Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen: Amper R40 mjd. se markwaarde uitgevee

Aspen Pharmacare, een van die reuse op die JSE, het Vrydag op die laagste vlak in meer as vyf jaar gesluit.

Die aandeel het die dag met 17,77% tot R190,83 geval nadat dit ook Donderdag met 14,8% geval het.

Oor die loop van die twee dae is R37,3 miljard se markwaarde uitgewis.

Ter vergelyking is R200 miljard se markwaarde van Steinhoff in Desember uitgewis, maar dit het gekom te midde van ’n aankondiging oor boekhou-ongerymdhede en die bedanking van die maatskappy se uitvoerende hoof, Markus Jooste, voorsitter, Christo Wiese, en later ook finansiële hoof, Ben la Grange, en ander direkteure. 

Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen Pharmacare. Foto: Lulama Zenzile

Aspen se skerp daling volg op die groep se aankondiging dat hy sy afdeling vir formulemelk en ander babaprodukte aan die Franse suiwelreus Lactalis verkoop. Die maatskappy het ook die resultate uitgereik vir sy boekjaar tot einde Junie wat nie aan verwagtinge voldoen het nie, hoewel wins in dubbelsyfers gestyg het.

Sy inkomste het met 3% tot R42,6 miljard gestyg en sy genormaliseerde wesensverdienste per aandeel met 10% tot 1 604,9c.

Aspen se aandeel het Vrydagmiddag vir die eerste keer in jare onder R200 beweeg. Dit het laas op 26 Junie 2013 onder R200 gesluit.

Die daling was teen sluitingstyd die grootste beweging volgens persentasie vir die dag, die tweede grootste volgens markwaarde en die vyfde grootste volgens volume, volgens Sharenet se syfers.

Die daling van nagenoeg R18,8 miljard in markwaarde Vrydag kom nadat die maatskappy Donderdag R18,5 miljard se markwaarde verloor het.

Donderdag het Aspen in ’n stadium met 26% getuimel, die grootste intradagdaling in 20 jaar. Die aantal aandele wat Donderdag verhandel het, was ook sewe keer hoër as die gemiddelde oor 30 dae.

Baba-afdeling meer werd?

Die meeste ontleders reken die aandeelprys het so skerp geval omdat die baba-afdeling, wat S-26, Infacare en Infasoy insluit, vir “net” €739,8 miljoen (sowat $866 miljoen) verkoop word. Teen ’n wisselkoers van R17,40 per euro is dit nagenoeg R12,9 miljard.

Volgens Stephen Saad, Aspen se uitvoerende hoof, is hy nie seker waarom die mark verwag het dat die afdeling tussen $1 miljard en $2 miljard (tussen R14,8 miljard en R29,8 miljard) sou kon haal nie.

Lees ook: S-26, Infacare eersdaags in Franse hande

Nick Kunze van Bridge Fund Managers het aan Bloomberg bevestig hulle het ’n prys van so hoog as $2 miljard verwag, “en hulle het aan die Franse verkoop, nie die Chinese nie”.

Die vraag na formulemelk in China styg skerp danksy die verslapping van geboortebeperkings in dié land.

Saad het Donderdagaand op 702 se The Money Show aan Ray White gesê die R12,9 miljard is ’n “ernstige prys” en “goeie waarde” vir ’n afdeling wat maar 7% van die groep se verkope verteenwoordig. Hy beskou dit ook as ’n uitstekende geleentheid vir werknemers van die afdeling, wat voortaan vir Lactalis sal werk. Geen werkverliese word voorsien nie.

Die prys is meer as 25 keer die baba-afdeling se wins, wat in die boekjaar R512 miljoen beloop het.

Saad sê Lactalis is ’n uitstekende koper. Die maatskappy besit onder meer die suiwelprodusente Parmalat, Président en Société, en het ’n markaandeel van 5% van die suiwel wat wêreldwyd verkoop word, maar het nog geen teenwoordigheid in formulemelk nie.

