Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Amsa: Eskom gaan homself in die voet skiet

Eskom weet goed wat gaan gebeur as kragtariewe drasties styg: Groot gebruikers soos ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) gaan geen keuse hê as om minder krag te verbruik nie.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal SA. Foto: Elvira Wood

Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, het Donderdag gesê hy hoop die regering maak dringend plan om Eskom se probleme op te los ten einde die impak van verhogings op Suid-Afrika te verminder.

Verster het die media toegespreek ná die voorlegging van die maatskappy se resultate vir die boekjaar tot einde 2018.

Die maatskappy het ’n enorme finansiële ommeswaai gemaak van ’n wesensverlies van R2,5 miljard ’n jaar tevore tot ’n wesensverdienste van R968 miljoen in 2018.

Verster sê alle sektore, van vervaardiging en mynwese tot die verbruiker, gaan deurloop as Eskom se huidige aansoek slaag.

Steeds dalende kragverkope het Eskom reeds genoop om ’n nuwe, nóg hoër aansoek by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in te dien vir tariefverhogings oor die volgende drie jaar.

Nersa het die eerste week van Februarie sy openbare sittings afgesluit oor Eskom se jongste aansoek om tariefverhogings en het Eskom aan die einde van dié proses gevra om ’n nuwe aansoek in te dien om huidige werklikhede te weerspieël. Dit sluit in dat sy verwagte elektrisiteitsverkope nou laer gaan wees as wat hy voorheen verwag het.

Waar hy aanvanklik ’n verhoging van 15% per jaar oor drie jaar gevra het, vra hy nou 17,1% in die eerste, 15,4% in die tweede en 15,5% in die derde jaar.

Amsa het ’n aansoek by Nersa ingedien om spesiale tariewe vir sy vier aanlegte in die land te onderhandel.

Verster wou nie voorspel wat die invloed op Eskom sal wees as Amsa en ander verbruikers hul kragverbruik verminder nie.

Op die vraag of Amsa dit oorweeg om in die toekoms self krag op te wek, het Verster gesê dit is beslis ’n moontlikheid.

“Ons het egter nog geen spesifieke planne daarvoor nie.”

Amsa se resultate
  • Wesensverdienste van R968 miljoen teenoor ’n wesensverlies van R2,5 miljard
  • Skuld daal met R2,8 miljard tot R475 miljoen
  • Verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) van R3,6 miljard teenoor ’n verlies van R315 miljoen
  • Geen dividend is verklaar nie

Ekonomiese groei

Verster sê die ekonomie moet met minstens 1,8% groei om die plaaslike vraag na staal te stimuleer.

Omdat ekonomiese groei tans minder as 1% is, fokus Amsa veral op uitvoer na die res van Afrika om sy volhoubaarheid te verseker.

Verster sê uitvoer na die res van Afrika het in 2018 met 21% gestyg en dié mark bied groot potensiaal vir Amsa.

Hy sê ondanks die handelstwis tussen Amerika en China, wat daartoe kan lei dat China meer staal in Afrika sal stort, glo hy daar is steeds ’n stewig genoeg aanvraag om Amsa se verkope te steun.

Amsa mik ook daarna om sy produksiekoste teen 2021 met $50 per ton te verminder.

Projekte om aanlegte te optimaliseer het reeds ’n groot bydrae gelewer om dié teiken te bereik.

“Ons is ook baie trots daarop dat ons die goeie resultate wat ons nou bekend gemaak het, kon bereik sonder enige afleggings in die groep,” sê hy.

    Meer oor:  Amsa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Staalbedryf  |  Staal
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.