Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen se aandeelprys daal met byna 9%

Die farmaseutiese maatskappy Aspen se aandeelprys het Vrydag skerp geval nadat hy Donderdag ’n handelsoorsig ná die sluiting van die markte uitgereik het wat beleggers bekommerd gemaak het oor sy skuld.

aspen pharmacare
Aspen Pharmacare se hoofkantoor in Durban. Foto: Getty Images

Die skerp daling in sy aandeelprys Vrydagoggend het Aspen genoop om ’n verdere verduideliking uit te reik.

Die verklaring Donderdag is om 17:30 uitgereik nadat die JSE gesluit het. Die verklaring het ’n bedryfs- en handelsoorsig vir Julie tot einde November bevat.

Dit is die heel laaste paragraaf oor ’n reëling met sy finansiering wat blykbaar beleggers die skrik op die lyf gejaag het want dis waaroor die verduideliking Vrydag gehandel het.

Aspen het in Donderdagaand se verklaring gesê hy het met sy finansiers geskakel om ’n tydelike en voorwaardelike verstellings aan sekere van die voorwaardes van sy leningsgeriewe te onderhandel.

Die voorwaardes wat Aspen wil heronderhandel hou met sy verhouding van netto skuld tot wins voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie verband wat bo die vereiste perk van die leningsooreenkomste gaan styg.

Die verstellings aan sy skuldverhouding wat ooreengekom is met sy krediteure is nodig vir ingeval die transaksie om sy babamelkprodukte aan die Franse maatskappy Lactalis te verkoop nie teen 31 Desember afgehandel word nie.

Aspen het in September aangekondig hy gaan sy voedingsprodukte (wat hoofsaaklik sy S-26, Alula en Infacare-produkte is) aan Lactalis-groep verkoop vir R12,9 miljard. Die grootste deel van die opbrengs uit die transaksie gaan gebruik word om sy skuld te verminder.

Vrydagoggend is in ’n verklaring gesê weens die navrae wat gekry is sedert die verklaring Donderdagaand uitgereik is, wil Aspen dit duidelik maak dat ’n “ooreenkoms met die finansiers in November bereik is om oor die tydelike en voorwaardelike wysiging aan hierdie skuldverhouding te onderhandel”.

Aspen het Donderdagaand gesê wesenlike vordering is gemaak om aan die voorwaardes vir die Lactalis-transaksie te voldoen. Volgens Aspen het al sy leners asook die Suid-Afrikaanse Reserwebank en Nestlé ingestem tot, of goedkeuring gegee vir die transaksie.

Die ander uitstaande voorwaardes gaan eers in die eerste kwartaal van 2019 afgehandel word.

“Die mark is die skrik op die lyf gejaag omdat sy skuldverhouding nie vinnig genoeg verlaag nie en die besef dat hy meer ondernemings moet verkoop in die toekoms om sy skuld te delg,” het Greg Katzenellenbogen, ’n direkteur van Sanlam Private Welvaart, aan Reuters gesê.

Katzenellenbogen sê die kommer oor sy skuld vind plaas teen die agtergrond van die swak groei in sy inkomste.

Volgens Reuters het die swak inkomstegroei van tussen 1% en 4% wat vir die tydperk verwag word, ook beleggers teleurgestel.

“’n Maatskappy soos Aspen word as ’n groei-aandeel beskou en dus is inkomstegroei van tussen 1% en 4% net nie genoeg nie,” sê Vasili Girasis, ’n aandeelhandelaar van BP Bernstein.

Aspen het Donderdagaand in sy verklaring aan beleggers gesê hy kyk na geleenthede om niekernbates te verkoop.

In ooreenstemming met dié proses het Aspen aangekondig sy volfiliaal Aspen Global Incorporated wat in Mauritius opgerig is en sy Australiese filiale, het ’n ooreenkoms met die Amerikaanse farmaseutiese maatskappy Mylan gesluit om van sy voorskrif- en oor-die-toonbank-medisyne in Australië en Nieu-Seeland te versprei. Die ooreenkoms bevat ’n koopopsie wat Mylan kan uitoefen om ná Maart 2019 die medisyne te koop. Indien Mylan die opsie uitoefen kan Aspen sowat A$188 miljoen daarmee verdien.

Nieteenstaande die verduideliking Vrydag het sy aandeelprys 8,6% laer op R129,50 gesluit.

Sy aandeelprys het Vrydag sy laagste vlak in ’n jaar bereik van R128,18.

Sy aandeelprys was einde Augustus op sy hoogste vlak in ’n jaar van R298 maar het nadat sy resultate in September uitgereik is, skerp met meer as 30% binne ’n paar dae geval.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.