Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
ANN7 en The New Age doen aansoek om likwidasie
Mzwanele 'Jimmy' Manyi

Mzwanele ‘Jimmy’ Manyi, wat die Guptas se ANN7-televisiekanaal en die koerant The New Age gekoop het, het nou aansoek gedoen om dié twee maatskappye te likwideer.

Manyi het hul name sedert hy hulle oorgeneem het na Afro Voice en Afro Worldview verander.

Luidens ’n beëdigde verklaring wat by die hooggeregshof in Pretoria op 11 Julie deur Manyi ingehandig is, is die maatskappy TNA bankrot.

“Daar is geen vooruitsig dat die maatskappy onder die huidige toestande gered kan word nie,” sê hy in die verklaring.

Manyi en verskeie ander direkteure doen ’n beroep op die hof om die maatskappy te likwideer en om só van die belange van sy krediteure en sommige van sy belanghebbendes te beskerm.

TNA besit Afro Voice (The New Age) en Afro Worldview (ANN7).

Manyi het die maatskappye in 2017 by die Guptas se Oakbay Investments gekoop nadat al vier die groot banke geweier het om verder sake met hom te doen.

TNA se finansiële posisie het agteruitgegaan weens ’n gebrek aan bedryfskapitaal.

Luidens die verklaring het Manyi die maatskappy gekoop om werkgeleenthede by TNA te behou.

“Ek en die aansoekers het toe ons die maatskappy gekoop het, geglo ons kon weer vertroue in die mark herstel en aan TNA Media die geleentheid gee om finansieel te herstel en weer winsgewend te word soos wat hy voorheen was,” sê hy.

Die maatskappy is teen ’n verlies van R4,57 miljoen bedryf toe Manyi dit in Augustus 2017 gekoop het.

Die maatskappy se inkomste het in September 2017 van R4,959 miljoen tot R5,565 miljoen gestyg. Manyi sê dit was wees ’n meer optimistiese mark.

Tussen November 2017 en Februarie 2018 het inkomste egter gedaal veral weens minder advertensies.

Manyi het toe gesê dit was omdat sy primêre kliënte wat die regering en semistaatsondernemings insluit, nie in die feestyd adverteer nie.

Tussen Februarie en Junie vanjaar het inkomste van R5,173 miljoen tot net R255 650 gedaal.

Dit was hoofsaaklik weens ’n daling in die inkomste wat uit advertensies gegenereer word. Die Vrystaat en Noordwes het ook hul subskripsies gekanselleer.

Die TNA Business Briefings is ook gestaak.

Ander ondernemings het ook hul verhouding met die maatskappy beëindig.

Westdawn Investments, wat elke maand R1,7 miljoen se advertensies geplaas het, het nie sy jaarlikse kontrak hernu nadat dit op 28 Februarie verstryk het nie.

Koornfonteinmyne se jaarlikse borgskap vir die TNA Business Briefings is ook nie hernu nie.

Manyi verduidelik in die verklaring dat die negatiewe persepsie oor die vorige eienaars, die Guptas, ook die maatskappy se finansies negatief beïnvloed het.

“Ten spyte van die aansoeker se beste pogings om die respondent van sy ‘verlede’ te skei, het die persepsie gebly dat hy steeds aan sy voormalige eienaars gekoppel is.”

Die bedryfskuld van die maatskappy het in Junie meer as R23 miljoen beloop.

Boonop is TNA Media se bankrekening by VBS Mutual Bank wat in Maart in kuratele geplaas is.

Manyi sê bedrywighede is nadelig beïnvloed nadat die bankrekeninge bevries is.

Manyi sê hy en ander direkteure het probeer om die maatskappy na sy “vorige glorie” te herstel.

Hy het onder meer die finansieringsooreenkoms wat hy met Oakbay Investments gehad het, afbetaal.

“Ek het die hoop uitgespreek dat die vereffening enige vermoedens van langdurige betrokkenheid van óf Oakbay óf die Gupta-familie ter syde sal stel en dat dit die broodnodige markvertroue sou skep.

Die herposisionering van ANN7 en The New Age se doel was juis om dié persepsies te verander.

Die saak word op 24 Julie in die hof aangehoor.

– Fin24


Meer oor:  Ann7  |  New Age  |  Jimmy Manyi  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.