Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Amsa toon sy staal te midde van pandemie

ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het die afgelope jaar R900 miljoen se vaste koste bespaar vanweë die sluiting van Saldanha Staal.

Saldanha Staal het in 2019 gesluit, waardeur 900 mense hul werk verloor het.

Dit het meegehelp dat die staalreus weer winsgewend kon word, ondanks ’n taai jaar vir die staalbedryf. Maar dit was nie genoeg om aandeelhouers te troos nie - sy aandeelprys het Donderdag op die JSE met 11% tot R2,81 getuimel.

Die staalreus het ’n klein wins van R37 miljoen behaal in die boekjaar tot einde Desember 2020, teenoor die verlies van R632 miljoen die vorige jaar.

Al het sy staalproduksie in dié tyd met 48% tot 2,3 miljoen ton geval en sy verkope met 47% tot 2,2 miljoen ton getuimel, kon Amsa terselfdertyd sy vaste koste skerp met 33% tot R5 miljard sny.

Die internasionale vraag na staal het ook teen die einde van die jaar skerper as verwag in bykans alle markte herstel. Daar was skielik staaltekorte omdat staalfabrieke nie die skerp herstel in vraag verwag het nie.

Die tekort spruit ook uit die hoogste ysterertspryse in nege jaar, en styging in skrootmetaalpryse en ander grondstofpryse.

Teen laat Desember en vroeg Januarie vanjaar het internasionale staalpryse tot vlakke gestyg wat laas in 2008 gesien is, sê Amsa.

Kobus Verster, uitvoerende hoof, verduidelik die groep se hersiening van bates oor die afgelope twee jaar het ook begin vrugte afwerp.

Amsa het wel in die eerste helfte van die jaar ’n verlies gely, want byna alle bedrywighede is vir die eerste keer in sy geskiedenis weens die Covid-19-inperking gestaak.

In die tweede helfte is ’n wins van R1 miljard behaal, en hoewel verkope skerp laer was, is dit deels versag deur beter internasionale staalpryse in rand.

In Suid-Afrika het totale staalverbruik met 20% tot 3,7 miljoen ton gedaal. Die geraamde plaaslike vraag na staal het boonop deur die loop van 2020 kort-kort verander soos blyk uit peilings wat Amsa onder sy klante laat doen het. Sienings oor die staalvraag was deurgaans wisselvallig, veral toe die tweede golf van die pandemie die land tref.

Weens die krimpende staalvoorraad het Amsa sy tweede hoogoond by sy Vanderbijlpark-aanleg vroeër as beplan weer teen Desember aan die gang gesit, gevolg deur die derde basiese suurstof-hoogoond, asook die ysteraanleg vir die maak van platstaal.

Boonop gaan die elektriese hoogoond by sy Vereeniging-aanleg nou voort met produksie om langstaal-voorsiening te steun nadat aanvanklik beplan is om dit teen die derde kwartaal van verlede jaar te sluit.

Saldanha

Volgens Verster is die sluiting van Saldanha Staal die afgelope jaar afgehandel. Die aanleg sal in stand gehou word totdat ’n oplossing gevind word vir volhoubare insetkoste.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika. Foto: Elvira Wood

Alternatiewe werkgeleenthede en waarde-opsies word egter ondersoek, soos om deel van die grond en infrastruktuur by die aanleg te ontwikkel as ’n logistieke nodus vir die Saldanha-hawe, en om ’n onafhanklike kragprodusent toe te laat om sy kragstasie op Amsa se grond te bou as die produsent wel suksesvol is met sy tender vir die huidige bodproses vir noodkrag.

Dit blyk Amsa kon sowat R900 miljoen in vaste koste spaar deur die Saldanha-aanleg te sluit.

Dit vorm deel van die besparing van sowat R2,5 miljard in totale vaste koste.

Amsa vorder met projekte om geld te maak uit sy hoogoond-afval, asook uit staalafval. Hoewel die verkoop van sy nie-kerneiendomme weens die pandemie vertraag is, hoop Verster dat die proses in die eerste helfte van vanjaar sal spoed optel.

Amsa het die soektog na ’n mede-belegger in sy kommersiële kooksonderneming vir eers uitgestel omdat belangstellende beleggers tans sukkel om finansiering te kry.

Meer oor:  Arcelormittal Sa  |  Amsa  |  Vanderbijlpark  |  Saldanha Staal  |  Invoertariewe  |  Staalbedryf  |  Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.