Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
As jy ’n kar het, beteken jy meer vir Burger King

Dit was ’n fout om nie van die begin af op Burger King-deurry-restaurante te fokus nie, het Grand Parade Investments (GPI) Maandag toegegee.

Toe die Burger King in Tygervallei geopen het, het Yolande Cloete en Janine Kordon die trein vanaf Eersterivier en toe 'n taxi gehaal om kort voor 8H00 die eerstes te wees om in die tou te staan. Nou sê Burger King dit lyk asof deurry-restaurante – en die middelklas-motoriste wat hul klante is – die afgelope jaar betreklik “immuun” gebly het teen die druk op die instap-restaurante wat tans sy resultate knou.

GPI, wat die eerste Burger King in Suid-Afrika in Mei 2013 in die Kaapse middestad geopen het, hou die meesterlisensie vir dié restaurantgroep in Suider-Afrika. Beleggers is ietwat krapperig omdat dié kitskos-franchise bykans ses jaar later steeds nie ’n wins maak nie.

Juan Klopper, Burger King se bedryfshoof, sê deurry-restaurante is duurder om oop te maak as restaurante in winkelsentrums of alleenstaande restaurante, maar hul opbrengs is baie hoër. Dit lyk ook asof deurry-restaurante – en die middelklas-motoriste wat hul klante is – die afgelope jaar betreklik “immuun” bly teen die druk op instap-restaurante.

In winkelsentrums vreet hoë huur ’n enorme deel van Burger King se inkomste op. Die groep word ook steeds swaar getref deur die suikerbelasting en die verhoging in belasting op toegevoegde waarde, albei in April 2017, en stygings in vleispryse.

Klopper sê hulle kon eenvoudig nie dié stygings aan verbruikers deurgee nie; inteendeel, danksy spesiale aanbiedinge het die prys van ’n Whopper-maaltyd gemiddeld gedaal.

Klopper het met die bekendstelling van GPI se resultate vir die ses maande tot einde Desember gesê hy is optimisties dat Burger King binne die volgende paar maande winsgewend sal wees.

Burger King skep wel heelwat kontant. Die groep se totale inkomste het met 25% tot byna R495 miljoen gestyg, en in vergelykbare restaurante (wat ook in dieselfde ses maande van 2017 oop was) het met 7,6% gestyg. Die gemiddelde inkomste per restaurant het met meer as 8% tot meer as R1 miljoen gestyg.

Burger King wil ’n netto 15 nuwe takke in die volgende jaar oopmaak, maar minstens nege takke wat nie goed vaar nie, sluit.

Die bruto winsgrense het teen Desember tot 54% gestyg en gaan na verwagting oor die volgende ses maande verder styg.

Klopper sê netto wins kan kom, deels danksy die daling in kospryse op groothandelsvlak wat hulle verwag, asook omdat onvolhoubare huurkontrakte binnekort ten einde loop.

Die instelling van die nuwe minimum loon van R20 per uur in Januarie gaan Burger King se loonkoste met 17% laat styg, waarsku Klopper.

Burger King wil ’n netto 15 nuwe takke per jaar oor die volgende drie jaar oopmaak, maar minstens nege takke wat nie goed vaar nie, sluit.

GPI het begin om takke baie stadiger oop te maak, selfs al gee Klopper toe Burger King se gebrek aan sigbaarheid is juis een van die probleme. Burger King het met 90 takke net ’n fraksie van die meer as 884 KFC-takke en meer as 252 McDonald’s (volgens Wikipedia-syfers).

GPI het in sy halfjaarsyfers eintlik toegegee hy is nie goed daarmee om maatskappye te bestuur nie. Die maatskappy sê die likwidasie van Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins “is die eerste tree van ’n breër strategie om na ’n beleggingsbeheerfirma terug te keer”.

Mohsin Tajbhai, waarnemende uitvoerende hoof van GPI, sê hulle bly verbind tot Burger King en tot die uitbreiding van die aantal takke oor die volgende paar jaar. Op lang termyn voorsien hulle egter dat hulle Burger King gaan verkoop en só waarde vir die groep gaan ontsluit. GPI sal dalk ’n minderheidsaandeelhouer bly.

GPI het sy tande geslyp as ’n aandeelhouer in van die Kaap se grootste dobbelfirmas, waaronder SunWest, SunSlots en die Worcester-casino, en dié belange is steeds die pêrel in sy kroon. Dit het byna R74 miljoen tot die groep se wesensverdienste (’n maatstaf van wins wat eenmalige items uitsluit) vir die eerste helfte van sy boekjaar, tot einde Desember 2018, bygedra. Dis ’n styging van byna 30% teenoor dieselfde ses maande van 2017.

Daarteenoor bloei die groep se kitskosbedrywighede miljoene rande. Selfs Burger King, waarvoor GPI die meesterlisensie hou, ly ná ses jaar steeds ’n wesensverlies, en dié verlies het in die ses maande met 66% tot R9,5 miljoen opgeskiet.

Dunkin’ Donuts se wesensverlies het met 21% opgeskiet tot R13,2 miljoen en Baskin-Robbins s’n met 6% tot R6,3 miljoen.

Dit bring die groep se totale wesensdienste op R16 miljoen te staan, 16% hoër.

Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins is ná die einde van die halfjaar gelikwideer nadat GPI nie ’n enkele aanvaarbare aanbod vir dié winkels en sy meesterlisensie gekry het nie en die winkels het hul deure einde Februarie gesluit. As die oliebol- en roomysfranchises uitgesluit word, het GPI se wesensverdienste met 13% tot R34,4 miljoen gestyg.

Coling Priem, finansiële hoof, sê hulle onderhandel tans met winkelsentrums oor die afskryf van huurkontrakte, maar gegewe skeidingspakkette en die afwenteling van huurkontrakte gaan die maatskappy nog verliese hê wat met die mislukte winkels te doen het. Hy is wel optimisties dat daar moontlik ’n koper vir die meesterlisensie is.

In syfers

  • Inkomste styg met 28% tot R707 miljoen
  • Bruto wins styg met 26% tot R335 miljoen
  • Ebitda (verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings) van voortgesette bedrywighede styg met 11% tot R93 miljoen
  • Verdienste per aandeel daal met 12c tot ’n verlies van 8,23c weens afskrywings wat met Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins te doen het
  • Wesensverdienste styg met 16% tot R16 miljoen
  • Wesensverdienste per aandeel van voortgesette bedrywighede styg met 1,28c tot 3,75c per aandeel
  • Geen tussentydse dividend word uitgekeer nie
Meer oor:  Burger King  |  Gpi  |  Kitskos  |  Kospryse  |  Verbruikersbesteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.