Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen beplan afleggings by fabrieke in Oos-Kaap

Een van die groot werkskeppers in die Oos-Kaap, die medisynevervaardiger Aspen, het met ’n afleggingsproses by sy fabrieke daar begin.

Dit is slegte nuus vir die gemeenskappe van Port Elizabeth en Oos-Londen.

Aspen moes verlede jaar miljarde afskryf.

Lorraine Hill, bedryfshoof van Aspen Pharmacare, wou nie die vraag beantwoord hoeveel mense hul werk kan verloor nie. Business Day het berig 219 poste is in gedrang.

Die twee aanlegte verskaf aan altesaam meer as 2 600 mense werk.

Dit is die eerste aankondiging oor poste wat verloor kan word in dié sektor. In die kleinhandel, bankwese, telekommunikasie en die mynbou is die afgelope maande aangekondig dat duisende mense afgelê gaan word.

Aspen het in reaksie op vrae ’n verklaring aangestuur.

In die verklaring sê hy die afleggings is nodig weens ’n “reis wat onderneem word om ons Suid-Afrikaanse vervaardigingsbedrywighede internasionaal mededingend, tegnologies gevorderd en volhoubaar te maak”.

Hill voer aan die omskakeling van fabrieke sal Aspen in staat stel om met die vervaardiging van sekere nis-medisyne te begin.

Die fabrieke in Port Elizabeth en Oos-Londen het reeds met ’n art. 189A-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge begin.

Hill sê die getal mense wat hul werk gaan verloor, sal eers bepaal kan word sodra die konsultasieproses by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) afgehandel is en alle opsies ondersoek is om potensiële werkverliese te keer.

“Ons werk hard om geskikte alternatiewe te vind om die impak van die proses tot die minimum te beperk. Dis nie iets wat Aspen ligtelik opneem nie en is ’n laaste uitweg in ’n transformasiereis wat deursigtig was en werknemers betrek het en waarvoor hul insette gekry is.”

Aspen se hoofkantoor is in Durban en hy verskaf werk aan sowat 10 000 mense in sowat 55 lande.

Die maatskappy bedryf 23 vervaardigingsaanlegte internasionaal en verskaf medisyne aan 150 lande.

In Port Elizabeth word tablette vir die plaaslike en uitvoermark vervaardig en die fabriek het die vermoë om ses miljard tablette te vervaardig en te verpak.

In Oos-Londen word voorbehoedmiddels vervaardig en verpak vir die plaaslike mark. Die fabriek het die vermoë om miljarde tablette te vervaardig, volgens sy webtuiste.

Nog ’n aanleg in die stad vervaardig ook ander medisyne vir die plaaslike mark.

Meer oor:  Aspen  |  Afleggings  |  Farmaseutiese Bedryf  |  Medisyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.