Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Alkoholvry? Skink daai dubbel!
Devil’s Peak Hero se alkoholvrye bier vlieg van die winkelrakke af. Foto: Deon Raath

Die regering se verbod op die verkoop van alkohol tydens die inperking was ’n onverwagte meevaller vir die alkoholvrye drankbedryf.

Die verkope van alkoholvrye bier, sider, wyn en vonkelwyn by onder meer Spar, Woolworths en Checkers het die laaste paar weke die hoogte ingeskiet.

Michael Egling, eienaar van KwikSpar in Hillcrest, Durban, het aan Rapport gesê die verkope van sommige produkte het vervierdubbel. “Veral Heineken 0.0 het van die rakke af gevlieg, met Devil’s Peak se Hero en Savanna kort op sy hakke.”

Volgens Egling het supermarkte in die eerste paar weke van die inperking gesukkel om hul voorraad van alkoholvrye drank aan te vul omdat die meeste verspreiders die alkoholvrye produk saam met alkoholiese drank vervoer. “Dit het gelukkig verander in die laaste drie weke waar verspreiders nou begin het om vir permitte aansoek te doen sodat hulle die voorraad by ons kan uitkry.”

Janine Corodonna, woordvoerder van Pick n Pay, het gesê die vraag na alkoholvrye drank het al die afgelope jaar bestendig toegeneem, maar met die inperking het dit éérs geklim. “Die verkope van alkoholvrye bier het met 91% gestyg, waarvan die Devil’s Peak- en Heineken-handelsmerke die gewildste is.”

Verbruikers koop ook fluks die Van Loveren-wynlandgoed se alkoholvrye wyn Almost Zero en Abstinence, ’n alkoholvrye jenewer, het Caradonna gesê.

Volgens Checkers verkoop bier – Heineken, Bavaria en Castle Free – baie goed, terwyl JC le Roux se alkoholvrye vonkelwyn ook byval vind.

Woolworths het aan Rapport gesê hy werk nou saam met verspreiders en verskaffers om vervaardiging te verhoog sodat sy winkels in die ongeëwenaarde hoë vraag na alkoholvrye drankies kan bly voorsien.

Gerhard Witte, vennoot by Distri-Liq – ’n landwye verspreider van drank – sê oor die afgelope drie weke het die vraag na en verkope van die volumes van alkoholvrye produkte tienvoudig toegeneem. “Dis ongelooflik, maar hoewel dit landwyd geklim het, is die grootste groei in die Wes-Kaap te bespeur.”

Suid-Afrikaners is ywerige bierdrinkers en die alkoholvrye weergawe is uiters gewild tydens die inperking. Foto: Deon Raath

Distri-Liq, wat tradisioneel alkohol aan restaurante en kroeë gelewer het, moes sy sakemodel blitsvinnig verander weens die inperking. Hy lewer nou aan supermarkte nadat hy ’n permit verkry het om alkoholvrye drank te mag aflewer.

Holger Meier, sakekonsultant wat kleinhandelaars raad oor nuwe produkte gee, het aan Rapport gesê al drink Suid-Afrikaners graag bier, begin hulle eksperimenteer met ander produkte, soos die botanies-gegeurde, alkoholvrye jenewer-en-tonikum Duchess. Dis die breinkind van Johannes le Roux en Inus Smuts. Dit is in 2018 op ’n ekspo in Praag bekroon as die beste alkoholvrye drankie.

Le Roux sê Duchess se verkope het in April met 150% geklim en in Mei met ’n allemintige 300% vergeleke met die ooreenstemmende maande in 2019.

“Ons het aanvanklik gedink ons gaan sukkel met verkope toe die inperking aangekondig is, maar hier in April, toe die mense se alkohol begin opraak het, het hulle begin soek na alternatiewe.”

Duchess sukkel ook om voor te bly met bestellings van kleinhandelaars en sal oor twee weke sy produksie verhoog om uiteindelik 20 000 kiste beskikbaar te hê vir bestellings.

“Gelukkig kan ons vinnig vervaardig,” sê Le Roux. “Ons geure en botaniese bestanddele is vooraf gemeng en ons moet basies net alles bymekaarsit.”

Bonita Malherbe, handelsmerkbestuurder van Van Loveren se Almost Zero, sê dubbel soveel word nou verkoop as oor die Kerstyd, wat tradisioneel hul beste tyd is.

Meer oor:  Checkers  |  Woolworths  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Drankverkope  |  Vlak 4  |  Drank  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.