Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen se wins geknou weens litigasie, afskrywings
Aspen se wins gaan daal na hy R3 miljard van sy ontasbare bates afgeskryf het.

Die farmaseutiese maatskappy Aspen verwag dat sy wesensverdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede in die halfjaar tot einde Desember gaan daal weens die koste van regsgedinge oor sy produkte, en herstrukturering.

Aspen het Vrydag ná die sluiting van die mark ’n vrywillige handelsverklaring uitgereik.

Daarin word gesê die groep het die ooreenstemmende halfjaar tot einde Desember 2018 se syfers heraangegee. Dit sluit in om die impak te toon van ondernemings wat hy in die afgelope halfjaar verkoop het, of besig is om te verkoop.

Aspen het ’n jaar gelede beleggers laat skrik met die aankondiging oor hoe groot sy skuld is.

Daar is daarna begin om bates te verkoop en planne te maak om sy skuld te verlaag.

Einde van sy boekjaar einde Junie 2019 is aangekondig hy staak sy dividendbetalings onbepaald om sy skuld af te betaal.

Van die ondernemings waarvoor die vorige halfjaar se syfers heraangegee is, is sy Japanse onderneming. Aspen het in November aangekondig hy verkoop die onderneming in Japan en die verwante handelsname aan Sandoz van Novartis. Die transaksie is in November aangekondig en einde Januarie afgehandel.

Aspen het ook sy syfers aangepas vir die vorige halfjaar om sy Suid-Afrikaanse verkope van antiretrovirale middels (ARV’s) aan die staat as ’n gestaakte bedrywigheid te toon.

Aspen het in September aangekondig hy gaan die regte vir die kommersialisering en verspreiding van ARV’s aan die staat aan ’n Indiese maatskappy verkoop.

Aspen sal egter voortgaan om die middels te vervaardig.

Die transaksie is nog nie afgehandel nie.

Die uitwerking van dié twee transaksies, asook ander ondernemings wat verkoop is die afgelope jaar, beloop 83,2c per aandeel op sy genormaliseerde wesensverdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede.

Aspen verwag sy wesensverdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede vir die pasafgelope halfjaar gaan met 2% styg of met 2% daal van dié syfer af.

Volgens die groep het “die koste van voortgesette regsgedinge oor produkte en herstrukturering, en transaksieverwante koste” ’n impak in die afgelope halfjaar op sy wesensverdienste per aandeel gehad.

Sy wins per aandeel uit voortgesette bedrywighede is ook vir die ooreenstemmende halfjaar tot einde Desember 2018 heraangegee om die gestaakte bedrywighede te toon. Die syfer is met 55,5c afwaarts aangepas.

Aspen verwag sy wins per aandeel gaan met tussen 7% en 11% daal in die pasafgelope halfjaar weens ’n afskrywing wat vir sy voortgesette bedrywighede getoon word.

’n Afskrywing van R500 miljoen gaan na verwagting aangeteken word weens die inkomste van sekere medisyne wat swakker is as wat voorheen verwag is.

Dit volg nadat die maatskappy reeds in die vorige boekjaar R3 miljard se afskrywings aan ontasbare bates aangeteken het omdat verkope swakker was as wat verwag is.

Aspen het in sy handelsoorsig van Vrydag gesê die resultate vir die groep vir die halfjaar is effens beter as die verwagting wat met die aanbieding van sy resultate vir die vorige boekjaar verskaf is.

Na verwagting gaan sy inkomste met sowat 2% in die halfjaar styg. Ingesluit daarby is die inkomste van sy verkope van medisyne, wat sowat 1% hoër is.

’n Afskrywing van R500 miljoen gaan na verwagting aangeteken word weens die inkomste van sekere medisyne wat swakker is as wat voorheen verwag is.

’n Syfer word nie vir sy inkomste uit vervaardiging gegee nie, maar die groep sê sy inkomste daaruit is “gunstig geraak” deur weer te begin met die verkoop aan derde partye van die aktiewe farmaseutiese bestanddeel (API) vir heparien (’n antistolmiddel om die vorming van klonte in die bloed te voorkom) aan derde partye.

Sy kontant uit bedrywighede het verbeter vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar.

Die omskepping van kontant uit bedrywighede in wesensverdienste gaan na verwagting 80% wees. Vergeleke daarmee was dit 43% in die halfjaar tot einde Desember 2018.

’n Jaar gelede, einde Desember 2018, was sy netto lenings R53,5 miljard. Dié skuld is daarna heelwat verlaag tot einde Junie verlede jaar se R39 miljard.

In die handelsoorsig van Vrydagaand is gesê die netto skuld het intussen tot R38 miljard gedaal.

Die skuldverhouding gaan na verwagting einde van die halfjaar tussen 3,5 keer en 3,6 keer wees, vergeleke met die perk van 4 keer wat deur sy skuldeisers gestel word.

’n Jaar gelede einde Desember is dié perk oorskry.

Einde van die boekjaar was dit 3,62 keer.

Die maatskappy het ’n jaar gelede aan beleggers gesê hy wil op mediumtermyn die verhouding afkry tot 3 keer.

As die opbrengs van die verkoop van sy Japanse onderneming voor einde Desember ontvang gewees het, sou dit die skuldverhouding verder verlaag het tot tussen 3,2 en 3,3 keer.

Die opbrengs is egter eers in Februarie gekry.

Sy resultate word op 5 Maart ná die sluiting van die mark uitgereik, volgens Aspen.

Sy aandeelprys het Maandagoggend met 2% tot R109,76 gestyg.

Meer oor:  Aspen  |  Medisyne  |  Wins  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.