Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Airlink pak SAL in hof, gereed om roetes oor te neem

Die privaat bestuurde lugdiens Airlink sal steeds vlugte tussen Johannesburg en Port Elizabeth, Entebbe, Ndola en Luanda bedien, selfs al hou sy vennoot die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) op om dit te doen.

Die SAL het Donderdag aangekondig dat hy dié en ander roetes van 1 Maart af nie meer sal bedien nie.

Tans bied Airlink twee vlugte per dag na Ndola, Zambië, aan. Reisigers wat vlugte op die SAL bespreek het, kan dus ná 29 Februarie op Airlink geakkommodeer word.

Airlink staan reg om van die SAL se vlugte oor te neem. Foto: Argief

Airlink bied ook reeds namens die SAL vlugte na Entebbe, Uganda, aan. Dié diens sal ná 29 Februarie sonder ontwrigting voortgaan.

Airlink het onlangs die regte verseker om daagliks regstreekse na Luanda, Angola, te vlieg. Hy sal ná 29 Februarie met dié diens begin.

Roger Foster, uitvoerende hoof van Airlink, sê hy wil reisigers gerusstel dat dié lugdiens voortgaan met sy bedrywighede.

“Ons skedule en bedrywighede word nie beïnvloed deur die SAL se jongste besnoeiings nie,” sê hy.

“Ons vlieg tot 10 Junie 2020 onder die ‘SA8’-vlugkode, waarna dit onder Airlink se unieke ‘4Z’-kode bestuur sal word.”

Kaartjies wat reeds uitgereik is vir reise op SAL-vlugnommers op die betrokke roetes, sal ná 29 Februarie steeds geldig wees. Dit is egter onderhewig aan beskikbaarheid op Airlink, sê Foster.

Hofsaak

Airlink, wat 55 roetes na 39 bestemmings in nege lande bedryf, het ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om geld terug te kry wat hy beweer die SAL hom skuld.

“Die lugdiens word gekenmerk deur die verkoop van hoë volumes bederfbare produkte teen lae marges. Terselfdertyd is daar aansienlike kapitaal- en operasionele koste verbonde aan die bestuur van ’n lugdiens, wat voortdurende afwaartse druk op koste noodsaak terwyl daar genoeg kontant beskikbaar moet wees om dit te dek,” verduidelik Foster.

Airlink kan die koste op kort termyn dek, maar kan nie bekostig om ’n paar maande se omset af te skryf sonder dat dit ’n groot invloed sal hê nie. Die hofaansoek is dus een van die stappe wat gedoen word om die potensiële invloed te verminder.

“Ons sal op 11 Februarie oor ons eis uitbrei wanneer dit in die hooggeregshof gehoor word, maar nie voor dan nie,” sê Foster.

Hy wou ook nie uitbrei oor berigte dat Airlink Air Namibia ook dagvaar nie. – Fin24

Meer oor:  Airlink  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Vlugte  |  Vliegtuie  |  Lugdiens  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.