Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Alex Forbes vaar uit teen ‘gegriefde oud-werknemer’
Alexander Forbes se hoofkantoor in Sandton.

’n “Gegriefde oudwerknemer” is moontlik besig om Alexander Forbes en African Rainbow Capital (ARC) te probeer swartsmeer.

Alexander Forbes sê in ’n Sens-verklaring wat Dinsdagaand uitgereik is hy en ARC, een van sy grootste aandeelhouers, is die afgelope paar dae onderhewig aan “negatiewe mediakommentaar”.

“Die berigte is in baie opsigte feitelik verkeerd, bevat spekulatiewe en misleidende kommentaar en maak op onverwante en verouderde inligting staat.”

Hoewel Alexander Forbes dit nie uitstippel nie, is dit waarskynlik ’n verwysing na berigte in Business Report, ’n publikasie van Independent Media, dat Alexander Forbes glo in gesprekke gewikkel is met Sanlam om eersgenoemde se afdeling vir korttermynversekering vir tot R2 miljard te koop.

Dr. Johan van Zyl het glo die transaksie aangedryf. Van Zyl is die voorsitter van Sanlam en mede- uitvoerende hoof van ARC. Hy is ook die uitvoerende hoof van Ubunthu-Botho, Sanlam se grootste aandeelhouer, wat ARC besit.

Business Report haal naamlose bronne aan wat sê Andrew Darfoor is in Oktober verlede jaar as Alexander Forbes se uitvoerende afgedank omdat hy die transaksie teengestaan het. Die firma het met sy afdanking gesê daar was ’n “vertrouensbreuk” met Darfoor.

Die groep se finansiële hoof, Naideen Ford-Hoon, het net ’n week later bedank.

Om dinge te kompliseer, is Dawie de Villiers, voorheen uitvoerende hoof van Sanlam Werknemervoordele, toe as Alexander Forbes se uitvoerende hoof aangestel. Business Report beweer hy was nie eens op die kortlys nie.

Alexander Forbes sê in sy Sens-verklaring: “Dis die maatskappy se standaardbenadering om nie bespiegeling aan te vuur of daaraan deel te neem nie. Die mees onlangse aktiwiteite is egter van so ’n ernstige aard dat die direksie dit wys beskou om daaroor te praat.”

Die finansiëledienstefirma sê “op oorwig van waarskynlikheid” is dit ’n gegriefde voormalige werknemer wat op vertroulike inligting staatmaak met die uitsluitlike doel om die maatskappy en ARC te diskrediteer.

Dit laat die vraag ontstaan of Darfoor ’n verdagte is.

Alexander Forbes waarsku dat die inligting wat uitgelek word, dalk ’n oortreding van die Wet op Finansiële Markte is.

’n Ondersoek is begin en die maatskappy sê hy sal “enige en alle regsweë beskikbaar oorweeg om die maatskappy se vertroulike inligting te beskerm”.

Wat die berigte betref, gee Alexander Forbes die versekering dat hy “die hoogste standaarde van korporatiewe beheer” toepas.

“Geen enkele aandeelhouer het die mag om die direksie te beheer deur aandelebeheer of benoemde direkteure nie. Werklike of potensiële belangebotsings word proaktief bestuur en geen direkteure neem deel aan enige besluite waarby hulle regstreeks of onregstreeks ’n belang het nie.”

Benewens De Villiers, met sy Sanlam-agtergrond, is Bridgette Radebe, suster van Patrice Motsepe, op Alexander Forbes se direksie. Motsepe is saam met Van Zyl mede- uitvoerende hoof van ARC.

Die direksie beveel aan dat beleggers nie op die berigte vertrou nie en dit in dié konteks sien. Hulle voel nie dis nodig om ’n omsigtigheidsverklaring uit te reik nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.