Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Alex Forbes stel Sanlam-hoë as nuwe hoof aan

Minder as ’n week nadat Alexander Forbes aangekondig het hy het sy uitvoerende hoof afgedank, het die finansiëledienstefirma aangekondig hy het ’n Sanlam-veteraan in die pos aangestel.

Dawie de Villiers, uitvoerende hoof van Sanlam Werknemervoordele, word op 1 November uitvoerende hoof van Alexander Forbes.

Dawie de Villiers, hoof van Sanlam Werknemervoordele, Sanlam se afdeling wat pensioenfondse bestuur, werk nou sy kennismaand by Sanlam uit. Hy neem op 1 November sy stoel by Sanlam se mededinger in.

Dis ’n baie warm stoel: Alexander Forbes het die afgelope twee jaar reeds twee uitvoerende hoofde se hakskene gesien.

Andrew Atta Darfoor (44) is verlede week afgedank omdat die direksie vertroue in hom verloor het, het die firma op 25 September in ’n verklaring gesê. Hy was twee jaar in die pos.

Darfoor se afdanking hou moontlik verband met ontevredenheid van African Rainbow Capital Investments, sy grootste aandeelhouer.

De Villiers is ’n aktuaris wat reeds sedert 1993 by Sanlam werk. Hy is in 2013 as hoof van Sanlam Werknemervoordele aangestel.

Volgens Alexander Forbes is De Villiers ryk aan ervaring in die veld van werknemervoordele en beleggingsbestuur.

Marilyn Ramplin neem as uitvoerende hoof waar tot 31 Oktober.

In ’n afsonderlike verklaring het Sanlam aangekondig Jocelyn Hathaway sal van 1 November af as uitvoerende hoof van Sanlam Werknemervoordele waarneem totdat ’n permanente aanstelling gedoen word. Sy is hoof van finansies en bedrywighede by Sanlam Korporatief.

Temba Mvusi, waarnemende hoof van Sanlam Korporatief, sê De Villiers het in sy 25 jaar by die maatskappy baie waarde toegevoeg. “Ons respekteer en waardeer Dawie se besluit om sy loopbaan verder te bevorder en wens hom sterkte toe vir die toekoms.”

Mvusi verseker dat Sanlam Werknemervoordele ’n sterk span is wat die onderneming sal kan onderhou totdat ’n nuwe leier aangewys word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.