Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA koop al hoe meer kitskos-hoender
Weens restaurante en kitskosgroepe soos KFC, Nando’s en Hungry Lion wat in die eerste deel van die inperking heeltemal gesluit was, is daar ’n ooraanbod van bevrore hoender.

Kitskosrestaurante soos KFC en Nando’s wat wegneemhoender verkoop, vaar eintlik al hoe beter as voor die Covid-19-pandemie, terwyl restaurante soos van die Spur Corporation en Famous Brands nog sukkel.

Dit is wat betref hoendervleisverkope, volgens Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods.

Astral Foods het sy aandeelhouers beloon met ’n dividend van R7,75 per aandeel vir die boekjaar tot einde September.

Die groep het wel ’n daling van 5% in bedryfswins beleef tot R838 miljoen, en wesensverdienste per aandeel het van R16,74 in die vorige boekjaar tot R14,41 gedaal.

Astral is getref deur die staat van inperking, asook duurder internasionale graanpryse. Schutte verduidelik plaaslike graanpryse, wat Astral se koste van hoenderkos bepaal, word grootliks bepaal deur pryse op die Chicago-handelsbeurs en die rand-dollar-wisselkoers.

Waar goeie mielieoeste aanvanklik verlede jaar die groep nog na laer voerpryse laat uitsien het, het die wêreldsituasie verander. Daar was ’n sterk vraag vanuit China wat groot bestellings van soja en mielies op die internasionale markte geplaas het, wat ook pryse opgejaag het.

Voerkoste vorm sowat 65% van die totale produksiekoste van braaikuikens, sê Schutte. Hy verwag wel afwaartse druk op plaaslike mieliepryse, en dit kan oor ses maande vrugte vir die groep begin afwerp.

Weens restaurante en kitskosgroepe soos KFC, Nando’s en Hungry Lion wat in die eerste deel van die inperking heeltemal gesluit was, was daar ’n ooraanbod van bevrore hoender namate produsente voorraad na ander kategorieë moes skuif. Die kitskos-, restaurant- en gasvryheidsbedryf sorg vir sowat 20% van plaaslike pluimveeverbruik.

Oor die verhoging van invoertariewe op hoendervleis het Schutte gesê die Suid-Afrikaanse Pluimveebedryfsvereniging is besig met ’n spesifieke aansoek om ’n ondersoek na storting aan te vra. Dit is omdat hulle meen die invoertarief van 62% wat sedert Maart ingestel is, het nie die gewenste uitwerking om hoenderinvoer met minstens 50% te sny nie.

Die feit dat hoenderinvoer geensins verminder het nie, beteken bloot die oorsese produsente verlaag hul pryse, wat tegnies neerkom op storting in die Suid-Afrikaanse mark.

Schutte, wat in September in ’n motorfietsongeluk in die Karoo betrokke was, sê hy is intussen stelselmatig weer aan die gang nadat hy 21 beenbreuke opgedoen het. Hy was eers in ’n rolstoel, het daarna ’n loopraam gebruik, en loop die afgelope vyf dae met krukke rond.

Schutte, wat ’n geskiedenis van hartaanvalle het en verlede jaar ’n groot hartoperasie gehad het, is in Julie positief vir die koronavirus getoets. Hy sê dat hy dit nie erg gehad het nie. Hy het nou nog nie sy smaakfunksie behoorlik terug nie, maar het nie koors of asemhalingsprobleme gehad nie.

Meer oor:  Astral  |  Hoenders  |  Hoenderbedryf  |  Landbou  |  Pluimvee  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.