Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Air Italy bankrot; Alitalia leef op staatsgeld

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) blyk nie die enigste een in ’n verknorsing te wees nie as daar gekyk word na die probleme by Italiaanse lugdienste.

’n Bemarkingsfoto van einde 2018 toe Air Italy nuwe vlugte na Chicago en Toronto bekend gestel het.Foto: SIMPLY FLYING

Air Italy, ’n lugdiens wat in 2018 geskep is danksy ’n belegging van die Midde-Oosterse lugdiens Qatar Airways, is Dinsdag gelikwideer nadat hy in 2019 ’n verlies van sowat 200 miljoen gely het en in 2018 ’n verlies van 160 miljoen.

Qatar Airways, wat in 2017 ’n belang van 49% in Air Italy gekoop het, het in ’n verklaring gesê hy was bereid om steeds in die lugdiens te belê, maar net as al die aandeelhouers daaroor eens is. Die ander aandeelhouer, die Midde-Oosterse koninklike en miljardêr Aga Khan, besit 51%, maar wil nie nog meer geld in die sukkelende lugdiens pomp nie.

Qatar kan nie sy belang van 49% vergroot nie weens reëls van die Europese Unie.

Air Italy het sy vlugte na New York en Lagos Maandag gestaak, en al sy ander vlugte tot en met 25 Februarie sal deur ander lugdienste oorgeneem word, het hy Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Terwyl Air Italy toegelaat word om gelikwideer te word, soek die Italiaanse regering steeds ’n belegger vir die ander Italiaanse lugdiens Alitalia, wat in 2017 onder spesiale administrasie geplaas is. Alitalia was eens Italië se nasionale lugdiens, maar oorleef op ’n oorbruggingslening van Italiaanse belastingbetalers, bykans soos die SAL.

Alitalia het voorheen ook al hulp van ’n Midde-Oosterse lugdiens gekry in die vorm van Etihad Airways, maar kon ondanks die kapitaalinspuiting van Etihad nie homself omdraai nie, berig Forbes.com.

Alitalia ly verliese van sowat $2,2 miljoen per dag, is in Desember berig, en die Italiaanse regering het al gesê hy gaan nie aanhou om staatsgeld in die lugdiens te stort nie.

Stefano Patuanelli, minister van nywerheid van Italië, sê Alitalia kan teen middel vanjaar toegemaak word as die regering nie ’n koper kry en ’n werkende omdraaiplan ingestel is nie.

Die Europese lugdiensreus Lufthansa het volgens Forbes.com in Januarie gesê hy is bereid om Alitalia te koop mits ’n herstrukturering eers plaasvind. Dit sal onder meer behels om die vloot van 113 vliegtuie tot 90 te verminder en om die personeel met byna die helfte te sny tot sowat 5 000 of 6 000.

Maar net soos in Suid-Afrika het Italië ook magtige vakbonde wat nie so iets sal steun nie.

In die SAL se geval is daar in 2018 in die parlement ook hieroor gedebatteer – om ’n belegging in die lugdiens aantreklik en die moeite werd te maak vir ’n eksterne lugdiens moet dit eers herskik word voordat enigiemand in die SAL sal belê, want ’n belegger van buite wil nie nog daardie koste en risiko op homself neem nie.

Sedertdien het die SAL se situasie so versleg dat dit in Desember in sakeredding geplaas is, met verskeie vliegroetes wat gestaak is en personeelverminderings wat onafwendbaar lyk.

Meer oor:  Italië  |  Afleggings  |  Lugdienste  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.