Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Algehele alkoholverbod maak Reuben's erg seer

Somervakansietyd in Franschhoek is sino­niem met sypaadjies wat wemel van vakansiegangers en smulpape wat weglê aan fynproewersdisse by die dorpie se toprestaurante. Maar nou staan sake anders.

Reuben Riffel in ’n tyd toe die gedagte aan ’n landwye alkoholverbod soos ’n Aprilgekgrap sou geklink het.Foto: nasief manie

“Ek het die dorp lanklaas so stil gesien,” sê Reuben Riffel, wêreldbekende sjef, restaurateur en kosbeoordelaar.

Hy en sy vrou, Maryke, bedryf die ikoniese Reuben’s al sedert 2004. Die restaurant is so gewild dat ’n mens maande voor die tyd ’n tafel moet bespreek. Maar met die jongste inperking met ’n 21:00-aandklokreël en ’n algehele verbod op alkoholverkope het talle voornemende eters hul besprekings gekanselleer.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 28 Desember opnuut ’n algehele alkoholverbod ingestel. Dis die afgelope week tot 15 Februarie verleng.

“Die tyd tussen Kersfees en Januarie voordat die skole begin, is ons besigste. Ons is dan vol. Middagetes, aandetes. Heeltyd. Ons het baie van daardie besprekings verloor.”

Franschhoek gaan nou sy stil tyd binne waar dit bietjie soos ’n spookdorp word, sê hy.

Soos duisende restaurante in die land, het die Covid-19-pandemie Riffel erg seergemaak.

Toe restaurante op vlak 5 van die inperking moes sluit, moes hy van al sy bederfbare produkte ontslae raak. “Ons het alles leeggemaak en ons voorraad aan sopkombuise gegee. Maar ’n restaurant is nie ’n ding wat jy sommer net oop- en toemaak nie. Dit kos geld.”

Reuben’s se deure het eers op 6 November weer oopgemaak en dinge het stelselmatig bedrywiger begin raak.

Reuben Riffel in 2010, toe die gedagte aan ’n landwye alkoholverbod soos ’n Aprilgekgrap sou geklink het. Foto: NASIEF MANIE

Intussen het Reuben’s begin om alkoholvrye wyn en bier te bedien. “Ons het al die nie-alkoholiese wyn, bier en vonkelwyn wat ons geproe het en meen aanvaarbaar is, begin aanbied. Dit werk in ’n mate, maar dit kos oorreding. Ons wou darem vir mense dié opsie gee.”

Hy betreur die algehele verbod op alkohol waar selfs restaurante wat aansit-etes bedien nie wyn saam met kos kan aanbied nie. “Mense kom na ons toe vir ’n ervaring en nie om dronk te word nie. Daar moes dieper gedink gewees het.”

Die Riffel-egpaar werk aan ’n sake-idee, maar hy wou nie besonderhede verklap nie. “Ek is versigtig om net in te spring. Dinge sal anders lyk as voor die pandemie, maar dit verg tyd en beplanning. Ons vat ons tyd, want ons wil iets unieks doen, verkieslik iets waarby die gemeenskap betrek kan word.”

Riffel is ’n ywerige filantroop wat geruime tyd reeds by ’n jeugakademie en skoolvoedingsprogram in die Wes-Kaap betrokke is. Hy glo Franschhoek sal in Februarie weer besiger raak soos wat Kapenaars die dorpie oor naweke besoek en hulleself wil trakteer op spys en (hopelik) drank. “Ons moet vashou aan die positiewe goed.”

Wendy Alberts, voorsitter van die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa), het aan restaurante gesê die organisasie gaan ’n hofaansoek teen die regering oor die alkoholverbod indien. Sy het ’n beroep op restauranteienaars gedoen om deel te neem aan peilings sodat Rasa inligting kan insamel oor verliese weens die alkoholverbod en die aandklokreël.

Alkoholverkope maak ’n groot deel van restaurante se omset uit en Rasa vra dat die regering restaurante moet toelaat om drank gekontroleerd te kan bedien, berig Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.