Die transaksie, wat onderhewig is aan reguleerders se goedkeuring in onder meer Australië, Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Mexiko, sal na verwagting binne ses maande voltrek word.

Aspen wil op sy kernonderneming – farmaseutiese produkte – fokus.

In syfers
  • Inkomste styg met 3% tot R42,6 miljard
  • Bedryfswins styg met 11% tot R9,2 miljard
  • Totale wins styg met 17% tot R6 miljard
  • Genormaliseerde wesensverdienste per aandeel styg met 10% tot 1604,9c

Saad het aangedui dat die groep dalk van sy ander afdelings ook gaan verkoop, maar dit sal nie ’n transaksie van dié omvang wees nie.

Viceroy-gerugte en ander probleme

Aspen word as een van Suid-Afrika se keuraandele beskou en die maatskappy is in die top-40-indeks van die JSE, dus onder die 40 grootste maatskappye in die land volgens markwaarde.

Daar was sedert Maart vanjaar gerugte dat Aspen die volgende slagoffer sou word van die groep kortverkopers wat as Viceroy Research bekend staan. Geen verslag het egter al vorendag gekom nie.

Viceroy het vantevore verslae oor Steinhoff en Capitec uitgereik, waarna dié maatskappye se aandeelpryse gedaal het.

Die Mededingingskommissie het in Junie verlede jaar aangekondig hy ondersoek verskeie farmaseutiese maatskappye vir die buitennsporige prys van kankermedisyne. Benewens Aspen is Roche, Genentech, Pfizer en Equity ondersoek. In Oktober is bevind Aspen het nie sy pryse buitensporig hoog gemaak nie en Equity se middels is nie in Suid-Afrika te koop nie. Die ondersoek na die ander drie duur voort.

Resultate stel teleur

Oor die groep se resultate het Saad gesê hulle vaar beter as enige van hul eweknieë in die mark.

Paul Theron, uitvoerende hoof van Vestact, reken die syfers is deel van die rede vir die daling in die aandeelprys: “Die moeiliker en mededingender daarbuite. Die produksieprobleme wat uit die syfers wys, was ’n bietjie teleurstellend.”

In ’n markverslag verduidelik Vestact ontleders se teleurstelling só: “Tot sowat vyf jaar gelede het Aspen gereeld jaargroei van 30% tot 40% in sy verdienste opgelewer, en die maatskappy was baie geliefd onder Suid-Afrikaanse beleggers.”

Aspen het die afgelope dekade heelwat verkrygings gedoen, onder meer in Australië, Europa, Asië en die VSA. “Nou ding hy op die wêreldverhoog teen ander farmaseutiese reuse mee wat enorme spanne vir navorsing en ontwikkeling van medisyne het (wat Aspen nie het nie). Daardie mededingers is ook ambisieus, het ook goed geplaaste verkoopspanne in elke groot mark, en het ook skeepsvragte kontant om te belê.”

Vestact sê hulle is is steeds sterk ondersteuners van Aspen. Die aandeel het teen R232 (Donderdag se sluitingstydprys) teen ’n prys-verrdienste-veelvoud van net 15,8 verhandel, wat Vestact as ’n “winskopie” beskryf.

Vestact “glo gesondheidsorg is een van die aanloklikste langtermyn-beleggingstemas omdat mense wêreldwyd ryker word, langer leef en soek na terapieë om aan die lewe te bly.”

Die groep verdien net 24% van sy inkomste in Afrika (grootliks Suid-Afrika), 22% in Europa en 15% in Australië. Dit beteken die groep vaar beter as die rand swak is.

Die groep se inkomste het in die tweede helfte van die boekjaar – ná pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing tot ANC-leier en inhuldiging as die land se president – swakker gevaar gemeet in rand.

Saad sê die eerste helfte van die nuwe boekjaar, wat in Julie begin het, gaan hulle voordeel trek uit die swakker rand.

Meer oor:  Aspen  |  Paul Theron  |  Medisyne  |  Gesondheidsorg  |  Farmaseutiese Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.