Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
ANC versuim wéér plig met gebrek aan toesig - DA

ANC-LP’s beskerm staatsondernemings wat jare laas hul jaarverslae uitgereik het teen oorsig deur parlementêre komitees, meen die DA, wat dit as “onaanvaarbaar” bestempel.

Die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het Woensdag gehoor slegs Denel se jaarverslag van verlede jaar is uiteindelik die afgelope Vrydag op sy jaarvergadering ingedien. Dit was ná uitgerekte vertragings in sy oudit.

LEES OOK: Denel: Jaarverslag uiteindelik op tafel

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), SA Express, die staatsbosboumaatskappy Safcol en die staatsdiamantfirma Alexkor se jaarverslae was egter nie gereed nie.

Staatsondernemings soos SA Express het jare laas jaarverslae uitgereik.

Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, wat op die komitee dien, sê sy pogings om wetgewing ter tafel te lê wat staatsondernemings strenger aanspreeklik sal hou, is blatant van die hand gewys deur ANC-LP’s op die komitee.

“Hulle het eerder gekies om die moeilike besluite uit te stel deur te beweer dat die speaker eers regsadvies moet verskaf oor die pad vorentoe,” sê Cachalia.

Die versuim om te jaarstate in te dien, soos die wet vereis, belemmer die behoorlike parlementêre toesig oor die openbare entiteite waarin die regering die aandeelhouer is, sê die DA.

Die SAL se jaarverslag en jaarlikse finansiële state van die afgelope drie agtereenvolgende boekjare is steeds uitstaande. Die laaste afgehandelde oudit was vir die 2017-’18-boekjaar.

“Om staatsondernemings verantwoordbaar te hou, is nie ’n partypolitieke saak nie en dis eenvoudig verstommend dat die ANC steeds ’n politieke standpunt inneem oor ’n saak wat alle Suid-Afrikaners raak,” sê Cachalia.

“Staatsondernemings bly ’n las op die fiskus, met miljarde rande in eindelose reddingsboeie. Dit is betreurenswaardig dat die ANC die ondernemings blykbaar wil beskerm teen aanspreeklikheid en die aansien probeer red van ontplooide kaders, asook ’n departement en minister (Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings) wat bedrieglik is.

“Dit is ’n ernstige pligsversuim deur die ANC, veral nadat hy onlangs voor die Zondo-kommissie (van ondersoek na staatskaping) blootgelê is omdat hy die parlement as ’n rubberstempel gebruik het om staatskaping te help en aan te moedig.

“Dit lyk asof die lesse van staatskaping vir die ANC verlore gegaan het.”

Volgens Cachalia maak dit ’n bespotting van die beloftes van hervorming van staatsondernemings wat pres. Cyril Ramaphosa en Gordhan gemaak het.

Meer oor:  Alexkor  |  Denel  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Sa Express  |  Eskom  |  Wapenvervaardiger  |  Diamante  |  Lugdienste  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.