Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Amsa ‘is oneerlik, Saldanha Staal kán verkoop word’
Saldanha StaalFoto: Verskaf

Dit is nie waar dat Saldanha Staal nie deur ’n ander maatskappy winsgewend bedryf kan word nie.

In ’n brief wat deur ’n werknemer by dié aanleg geskryf is, sê hy onomwonde dit kan gedoen word.

ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het in November gesê hy gaan die aanleg sluit en dat hy nie kan sien dat ’n ander maatskappy dit meer doeltreffend as hy kan bedryf nie.

Dít is egter wat die werknemer skryf:

Die kommentaar van Amsa dat die verkoop van Saldanha Staal “nie kommersieel sin maak nie”, en dat “niemand anders dit sal regkry om dit winsgewend te bedryf nie”, wys duidelik dat hy nie eerlik is met die publiek, sy werkers en die regering nie.

Dit is wel so dat (Saldanha Staal nie mededingend is nie) as dit in konteks gesien word van die uitvoermark wat tans onder groot druk is.

Wat Amsa versuim om te sê is, dat dit wel kommersieel en winsgewend bedryf kan word as Saldanha Staal toegelaat word om op die plaaslike mark mee te ding.

Dis juis die rede waarom Amsa nie Saldanha Staal sal verkoop nie. Dit is logies dat hy nie vir homself mededinging wil skep nie. Dit sal die Vanderbijlpark- aanleg onder meer druk plaas aangesien Saldanha Staal meer winsgewend as Vanderbijlpark bedryf kan word.

Om te voor te hou dat Amsa dit sal “oorweeg om die aanleg te verkoop”, is ’n klug.

Die gekombineerde ondersteuningspakket van die regering en ander (spesifiek vir Saldanha Staal), is meer as voldoende om as ’n sake-eenheid te kan voortgaan.

Amsa was nie genoeë hiermee nie aangesien hy ’n ondersteuningpakket soek vir die hele Amsa-groep, asook groter invoerbeskerming.

Die regering wou nie hiervoor val nie.

Amsa het die politieke kaart gespeel dat Saldanha Staal gesluit sal moet word in die hoop die regering (die hulp) sal heroorweeg. Dit het nie gebeur nie.

Vir Amsa gaan dit hier om te veg vir die bestaan van Vanderbijlpark en in die proses moet Saldanha Staal die prys betaal.

Dit is ook nodig om die volgende in konteks te plaas. Saldanha Staal se tegnologie is 20 jaar oud.

Oor die laaste paar is ongelooflike verbeterings hier aangebring.

Saldanha Staal is een van min aanlegte in die wêreld wat 1 mm en dunner warm gewalste produkte kan vervaardig.

Vanderbijlpark het 40+ jaar oue tegnologie en het ook ’n koolstofvoetspoor wat heelwat groter is. Miljoene rande in boetes vir koolstofbelasting lê nog volgende jaar voor vir Vanderbijlpark.

Verskaffers en/of kontrakteurs in die Vaaldriehoek wat dienste en/of onderdele aan Amsa lewer, se kliëntebasis is aansienlik meer as net Amsa Vanderbijlpark.

In teenstelling hiermee is die oorgrootte meerderheid verskaffers/kontrakteurs aan Saldanha Staal 70% tot 100% afhanklik van dié aanleg.

Om ’n gedeelte tonnemaat aan Saldanha Staal toe te staan vir die plaaslike mark, sal min tot geen uitwerking op die Vaaldriehoek hê, maar sal die mense in die Weskus se voortbestaan kan verseker.

Amsa sê “hy weet hoe beduidend die invloed van die aanleg se sluiting op die Weskus gaan wees”.

Dit is beslis nie waar nie, want Amsa het nog geen onderneming gekontak of ’n opname gedoen nie.

Amsa noem ongeveer 900 mense op die aanleg word hierdeur geraak.

Wat Amsa nie noem nie, is die ongeveer 600 verskaffers en kontrakteurs wat ook geraak word. Statisties is bewys dat vir elke werknemer wat sy werk verloor, daar ’n onregstreekse uitwerking op drie naasbestaandes is. Dit kom daarop neer dat 6 000 mense op een of ander wyse hierdeur geraak gaan word.

Meer oor:  Amsa  |  Saldanha Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.