Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen se uitbreiding bied hoop

Die farmaseutiese vervaardiger Aspen se fabrieksuitbreiding van sowat R3,4 miljard in Port Elizabeth kan dié maatskappy vestig as een van die wêreld se grootste vervaardigers en verspreiders van narkosemiddels, sê Stavros Nicolaou, uitvoerende bestuurder van strategiese handel en handelsontwikkeling.

Aspen se kantore in Johannesburg.

Die ontwikkeling van dié fabriek pas in by die regering se nywerheidsontwikkelingsplan om plaaslike vervaardigingsvermoë, ook in die farmaseutiese bedryf, uit te brei.

Buiten dié nuwe steriele vervaardigingsaanleg wat teen 2022 in bedryf sal wees, het Aspen onlangs R1 miljard belê in ’n afgesonderde fasiliteit in die aanleg waar aktiewe farmaseutiese bestanddele vervaardig word.

Dit is die bestanddele wat medikasie sy terapeutiese effek gee. Eenhede waar dié bestanddele vir menslike gebruik vervaardig word, moet aan streng regulasies voldoen en steriel wees om enige besmetting te verhoed.

Aspen se belegging is onder die projekte wat die PPGI (Openbare Private Groei-inisiatief) so vinnig moontlik wil implementeer om ekonomiese groei aan te moedig.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy Junie-staatsrede na die sukses van die PPGI verwys wat die private sektor se verbintenisse tot meer as 40 projekte oor die volgende vyf jaar gefasiliteer het.

Die inisiatief word ondersteun deur verteenwoordigers uit sektore soos farmasie, bosbou, mynbou, die motorbedryf, toerisme en vervoer en is ’n fasiliteerder tussen die regering en private sektor om beleggings­hindernisse in spesifieke sektore vinniger uit die weg te ruim.

Die doel is om die regering se teiken van R1 000 miljard se nuwe internasionale en plaaslike beleggings in die volgende vyf jaar te laat realiseer.

Nicolaou sê bouwerk aan die nuwe aanleg het in Januarie begin en is op koers.

Hy verduidelik deel van die kompleksiteit van farmaseutiese vervaardiging is die hoogs gereguleerde omgewing om die veiligheid van produkte vir gebruikers te verseker. Wanneer farmaseutiese produkte uitgevoer word, moet verskillende lande se reguleerders die vervaardigingsgeriewe inspekteer. So byvoorbeeld het lande dikwels bykomende veiligheidsvereistes en aanvaar hulle nie noodwendig goedkeuring deur Suid-Afrikaanse inspekteurs nie.

Aspen glo die PPGI sal help om die vertraging met die registrasie van plaaslik vervaardigde produkte vinniger uit die weg te ruim sodat die projek vinniger op dreef kan kom.

Nicolaou sê die huidige knelpunte in hawens wat veroorsaak dat toerusting lank daar vassit, sal hopelik ook met die hulp van die PPGI opgelos word.

Volgens hom is sektore soos mynbou en voertuigvervaardiging tradisioneel prominent in die Suid-Afrikaanse ekonomie, maar as ander sektore – soos die farmaseutiese sektor – hom as wêreldleiers kan vestig, kan Suid-Afrika die ekonomiese groei bereik wat nodig is om maatskaplike probleme uit te wis.

Aspen se produkte is in 150 markte wêreldwyd beskikbaar.

Meer oor:  Aspen  |  Port Elizabeth  |  Gesondheid  |  Skuld  |  Medisyne  |  Farmaseutiese Maatskappye  |  Fabriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.