Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen bly fokus op sy skuldlas van R39 mjd.

Die farmaseutiese groep Aspen bly fokus op die vermindering van sy skuld nadat dit reeds in die afgelope halfjaar met 27% verlaag is.

Stephen Saad, uitvoerende hoof, het Donderdag aan beleggers gesê skuldvermindering is “boaan ons gedagtes en al ons planne”.

Aspen se skuld het in die laaste halfjaar van sy boekjaar tot einde Junie met R14,5 miljard van R53,5 miljard tot R39 miljard gedaal.

LEES OOK: Aspen tuimel verder, 35% laer na skok oor wins

Aspen se aanbieding aan beleggers het gevolg op die bekendmaking van sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie Woensdagaand ná die marksluiting. Daarin het die maatskappy aangekondig hy staak dividendbetalings onbepaald om sy skuld af te betaal.

Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen. Foto: Verskaf

Dit is die eerste keer sedert 2009 dat Aspen nie ’n dividend verklaar nie.

Sy aandeelprys het Donderdagoggend met 10% tot R93,47 gestyg, maar is steeds rondom ’n negejaarlaagtepunt. Die direksie het Woensdagmiddag oor die dividend besluit.

Saad het nie in sy voorlegging na die dividend verwys nie.

Gus Attridge, adjunk- uitvoerende hoof, het in sy deel van die aanbieding kortliks na die dividend verwys toe hy gesê het dit is ’n prioriteit om skuld te verminder.

Attridge sê die skuldvlakke is in die afgelope halfjaar verlaag danksy ondernemings wat verkoop is en kontant uit bedrywighede.

Hy sê 560 miljoen (aangetoon as R8,9 miljard in die resultate) se skuld moet op 1 Julie 2020 betaal word. “Ons verwag die skuld sal wesenlik gedelg word met kontantvloei en ook ons inisiatiewe om waarde te realiseer.”

Indien dit nie moontlik is nie, is daar sterk ondersteuning en belangstelling van banke om die skuld te herfinansier, sê hy.

Saad sê verdere geleenthede vir waarderealisering word ondersoek in sekere gebiede waar hy bedrywig is en met sekere produkte.

Dit sal Europa insluit waar ’n “strategiese hersiening van sy bedrywighede gedoen word”. Dit beteken egter nie disinvestering van die streek nie.

“Aspen bly verbind tot ’n teenwoordigheid in Europa, want dit bied ’n belangrike inkomstestroom.”

Hy soek vennote wat hom kan help om volhoubare groei in sy produkte te bewerkstellig sodat hy groter volumes in sy Europese aanlegte kan vervaardig.

Aspen het ’n vennoot vir sy verdowingsmiddels en trombose-medisyne in Europa oorweeg, maar dié gesprekke is nie voltooi nie.

Saad sê hulle het egter baie uit dié proses geleer, waaronder dat die portefeulje van produkte in Europa opgedeel moet word en dat verskillende vennote vir die verskillende produkte gekry moet word.

Aspen gebruik nou transaksie-adviseurs om vennote te soek, ten einde “die regte transaksies op elke gebied te kry”.

Jaarsyfers

Aspen se inkomste in die boekjaar het met 1% tot R39,9 miljard gestyg.

Die genormaliseerde bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) het met 2% tot R10,8 miljard gedaal.

Van die faktore wat sy vertoning die afgelope boekjaar negatief beïnvloed het, is:

  • In Europa het die pryse van sy kankermedisyne baie gedaal weens mededinging van generiese middels.
  • Probleme by vervaardigingsaanlegte en ’n staking in Suid-Afrika by sy fabrieke.

Die groep het ook R3,1 miljard van sy tasbare en ontasbare bates afgeskryf. Daarvan hou R2,4 miljard met ontasbare bates (dus handelsnaamwaarde) verband.

Die waarde van sy ontasbare bates het van R72,1 miljard aan die einde van die vorige boekjaar tot R67,1 miljard gedaal.

Attridge sê Aspen klassifiseer sekere ontasbare bates as “onbepaalde leeftyd”. “Dit beteken ons is nie seker hoe lank die bates waarde gaan toevoeg nie, maar ons glo dit is ’n uiters lang tydperk.”

Ingesluit in die afskrywings is R754 miljoen van sy onkologieportefeulje waar groter mededinging ’n invloed op pryse gehad het. Sowat R1,2 miljard is op verskillende handelsname afgeskryf waar die verwagte inkomste en wins verlaag is.

Meer oor:  Aspen  |  Aspen Pharmacare  |  Lactalis  |  Farmaseutiese Maatskappye  |  Medisyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.