Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen val 8% ná boete van miljoene oor medisyne

Die farmaseutiese maatskappy Aspen se aandeelprys het Woensdag met 8% gedaal ná die aankondiging dat hy sowat R182 miljoen gaan opdok weens teenmededingende gedrag.

Aspen moet in Brittanje ’n boete betaal.

Dit kom ná ’n ondersoek in Brittanje ten opsigte van lewensreddende medisyne.

Die ondersoek is twee jaar gelede deur die Britse mededingingskommissie begin nadat Aspen in Oktober 2016 die reg verkry het om fludrokortisoon-tablette in Brittanje te verkoop. Die maatskappy was reeds die enigste verskaffer van die ander vorm van die medisyne.

Fludrokortisoon is medisyne wat lewens kan red waarop duisende pasiënte staatmaak, lui die kommissie se verklaring. Dit word slegs op voorskrif verkoop en word hoofsaaklik gebruik om Addison se siekte te behandel. Addison se siekte hou verband met probleme met die byniere wat histories terminaal was.

Aspen is al voorheen by ’n skandaal oor die hoë pryse van kankermiddels in Europa betrek.

LEES OOK:

Volgens die kommissie het die ondersoek gehandel oor ooreenkomste wat Aspen in 2016 gesluit het met twee mededingers. Daar is vermoed die maatskappy het mededingingswetgewing oortree deur sy mededingers te betaal om uit die mark te bly.

“Die reëlings het Aspen as die alleenverskaffer van fludrokortisoon gelaat, met die vermoë om pryse te bepaal sonder enige mededinging.”

Luidens die verklaring van die kommissie het Aspen as gevolg van die ondersoek die kommissie genader met ’n aanbod om die saak te probeer skik.

Ná sekere veranderinge het die kommissie nou die voorgestelde aanbod aangekondig. Dit behels:

1. Erkenning van onwettigheid: Aspen moet erken dat hy ’n party was tot ’n onwettige, teenmededingende ooreenkoms by wyse van ’n skikking.

2. Vergoeding om die kommissie se kommer te verlig: Aspen moet hom daartoe verbind om £8 miljoen (R146 miljoen in vandag se wisselkoers) aan Brittanje se nasionale gesondheidstelsel (NHS) te betaal sonder dat die regering ’n hofsaak hoef te bring. “Dit is bedoel om die kommissie se kommer te verlig dat die NHS weens Aspen se gedrag ’n hoër prys vir fludrokortisoon moes betaal.”

3. Herstel mededinging: Aspen moet hom daartoe verbind om te verseker dat daar minstens twee verskaffers van fludrokortisoon in Brittanje is. “Dit is daarop gerig om die probleme met mededinging op te los wat die kommissie geïdentifiseer het en sal die NHS die geleentheid gee om beter waarde vir geld te kry wanneer medisyne gekoop word.”

4. Boete: Aspen sal ’n maksimum boete van £2,1 miljoen (sowat R38 miljoen) betaal sodra die kommissie sy ondersoek afgehandel het en indien ’n amptelike besluit geneem word dat die wet oortree is.

“Die ondersoek is begin omdat ons glo dit is onaanvaarbaar dat die NHS en belastingbetalers wat dit finansier, miljoene ponde meer moet betaal as wat hulle hoef te betaal vir hierdie lewensreddende middel,” sê Andrea Coscelli, uitvoerende hoof van die kommissie.

Volgens haar is dit die eerste keer wat die kommissie se ondersoek ’n betaling vir die NHS verseker.

Sy meen die geld wat Aspen aan die NHS gaan betaal, gaan dié staatsonderneming die tyd en geld bespaar om skadevergoeding in die hof te eis.

Sy sê die kommissie verwelkom dit dat Aspen hom genader het.

Die twee ander maatskappye wat vermoedelik aan die onwettig reëling deelgeneem het, word nog ondersoek.

Aspen het in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens gesê die “verbintenisse” aan die kommissie kom nie neer op ’n skulderkenning oor die beweerde teenmededingende gedrag ingevolge art. 102 van die verdrag oor die werking van die Europese Unie wat die kommissie ondersoek het nie. Dit hou verband met ’n onderneming wat sy oorheersende posisie in die mark misbruik.

Volgens Aspen het hy in ’n gesprek getree om te skik oor die beweerde teenmededingende gedrag ingevolge art. 101 van die verdrag. Dit hou verband met kartelvorming en ooreenkomste om vrye mededinging te ontwrig. Dit is hieruit wat die boete spruit. 

“Binne die konteks dat Aspen histories die enigste fludrokortisoon in Brittanje gehad het, het die maatskappy aanspreeklikheid erken dat hy ’n ooreenkoms gesluit het om ’n potensiële mededinger fludrokortisoon te bekom wat tot gevolg het dat die ooreenkoms tot teenmededingende gedrag lei,” lui sy verduideliking.

Volgens Aspen sal hy die reg op die verskaffing van die vloeistof vorm van die middel verkoop ingevolge ’n voorgeskrewe proses waaroor die kommissie toesig gaan hou.

Nuwe laagtepunt

Aspen se aandeelprys is reeds sedert Maandag onder druk toe dit met 10% gedaal het en op sy laagste vlak sedert April 2010 gesluit het.

Die aandeelprys is ná die daling Woensdagoggend van 8% tot R68,03 op ’n nuwe laagtepunt sedert 2010.

Johann Bierman, ’n aandeelontleder, het Dinsdag op Twitter gesê volgens Bloomberg se syfers is Aspen se totale skuld nou dubbeld sy markwaarde.

Sy aandeelprys het in September 2018 vir twee opeenvolgende dae skerp geval nadat sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitgereik is. Dit neig sedertdien net afwaarts. Hy moes later in September ’n vrywillige verdere verduideliking oor sy resultate uitreik.

LEES OOK: Aspen sé oor reuseverskil tussen skuld, waarborge

Die maatskappy het in Maart met die uitreiking van sy halfjaarresultate aangedui hoe reusagtig sy skuldlas is en dat hy oorweeg om moontlik bates te verkoop om die skuld te diens.

LEES OOK: Aspen soek dringend medisyne vir kopseer met skuld

Toe was sy skuld op R53 miljard terwyl sy wins skerp gedaal het.

In Mei het hy aangedui gesprekke het met ’n moontlike Europese vennoot begin.

Sy aandeelprys het middel Julie vanjaar onder R100 ingeskuif nadat hy vroeër die maand aangekondig het gesprekke met ’n potensiële vennoot in Europa is gestaak.

LEES OOK: Aspen daal skerp ná Europese gesprekke stop

Sy aandeelprys het einde Januarie 2015 ’n hoogtepunt van R443 bereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.