Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Allergex, Corenza C, Citro-Soda se verkope styg sterk

Die pilvervaardiger Adcock Ingram het sy wins die afgelope ses maande met 12% verhoog, nieteenstaande die lae prysverhogings wat die staat die afgelope jaar op voorskrifmedisyne toegestaan het.

adcock ingram
Andy Hall, uitvoerende hoof van Adcock Ingram.

Adcock vervaardig onder meer Panado, Allergex, Bioplus, Citro-Soda en Compral.

Andy Hall, uitvoerende hoof, sê in die halfjaar tot einde Desember het sy omset met 16% tot R3,6 miljard gestyg danksy ’n verkryging wat ’n jaar gelede gedoen is.

Hy sê dis positiewe resultate in moeilike handelstoestande, wat hy toeskryf aan die gediversifiseerde portefeulje produkte wat die maatskappy maak en verkoop.

“Die resultate is bereik in ’n omgewing van streng prysbeheer en moeilike handelstoestande weens die voortgesette druk op verbruikers.”

Die regering het in Maart 2018 ’n prysstyging van 1,26% aan die bedryf toegestaan. Hulle mag dan nie die pryse van die pille en medisyne wat hulle verkoop met meer as dít verhoog nie. Vanjaar is ’n prysverhoging van 3,7% aangekondig. “Dit vergoed nie vir die bo-inflasie-verhogings in salarisse, lone en ander uitgawes nie,” sê Hall in ’n verklaring.

Dividend
’n Tussentydse dividend van R1 per aandeel is verklaar, wat 16% hoër is as in die ooreenstemmende halfjaar.

Die maatskappy het sy bruto winsmarge tot 38,7% verhoog en dit is toegeskryf aan die beter produksie by sy Clayville-fabriek.

Hall sê die groep bly fokus daarop om bedryfsdoeltreffendhede in sy fabrieke te verbeter, sy gevestigde handelsname te groei en sy produkreeks uit te brei deur verkrygings van produkte wat nié aan prysbeheer onderworpe is nie.

Verkope is gelig deur die verkryging van Genop, ’n maatskappy wat in oogheelkunde en velsorg spesialiseer, in Januarie 2018. As dié onderneming uitgesluit word, het omset met net 7,4% gestyg. Die omsetgroei word toegeskryf aan volumes wat verhoog is.

Hy sê prysverhogings kon deurgegee word op produkte waarvoor nie voorskrifte nodig is, nie maar in ander produkte was die mark baie mededingend en kon pryse nie skerp verhoog word nie. Boonop het mediese fondse druk toegepas om laer pryse vir sekere voorskrifmedisyne te bewerkstellig.

So het sy verskillende afdelings gevaar

  • Oor-die-toonbank-medisyne: Verkope van produkte waarvoor ’n voorskrif nie nodig is nie, maar wat oor die toonbank van ’n apteker gekry moet word, het met 4,9% tot R1 miljard gestyg nadat meer pille verkoop is. “Dit is ’n bevredigende vertoning gegewe die druk waaronder verbruikers is en die probleme om uitvoerpermitte van die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) te kry.” Van sy topprodukte, soos Allergex, Corenza C en Citro-Soda, het dubbelsyfergroei getoon. Die handelswins van die afdeling het met amper 20% tot R216,7 miljoen gestyg.
  • Voorskrifmedisyne: Die omset van dié afdeling het met 33% tot R1,3 miljard gestyg, met die verkryging van Genop wat R257 miljoen bygedra het. Volumes het met amper 6% gestyg danksy antiretrovirale middels, veral Trivenz, wat goed in die private mark verkoop het. Dit het die daling in pryse van 2,5% vir die afdeling teengewerk wat gevolg het nadat mediese fondse die verwysingspryse van sekere generiese voorskrifmedisyne verlaag het. Die afdeling se handelswins het met 13% tot R150 miljoen verhoog.
  • Verbruikersprodukte: Panado, Compral en Bioplus word in dié afdeling ingesluit. Omset het met 6% tot R393 miljoen verhoog. Die omset is verbeter deur ’n gemiddelde prysverhoging van 4%; volumes het met net 2% gestyg. Hall sê dit toon hoe onder druk verbruikers is. Die handelswins het met 12,6% tot R65,8 miljoen gestyg.
  • Hospitaalprodukte: Die afdeling wat medisyne en mediese toerusting aan hospitale verkoop, het sy omset met 11% tot R764,4 miljoen verhoog. Die handelswins het met 26% tot R51,2 miljoen gestyg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.