Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Astral verlaag Theuns Eloff se salaris verder
Astral se bedrywighede in Mpumalanga. Foto: Deon Raath

Die hoenderreus Astral gaan die vergoeding van dr. Theuns Eloff, voorsitter van die direksie, verder verlaag in ’n poging om dit deur aandeelhouers goedgekeur te kry.

“Ons is genoodsaak om die vergoeding te verlaag,” sê Diederik Fouché, ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Astral. “Ons kan nie ’n voorsitter hê wat nie vergoed word nie – en ons moet volgens die JSE se reëls ’n voorsitter hê.”

Eloff is die voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit en ook die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

Die eerste keer wat die aandeelhouers teen sy vergoeding gestem het, was in Februarie op die algemene jaarvergadering, toe net 73% van aandeelhouers ten gunste daarvan gestem het – 75% moes egter daarvoor stem sodat die resolusie aanvaar kon word.

Die voorgestelde bedrag was tóé “tussen die mediaan en boonste kwartiel van die markdata vir geld wat aan nie-uitvoerende direkteure van ander genoteerde maatskappye van dieselfde grootte in Suid-Afrika betaal word”, volgens ’n omsendbrief van Astral. Dit is toe verlaag tot R1,1 miljoen, wat dieselfde is as verlede jaar se vergoeding.

Maar op 19 April het net 48,45% van die houers van uitgereikte aandele hul stemreg uitgeoefen. Hiervan het 53,1% ten gunste van die voorstel gestem en 2,3% het buite stemming gebly.

Waarom aandeelhouers teen die vergoeding gekant is, is egter glad nie duidelik nie en “baie moeilik” om uit te vind. “Ons verstaan nie die situasie nie,” sê Fouché. “Dit is baie moeilik om vas te stel wie daarteen stem.”

Dit is omdat min aandeelhouers die vergadering bygewoon het, en baie van die stemme van gevolmagtigdes gekom het.

Fouché sê dit lyk asof baie van die aandeelhouers wat ten gunste van die R1,1 miljoen-vergoeding sou stem, nie eens die moeite gedoen het om hul stembriewe te stuur nie.

“Hulle het belangstelling verloor.” Daarom styg die persentasie aandeelhouers wat daarteen stem. Nou gaan die bedrag verder verlaag word.

Jy kan ook nie die vergoeding só maak dat jy nie ’n behoorlike kandidaat kry nie, gegewe die risiko’s.

Volgens Fouché was hul R1,1 miljoen-aanbod wel markverwant. Hy sê hy kan nie die nuwe vergoedingsbedrag bekend maak voordat dit aan aandeelhouers bekend gemaak is nie. Die nuwe bedrag wat oorweeg word, is nou “nader aan die mediaan” sê hy.

“Jy kan ook nie die vergoeding só maak dat jy nie ’n behoorlike kandidaat kry nie, gegewe die risiko’s.”

Die volgende direksievergadering is Woensdag. Eloff sê hy sal aanbly as voorsitter selfs al word die vergoeding verminder. Hy sê aandeelhouers stem teen die vergoeding van “die voorsitter” en nie teen hom as persoon nie.

“ ’n Direksie moet in die beste belang van die maatskappy optree en dit is nie in die beste belang om te bedank nie. Ek glo die direksie en die aandeelhouers sal ’n oplossing vind.”

Ben Pienaar van Proxy View, wat hulle daarvoor beywer om aandeelhouers aan te moedig om ’n meer aktiewe rol te speel om maatskappye verantwoordbaar te hou, sê hy het “van sy stoel geval” toe hy hoor die vergoeding is wéér nie goedgekeur nie.

Hy sê die direksie en bestuur moet meer doen om te verseker dat sy top- 20 aandeelhouers hul stembriewe stuur, moontlik deur ’n derde party om onafhanklikheid te behou.

Pienaar stem saam dat die vergoeding in pas met die norm is.

Meer oor:  Astral  |  Theuns Eloff  |  Direksie  |  Salaris  |  Hoenderbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.