Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen kry R1,9 mjd. van staatstender vir vigsmiddels

Die farmaseutiese maatskappy Aspen se deel van die staatstender vir antiretrovirale middels (ARM’s) wat oor die komende drie jaar verskaf moet word, beloop omtrent R1,9 miljard.

Die ARM-kontrak gaan Aspen help om poste te behou, het die maatskappy gesê.

Adcock het Maandag gesê sy deel van die staatstender beloop omtrent R2 miljard.

Die totale staatstender vir die verskaffing van ARM’s in die komende drie jaar beloop sowat R18,3 miljard.

Aspen het by navraag gesê die R1,9 miljard is sy gedeelte van die tender vir die kombinasie-middel wat tenofovir, lamivudien en dolutegravir (TLD) bevat.

Die grootste deel van die volumes waarvoor getender kon word, is vir TLD. Die staat benodig 147 miljoen pakke van die tablette. Daar is sowat 30 tablette in elke pak.

Die maatskappy sê hy het “in ooreenstemming met die nuwe behandelingsprotokolle wat na vore kom en waarheen Suid-Afrika se ARM-program na verwagting gaan verskuif, die meeste van sy fokus geplaas op dié deel van die tender”.

Dolutegravir is ’n belangrike nuwe antiretrovirale medisyne wat ’n ouer middel, efavirens, uiteindelik gaan vervang, het Bhekisisa.org berig.

Dit word deur die aanlyn publikasie Spotlight beskryf as ’n belangrike middel wat die ruggraat van baie lande se MIV-programme gaan word. Dit is goedkoper, doeltreffender en die newe-effekte is nie so erg soos ander middels nie.

Kommer oor die veiligheid daarvan vir swanger vroue het in Mei veroorsaak dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ’n waarskuwing daaroor uitgereik het.

Business Day het in Junie berig die kommer oor die veiligheid daarvan het die departement van gesondheid se planne daarmee vertraag.

Die ondernemings wat kontrakte gekry het, moet dit vanaf Julie begin verskaf.

“Hoewel die ARM-program se TLD-middel lae marges het, is dit belangrik vir Aspen om werk te skep en werk te behou, veral by ons vervaardigingsaanleg in Port Elizabeth,” het Aspen gesê.

Aspen se aandeelprys het Dinsdag amper 3% tot R144,05 gedaal.

Netwerk24 het Maandag berig Adcock se aandeelprys het skerp gestyg nadat aangekondig is wat sy deel van die tender gaan wees.

FNB Sekuriteite het in ’n nuusbrief gesê hoewel die marges baie klein is, word wins ondersteun deur die verhoging in produksievolumes en skaalekonomieë wat dit meebring, asook die besparings wat deur meer doeltreffendheid verkry word.

Investec Sekuriteite het gesê Adcock se deel van die tender is heelwat meer as wat verwag is.

“Omdat dit volumes in hul aanlegte gaan verhoog, kan dit in die algemeen voordele hê vir die marges in die afdeling wat pille verskaf.”

Die ander farmaseutiese maatskappye wat ’n deel van die TLD-kontrak gekry het, is Macleods Pharmaceuticals;

Mylan; Hetero Drugs; Cipla Medpro; Aurobindo Pharma en Sonke Pharmaceuticals.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.