigdes Rayhaan Survé en Saarah Survé is, en waarvan Iqbal Survé die trustee is, hou 57,5% in Sekunjalo Investment Holdings, het die voornoteringsverslag van ’n ander maatskappy wat hy wou noteer, verlede jaar getoon.

Survé het gesê AEEI hou op sy beurt sowat 50% van Ayo en dus is die Sekunjalo-groep se “effektiewe aandeelhouding in Ayo 30% . . .”

Ayo het voor sy notering R4,3 miljard van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) in ’n private plasing ingesamel. Dié belegging van die OBK is sedertdien in omstredenheid gehul en handel oor die waardasie van Ayo en hoe die OBK sy beleggingsbesluit geneem het.

Die JSE het Woensdag aangekondig hy is bekommerd oor die verklarings onder eed oor Ayo en sy topbestuur voor die kommissie van ondersoek oor die OBK.

Dit volg nadat twee voormalige topbestuurslede van Ayo Maandag getuig het hulle is opdrag gegee om die syfers te wysig wat in die maatskappy se ongeouditeerde tussentydse resultate vir die halfjaar tot einde Februarie 2018 uitgereik is sodat dit ’n oordrewe syfer toon.

Kevin Hardy, voormalige uitvoerende hoof van Ayo en Siphiwe Nodwele, voormalige beleggingshoof van Ayo, het getuig. Nodwele het getuig Iqbal Survé, uitvoerende voorsitter van Sekunjalo, het opdrag gegee dat die syfers oordryf moet word.

Lees hier wat Anthony Clark van Vunani Securities, ontleder van kleiner aandele, verlede Maandag ná die getuienis voor die kommissie op Twitter gesê het oor AEEI se resultate.

“Die aantygings is ’n groot bekommernis vir die JSE omdat die korrektheid en betroubaarheid van die finansiële inligting wat gepubliseer word, baie belangrik is en dit die fondasie vorm vir ’n doeltreffende en deursigtige mark.”

Die JSE het Ayo gevra om met sy ouditeure te skakel om ’n ouditmening oor dié halfjaarresultate te kry. ’n Ouditmening moet ook vir die ongeouditeerde resultate vir die halfjaar tot einde Februarie 2019 gekry word.

Die JSE het ook aangekondig hy is besig met talle ondersoeke wat betrekking het op aantygings teen die maatskappy, soos onlangs deur die media berig.

Ayo het Donderdag aangekondig hy sal ag slaan op die versoek van die JSE.

AEEI het in Augustus 2017 nog sowat 80% van Ayo gehou. Voor Ayo se notering is aandele uitgereik vir ’n bemagtigingskonsortium en AEEI se aandeelhouding is verwater tot 69,5%. Die private plasing voor sy notering het AEEI se aandeelhouding verder tot 49,3% verwater.

Na 24 Augustus 2018 word Ayo as ’n assosiaat van AEEI aangedui.

Aandeelpryse duik

AEEI se aandeelprys was vroeg in Januarie 2018 op sy hoogste vlak tot dusver van R7,70. Sedertdien het dit met 62% tot R2,88 geval.

Ayo het op 21 Desember 2017, toe hy genoteer het, op R44 gesluit. Sy hoogste aandeelprys, wat kort daarna bereik is, was R45. Sy aandeelprys het sedertdien met byna 68% tot R14,50 geval.

Meer oor:  Aeei  |  Ayo Technology Solutions  |  Ayo  |  Iqbal Survé  |  Magda Wierzycka  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.