Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Arbeidsverhoudinge gaan vanjaar uitdagend wees
windkrag
Werkers by ’n windplaas in die Karoo. Die groenkragbedryf voer aan hy kan meer krag aan Eskom lewer om beurtkrag te help verlig as hy toegelaat sou word. Foto: SAWEA/KEITH ARKIN

In die eerste helfte van die jaar gaan die SAL en Eskom ’n brandpunt in arbeidsverhoudinge wees.

Eskom se herstruktureringsplan behoort nou meer duidelikheid te begin gee oor wat die veelbesproke ontbondelingsproses gaan behels. Veral die mynwerkersvakbond die NUM en die metaalwerkersvakbond Numsa sal enige vorm van privatisering of personeelvermindering erg teenstaan.

Benewens die verwagting dat Numsa by die SAL ook enige vorm van privatisering sal teenstaan, gaan die groot uitdaging vir al die betrokke vakbonde wees om die sakereddingpraktisyns te oortuig om eerder die topbestuursposte te besnoei en aan die werknemers op laer posvlakke werksekerheid te bied. Dit gaan die praktisyns uitdaag, want volhoubaarheid beteken juis om alle oortollige poste te verminder om só werksekerheid op lang termyn te bewerkstellig.

Wat ander substantiewe afleggings betref, gaan ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) werknemers in onsekerheid hou met die voortsetting van die afleggingsprosesse wat in 2019 begin het. Saldanha- Staal se sluiting behoort teen Februarie gefinaliseer te wees; 565 permanente werknemers en 1 500 kontrakteurs word daar geraak. Dan is daar die verwagting dat ’n afleggingskennisgewing vroeg vanjaar by Amsa se Newcastle-aanleg uitgereik kan word – kort op die hakke van die onlangse afleggingsprosesse by sy Vanderbijlpark- en Vereeniging-aanleg.

Staatsentiteite soos PetroSA, Prasa en Transnet is ook kandidate vir afleggingsprosesse in 2020.

Dan is daar maatskappye in die private sektor soos Sasol, Tiger Brands en vele marginale myne waar afleggings nie ’n verrassing sal wees nie.

Weens die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie en die Eskom-faktor behoort salarisverhogings in 2020 oorwegend inflasieverwant te wees, wat dit vir vakbonde moeilik gaan maak om hul lede se verwagtinge te temper. Die minister van staatsdiens en administrasie gaan egter ’n nog moeiliker taak hê om staatsamptenare en staatsdiensvakbonde se salarisverwagtinge in toom te hou.

Die druk sal vanjaar stewig op die lugvaartbedryf wees. Salarisonderhandelinge begin binnekort by Air Traffic Navigation Services (ATNS), SAA Tegnies en FlySafair, en in September vanjaar sit Comair aan die onderhandelingstafel.

In Februarie begin onderhandelinge ook by die hospitaalgroep Netcare, en dit sal ’n aanduiding wees of die groep hom al begin staal en posisioneer vir die impak van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Tradisionele hospitale trek reeds swaar weens die mededinging wat daghospitale bied.

In Maart behoort salarisonderhandelinge by Telkom af te skop. Twee jaar gelede was die twee telekommunikasievakbonde CWU en Sacu met hul rug teen die muur en het hulle geweier om die ongunstige salarisooreenkoms te onderteken wat toe eensydig deur Telkom ingestel is. Die twee vakbonde sal nou die bordjies wil verhang.

Gideon du Plessis

April se onderhandelinge onder die vaandel van die sukkelende Bedingingsraad vir Metaal- en Ingenieurswese, gaan kritiek vir die staalbedryf se volhoubaarheid wees. Hopelik het Numsa met sy onlangse SAL-staking geleer wat gebeur as jy op die dek van die Titanic staak.

Aan die mynboufront begin onderhandelinge by Sasol se steenkoolmyne in April. Dit beloof om uitdagend te wees weens die maatskappy se finansiële posisie en mededingende vakbonde soos Solidariteit, die mynwerkersvakbonde Amcu en die NUM, en die chemiesesektorvakbonde, Sacwu en Ceppwawu. In Mei is daar mynbousektoronderhandelinge in die Noord-Kaap by Kumba Iron Ore, Ass­mang en South 32 Hotazel Mangaan, wanneer hulle die NUM, Solidariteit en Amcu (slegs Kumba) moet trotseer.

Salarisonderhandelinge by die wankelende Denel, wat oor ’n maand afskop, beloof om ’n moeilike proses te wees. Afleggings dreig weens probleme met die uitvoer van wapens na veral Midde-Oosterse lande.

Laastens sal die invloed van die Vierde Nywerheidsrevolusie (4NR) toenemend in 2020 ervaar word by maatskappye in veral die vervaardiging- en mynbousektor, wat hul werkplekke deurlopend gaan outomatiseer. Die wenk aan vakbonde is om “vaardigheidsontwikkeling” van nou af die kerndeel van hul salarisonderhandelingseise te maak om werksekerheid vir hul lede te verhoog.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit

Meer oor:  Vakbonde  |  Salarisverhogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.