Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
As Edcon val, gaan plaaslike klerefabrieke bloei

Die klerewerkersvakbond Sactwu is diep bekommerd oor die verknorsing waarin die reusewinkelgroep Edcon hom bevind omdat sy Edgars- en Jet-kettingwinkels die grootste aankopers van plaaslike klerefabrieke is.

Jet en Edgars is die grootste kopers van plaaslik vervaardigde klere. Foto: Argief

Etienne Vlok, ’n senior navorser van Sactwu, sê ’n onlangse ondersoek wat hulle onder die groot kleinhandelaars uitgevoer het, toon Edgars en Jet saam koop die meeste produkte in Suid-Afrika van plaaslike klerefabrieke.

“As hulle weg is, is dit nie net die regstreekse werk in die winkels wat verlore is nie, maar ook werkgeleenthede in fabrieke op plekke soos Port Shepstone en Ladismith.

“Ons is baie bekommerd daaroor. ’n Baie groot deel van die fabrieke in Suid-Afrika se verkope gaan aan hulle.”

Volgens hom besit Edcon ook twee of drie groot fabrieke insluitende ’n skoenfabriek in Durban waar ’n “paar duisend mense werk.”

Edcon het bevestig dat hy 21 000 permanente werknemers het. Die maatskappy het nie die vraag beantwoord oor hoeveel deeltydse poste hy het nie, maar dis na raming ook soveel.

Die Sunday Times het Sondag op sy voorblad berig Edcon is op die rand van ’n ineenstorting en 140 000 poste is in gevaar – 100 000 van hulle die onregstreekse poste by verskaffers en vervaardigers.

Hoe diep Edcon se verknorsing is, blyk uit ’n brief wat die Sunday Times in die hande gekry het wat aan 31 van sy grootste verhuurders gestuur is. Die maatskappy pleit by hulle om die huur vir ’n tydperk skerp te verlaag sodat hy ’n blaaskans kan kry om sy skuld te probeer betaal. In ruil daarvoor kan hulle ’n belang van 5% in die maatskappy kry.

Die maatskappy waarsku glo in die brief dit is moontlik dat hy in likwidasie kan gaan as sy aanbod nie aanvaar word nie.

Die maatskappy soek ook ’n noodlening van R2 miljard van sy eienaars (wat banke is) en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Dié reddingspakket hang daarvan af of die verhuurders die aanbod aanvaar.

Die brief het verhuurders tot Vrydag gegee om ’n ooreenkoms te teken wat aandui hulle is gewillig om dit te aanvaar.

Vlok sê Sactwu is bewus van die onderhandelinge en is ook ingelig oor wat aan die gang is, maar hy wou hom nie oor enige besonderhede uitlaat nie.

“Vir ons is dit baie belangrik dat dit so vinnig moontlik gefinaliseer word. Ons wil niks doen om dit te ondermyn nie.”

Dit is al geruime tyd bekend dat Edcon ernstige finansiële probleme het. In 2016 is sy skuld van R29,2 miljard tot R5,3 miljard verminder toe die banke hul effekte vir aandele verruil het.

Meer oor:  Edcon  |  Sactwu  |  Edgars  |  Kleinhandelaars  |  Klerekleinhandel  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.