Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Alexander Forbes ‘gereed om te help’

Die finansiëledienstegroep Alexander Forbes se netto wins vir die halfjaar tot einde September was vergeleke met ’n jaar gelede bykans onveranderd op R251 miljoen.

alexander forbes
Alexander Forbes se voormalige uitvoerende hoof, Andrew Atta Darfoor.

Sy bedryfsinkomste was 3% laer op R1,542 miljard en kontant uit bedrywighede het ook met 31% tot R335 miljoen gekrimp.

Maar Alexander Forbes kon darem aandeelhouers met ’n tussentydse dividend van 13c per aandeel beloon, al is dit 28% laer as die halfjaardividend van ’n jaar gelede.

Die kernbedrywighede van die groep is stabiel ondanks die moeilike handelstoestande van die afgelope halfjaar, sê Dawie de Villiers, uitvoerende hoof van Alexander Forbes.

Die groep het te midde van die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie en die inperking vir talle beleggers meegebring het, sy kliënte met advies oor bydrae-vakansies gehelp. Mense wat naby aftrede is, is van advies bedien oor die beste annuïteitsopsies, en waar van toepassing kon hy kliënte help om voordeel uit beter annuïteitskoerse te trek. Kliënte is ook gehelp om in die wisselvallige en dalende aandeelmarkte na meer konserwatiewe en gediversifiseerde beleggingsportefeuljes oor te skuif.

Die verkoop van Alexander Forbes se afdeling vir korttermynversekering gaan volgens die groep nog vir twee boekjare ’n invloed op sy syfers hê. Dit is weens gedeelde sentrale oorhoofse kostes waarvan daar nou minder verhaal kan word.

Sy wesensverdienste per aandeel uit totale bedrywighede het met 41% tot 14,5c gedaal, weens die laer winsbydrae van die korttermynversekering wat verkoop is.

Alexander Forbes sê hy het nog ’n stewige balansstaat met ’n regulatoriese oorskot van R1,453 miljard. Dit is wel 29,5% laer as teen die jaareinde in Maart, maar dis weens die spesiale dividend wat in Julie betaal is.

Die groep se bates onder administrasie en bestuur het van ’n jaar gelede met 3% tot R353 miljard gegroei. Dit is 14% meer as in Maart, danksy beter markopbrengste en ’n toename in nuwe sake-invloei oor die tydperk.

De Villiers waarsku wel dat die groep nog baie werk het om te doen om sy prosesse meer te outomatiseer, digitaliseer en te standaardiseer.

Volgens hom is Alexander Forbes ook reg om kliënte te adviseer oor verskeie regulatoriese veranderings soos die moontlike veranderings in regulasie 28 van die Pensioenfondswet om belegging in infrastruktuurprogramme aan te moedig.

De Villiers sê die groep verwag om die verkoop van sy Namibiese korttermynversekering en die groeprisiko-onderneming teen die einde van die lopende boekjaar af te handel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.