Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen sê oor reuseverskil tussen skuld, waarborge
Aspen Pharmacare se aandeelprys het effens met 1,4% gestyg na hy 'n verklaring uitgereik het om te verduidelik oor sy skuld en waarborge.

Kan dit die oënskynlike reuseverskil van R26,7 miljard tussen Aspen se skuld en die waarborge verskaf aan finansiële instellings wees wat beleggers die afgelope week so omgekrap het?

Die beleërde medisynegroep ontken nou hy het finansiering wat nie op sy balansstaat aangetoon word nie.

Dit is oënskynlik wat beleggers die afgelope week so gepla het en tot die skerp val in sy aandeelprys gelei het.

Die maatskappy het Woensdagoggend vir die eerste keer ’n verklaring uitgereik waarin vrae van beleggers beantwoord is nadat sy aandeelprys die afgelope week skerp gedaal het.

Die aandeelprys het begin val nadat die maatskappy ’n week gelede sy resultate vir die jaar tot einde Junie uitgereik het. Volgens Aspen het hy sedertdien talle navrae gekry oor sekere aspekte van die onderneming. Daarom is besluit om aanvullende inligting uit te reik sodat alle aandeelhouers die inligting het.

Netwerk24 het Dinsdag berig sy aandeelprys het verder geval en sy markwaarde is nou sowat ’n derde minder as ’n week gelede.

Aspen het geen finansiering wat van sy balansstaat geneem is nie en alle waarborge aan finansiële instellings is net op volfiliale van toepassing.
Aspen

Waarborge

Een van die vrae was klaarblyklik oor die waarborge aan finansiële instellings vergeleke met Aspen se skuld.

Luidens die jaarresultate beloop waarborge aan finansiële instellings R73,5 miljard terwyl sy lenings R46,8 miljard beloop nadat kontant in ag geneem is.

“Aspen het geen finansiering wat van sy balansstaat geneem is nie en alle waarborge aan finansiële instellings is net op volfiliale van toepassing,” het die maatskappy nou in die verklaring verduidelik.

Aspen verduidelik die verskil so:

1. Die waarborge is vir die maksimum waarde van alle beskikbare geriewe en kredietlyne en nie net vir dit wat tot dusver gebruik is nie.

2. Die kontantsaldo word van die lenings afgetrek terwyl die waarborge op die volle beskikbare skuldgeriewe is – benut of onbenut.

3. Die waarborge dek ook sekere kredietlyne wat met ongewone skuldgeriewe verband hou, soos afgeleide instrumente.

Inkomste

Blykbaar het beleggers ook vrae gehad oor die vooruitsig vir die inkomstegroei van kommersiële farmaseutiese produkte.

Volgens Aspen is die teiken vir dié produkte organiese groei van tussen 1% en 4% oor die volgende boekjaar. Dit sluit dus groei vanweë verkrygings uit.

Babamelk

Die disinvestering uit formulemelk verlede week het beleggers blykbaar ook ontstig.

Aspen het op dieselde dag as sy resultaataankondiging gesê hy het ’n ooreenkoms onderteken om sy internasionale bedrywighede aan die Lactalis-groep te verkoop vir 739,8 miljoen.

Die netto opbrengs hiervan, ná transaksiekoste en verwante belasting, gaan na verwagting 644 miljoen (R11,2 miljard teen ’n wisselkoers van R17,44 per euro) wees.

Die opbrengs gaan gebruik word om Aspen se skuld te verminder.

Wisselkoerse

Wisselkoersbewegings kan ’n wesenlike impak hê op Aspen se resultate wat in rand gerapporteer word.

Sowat 20% van die groep se inkomste en minder as 20% van sy wins ná belasting word in rand verdien.

Die res word in verskeie geldeenhede verdien waarvan die belangrikste die euro, Australiese en Amerikaanse dollar, die yuan en die jen is.

“As die huidige wisselkoerse voortduur vir die res van die boekjaar, gaan dit ’n positiewe impak op die resultate in rand hê.”

Meer oor:  Aspen  |  Medisyne  |  Aandeelprys  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.