Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Al hoe meer in SA koop nuwe wiele

Verbruikers lek al hoe meer hul lippe af vir nuwe voertuie pleks van gebruikte motors, en ’n effense afname is reeds te sien in die mark vir gebruikte motors.

Werkers sit ’n Volkswagen Polo aanmekaar in die vervaardiger se aanleg in Uitenhage. Van die nuwe VW Polo is reeds 1 979 eenhede in Mei in Suid-Afrika verkoop en 9 497 uitgevoer. Foto: Waldo Swiegers

Jeff Osborne, hoof van Gumtree Automotive, sê die goue lopie vir gebruikte voertuie in Suid-Afrika verlangsaam nadat verbruikers lank teen enige prys sou koop.

Die mark vir gebruikte motors het floreer vanweë makro-ekonomiese druk op verbruikers, nuwe motors wat baie duur was en aanlyn verhandelingsplatforms soos Gumtree wat ’n toeganklike forum bied vir mense wat gebruikte motors soek.

Rudolf Mahoney, hoof van handelsname en kommunikasie by WesBank, sê daar was die laaste 36 maande ’n verskuiwing van die gebruikte mark na die nuwe mark. Verlede jaar het Wesbank gemiddeld 2,3 finansieringsaansoeke vir gebruikte motors ontvang vir elke nuwe voertuig, maar dit verander nou ten gunste van nuwe voertuie.

Volgens Mahoney sal inflasie op nuwe voertuie in die volgende 12 tot 18 maande taamlik laag wees, wat nuwe voertuigverkope sal aanhelp. Laer rentekoerse is ook altyd positief vir die nuwevoertuigmark.

Verbruikers koop graag nuwe, ou voertuie.
Jeff Osborne van Gumtree Automotive

Die TransUnion-verslag oor voertuigpryse in die eerste kwartaal van 2018 wys die verhouding van gebruikte voertuigverkope tot nuwes was in die eerste kwartaal van 2017 2,49 gebruikte voertuie vir elke nuwe voertuig, maar in die eerste kwartaal van vanjaar het dit gedaal tot 2,09.

Osborne sê dié afname is nie drasties nie en die skaal is nog in die guns van gebruikte voertuie, maar daar is sprake van ’n sikliese skuif. Dit behoort voort te duur solank handelaars prysstygings op nuwe voertuie laag hou.

Volgens die TransUnion-indeks styg pryse van gebruikte voertuie nou vinniger as dié van nuwe voertuie.

  • Inflasie op nuwe voertuie het van 8,8% in die eerste kwartaal van 2017 tot 2,3% in die eerste kwartaal van vanjaar gedaal.
  • Inflasie vir gebruikte voertuie is 2,9%.

Kriben Reddy, ’n senior direkteur van TransUnion, sê voertuigvervaardigers kon prysverhogings op nuwe voertuie beperk danksy laer inflasie, laer rentekoerse en ’n sterker rand.

Osborne sê in ’n verklaring TransUnion se syfers wys ook in die eerste kwartaal was 46% van gebruikte voertuie wat verkoop is, minder as twee jaar oud en 9% was demonstrasiemodelle.

“Verbruikers koop dus graag nuwe, ou voertuie.”

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers is optimisties oor nuwevoertuigverkope wat in Mei 2,4% hoër was op ’n jaargrondslag, maar Ghana Msibi, hoof van verkope en bemarking by Wesbank, sê vir die jaar tot dusver was verkope 1,6% laer as verlede jaar.

Die nuwe Volkswagen Polo verkoop goed.

Volkswagen vaar goed

Intussen het Volkswagen goed gevaar in Mei. Van die nuwe VW Polo is 1 979 eenhede in Suid-Afrika verkoop en 9 497 uitgevoer. Van die VW Polo Vivo is 1 904 in die plaaslike mark verkoop.

Thomas Schaefer, voorsitter en besturende direkteur van die Volkswagen-groep Suid-Afrika (VWSA), sê die jaar het baie goed begin. Die nuwe Polo en Vivo is goed ontvang en sedert 1 April is drie skofte per dag by die Uitenhage-fabriek ingestel om genoeg motors te vervaardig. Alle aflewerings is op datum. Volgens Schaefer kan die fabriek sowat 165 000 voertuie per jaar vervaardig as daar oor naweke gewerk word, maar die vraag na die motors is reeds meer as dit.

Later vandeesmaand begin VWSA se motordeelskema in Rwanda as deel van sy eerste geïntegreerde mobiliteitskonsep vir Afrika. Dit behels dat Rwandese wat nie ’n eie motor besit nie, deur ’n app vir ’n bepaalde tyd ’n motor kan huur.

Meer oor:  Toyota  |  Gumtree  |  Wesbank  |  Transunion  |  Gumtree Automotive  |  Volkswagen  |  Jeff Osborne  |  Motors  |  Naamsa  |  Motorverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.