Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aspen: Verkrygings haal hom in
Aspen Pharmacare se hoofkantoor in Durban. Foto: Getty Images

Aspen Pharmacare se aandeelprys het Dinsdag verder geval. Die farmaseutiese reus is nou nagenoeg ’n derde minder werd as ’n week gelede.

Dinsdag se daling van 3,48% teen 13:00 ná dalings van onderskeidelik 14,8% Donderdag en 17,77% Vrydag beteken Aspen se aandeelprys van R185,85 is 32% laer as voor dié slagting.

Die slagting het gekom nadat Aspen sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitgereik en aangekondig het dat hy sy afdeling vir formulemelk vir €739,8 miljoen aan die Franse suiwelreus Lactalis verkoop.

Selfs direkteure se verkrygings het nie die mark se sentiment jeens Aspen omgekeer nie. Chris Mortimer, nie-uitvoerende direkteur, het Vrydag 10 000 aandele teen R2 miljoen aangeskaf en Riaan Verster, maatskappysekretaris, het Maandag 203 aandele teen R40 000 gekoop.

Reuben Beelders, beleggingshoof van Gryphon Batebestuur, sê die faktore wat Aspen se aandeelprys laat daal, is nie noodwendig nuut nie. Die maatskappy se resultate voldoen eenvoudig nie meer aan verwagtinge vir dié eertydse gunsteling van die mark nie.

“Daar is mense wat al lank sê Aspen is duur.”

Hy sê die daling is ’n goeie les vir beleggers om meer krities te dink oor maatskappye en hul resultate en nie meegevoer te raak nie.

“As álmal ’n aandeel jaag, moet jy jouself afvra of ’n prys-verdienste-veelvoud (pv) van 30 geregverdig is vir ’n maatskappy wat eintlik net ’n verspreider van pille is.”

Aspen het byna R50 miljard se skuld gemaak vir sy verkrygings, onder meer van Sigma in 2011 in Australië, GSK se oor-die-toonbank-medisyne in 2012 en Nestlé se babakosafdeling in 2014.

Die pv is ’n maatstaf van hoe duur ’n aandeel is relatief tot sy wins; Aspen was lank volgens verskeie maatstawwe baie duur. Die maatskappy se pv het die afgelope week tot 14,56 gedaal.

Beelders sê daar is groot ooreenkomste tussen Aspen en Steinhoff en EOH.

“Hulle het almal ’n uitvoerende hoof (of het een gehad) wat amper almagtig was en naderhand geglo het hulle loop op water,” sê hy. Dit is met verwysing na Stephen Saad, Aspen se uitvoerende hoof, Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Zunaid Mayet, voormalige uitvoerende hoof van die tegnologiemaatskappy EOH.

Al drie het ook ’n enorme hoeveelheid verkrygings in ’n betreklik kort tydperk gedoen wat, volgens Beelders, basies gebruik is om die swak resultate van die groep se bestaande ondernemings “weg te steek” – hoewel dit natuurlik nie is hoe die bestuur dit verduidelik nie.

Met verkrygings betaal maatskappye dikwels hopeloos te veel – soos Steinhoff vir Mattress Firm in die VSA en Woolworths se verkryging van David Jones in Australië.

Aspen is, soos Woolworths, gewaarsku dat Australië ’n moeilike mark is.

Aspen het byna R50 miljard se skuld gemaak vir sy verkrygings, onder meer van Sigma in 2011 in Australië, GSK se oor-die-toonbank-medisyne in 2012 en Nestlé se babakosafdeling in 2014.

Beelders sê in die proses om verkrygings te doen, moet ’n maatskappy se bestuur uiteraard aannames maak en selfs die bekwaamste bestuurspan is soms verkeerd. Dan moet hulle egter nie probeer om dit weg te steek nie.

Hy sê Johann Rupert het al per geleentheid toegegee dat hy te veel vir ’n maatskappy betaal het.

Daardie soort beskeidenheid kom by Saad, Jooste en selfs Ian Moir, uitvoerende hoof van Woolworths, kort.

Nog ’n probleem is dat Steinhoff en Aspen hul verkrygings op skuld gedoen het, teenoor byvoorbeeld Rupert se meer konserwatiewe benadering.

Beelders sê beleggers is nou meer sensitief as ’n jaar gelede. Dit kan toegeskryf word aan onder meer die Steinhoff-skandaal, die vrae oor die eiendomsmaatskappy Resilient en die kortverkopers Viceroy Research se verslag oor Capitec.

Daarby is beleggers steeds baie bekommerd oor die opbrengs wat hulle die afgelope jare uit aandele verdien.

Meer oor:  Aspen Pharmacare  |  Aandeelprys  |  Maatskappye  |  Verkrygings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.